DIE BESTAAN VAN AFRIKAANS (3)

(Lees reeks by Die bestaan van Afrikaans )

 

TAALOORNAME OF -VERPLASING

Dr JC Steyn

Die proses waarvolgens 'n groep mense hul eie taal laat vaar en 'n nuwe taal aanneem, noem ons taaloorname of ook genoem taalverplasing. Taalverplasing hoef nie gepaard te gaan met kulturele of sosiale assimilasie nie. Dit word getoon deur 'n raaiselagtige geval van taalverplasing in Suid-Afrika.

Die Damaras van Suidwes-Afrika het hulleself genoem "swart mense"  (Nu Khoen). Dis ook die Namas se benaming vir hulle, terwyl die Herero's van die 'swart slawe' (Ovazoro) praat. Hierdie 'swart mense' praat dieselfde taal as die 'rooi mense', soos hulle die Namas noem. Ondertrouery en sosiale vermenging het selde plaasgevind in die eeue wat verloop het nadat die Damaras die taal van die Namas aangeneem het.

Waarom die Damaras die taal van die Namas aangeneem het is onbekend. Dr H. Vedder behandel in sy werk oor die voorgeskiedenis van Suidwes 'n paar gissings. Hy het onder die Damara in die Otavi-hoogland sowat 'n dosyn woorde opgeteken wat nie voorkom in Nama of ander tale van die gebied nie. B. Stuck het vasgestel dat hulle met woorde in die Soedantale verwant is.

Na aanleiding daarvan wonder Vedder: "Is die verklaring miskien dat die rondtrekkende Namastamme op hul trektogte iewers in die binneland van Afrika uit die negerstamme bediendes verkry het, wat dan met hulle saam getrek het en geen lus gehad het om hul meesters, wat baie vee besit het, te verlaat nie omdat die kosvoorsiening by 'n ryk veebesitter altyd gewaarborg is? Het deur die verkeer met hul geel base miskien geleidelik in die loop van geslagte die eie taal vergeet geraak en het hulle nie miskien ná verloop van tyd die taal van die meesters aangeneem nie? As dit die oplossing van die raaisel is, dan het ons ook 'n verklaring van die feit dat die Bergdama sonder uitsondering die Nama-taal praat. Ook die opvallende verskil in liggaamsbou van hierdie swart ras, wat varieer tussen die suiwer neger-tipe en die fyn Hereo-tipe kan ons dan verklaar. Ons het dan te doen met mense uit allerlei Afrikastamme wat in die loop van die eeue bediendes van die rondswerwende Hottentotte geword en dan by hulle gebly het. Ook sou dit 'n bietjie lig werp op die sonderlinge feit dat juis hierdie volk, wat onder die volke van Suidwes op die laagste trap van ontwikkeling staan, die kuns verstaan het om yster te smelt en te bewerk. Al die Bergdama het wel nie die kuns verstaan en beoefen nie, maar dit is 'n feit dat die Bergdama die eerste smede in Suidwes was. Het hulle nie hul bedrewenheid saamgebring uit die tuiste van die smede van Afrika, die noordelike gebiede, en het hulle nie die kuns wat hul meesters nie verstaan het nie, beoefen in diens van hul base omdat hul meesters die produkte (asgaaie en pylunte) nodig gehad nie?"

Hierdie verklaring is 'n maklike en bevredigende oplossing vir die raaisel van hul taalverwisseling volgens Vedder, maar die geskiedenis van die Nama staaf nie hierdie veronderstelling nie. As die Bergdamaras saam met die Nama getrek het met hul koms na Suider-Afrika, sou daar in die ou berigte aanduidings gewees het dat daar by die Namas 'n swart volk was. Derglike kennis bestaan egter nie.

Daarom bied Vedder 'n ander hipotese aan. By die oerbevolking van die Boesmans het 'n tak van 'n negeragtige oerbevolking van Midde- of Noord-Afrika aangesluit. Die aard van die land het albei groepe gedwing om dieselfde leefwyse te volg, naamlik jag en veldkos insamel.

Later het ander immigrante uit die huidige Oos-Botswana, Xhosas en vlugtelinge-Wambo's by die oer-Dama aangesluit. Hierdie groepe het met mekaar ondertrou. Later het ook die San-Boesmans wat Nama gepraat het, die land binnegetrek. Hulle was beter ontwikkel as die Damaras en laasgenoemde het die ondergeskiktes van die San geword. Die Damaras het miskien daarom die taal van die San aangeneem.

Die immigrasie het moontlik nie sonder stryd verloop nie, volgens Vedder: "Tot in ons dae het die San van die noorde daarin geslaag om die Bergdama as lyfeienes aan hulle diensbaar te maak en om hulle as slawe te behandel. As die vraag gestel word hoe 'n jagter en veldkos-insamelaar 'n kneg kan besig hou en hom laat werk, dan verwys ek na die gebruik van die San en Boesmans dat 'n skoonseun ná die huwelik nog 'n jaar by hulle moes bly voordat hy met sy jong vrou na sy eie familiegroep mag terugkeer. Wat hy gedurende daardie jaar met sy pyl en boog skiet, moet hy aan die skoonouers lewer. Ook verwys ek na 'n Bergdama wat my eenmaal in die hoogland van Otavi 'n olifantskuil gewys het. Hy het gesê: 'In hierdie val het ek 'n olifant met my asgaai doodgesteek. Van die vlees het ek niks geproe nie want ek was toe in diens van 'n San-Boesman.' "

Ná die San het ook die Nama gekom en daarna het die vlugelinglewe van die Bergdama begin "wat nooit tot 'n volksverband ontwikkel het nie...  Hul swerf- en vlugpaaie kan nie nagespoor word nie want dan sou die geskiedenis van elke afsonderlike familiegroep beskryf moet word, wat maar net 'n aaneenskakeling van veediefstalle, vervolging, vermoording en vlug in ontoeganklike bergklowe was."

In 'n taalverplasingsproses kan die lede van die 'ou' taalgemeenskap op een van twee maniere na die 'nuwe' taalgemeenskap oorbeweeg:

  1. Die nuwe taal goed of minder goed as tweede taal aanleer ná puberteit.
  2. Die nuwe taal van kleins af leer as 'eerste taal', miskien saam met die 'ou taal' wat hulle moontlik mettertyd verleer.

Ons kan om twee redes onderskei tussen die taalverplasingsproses soos dit by kinders en volwassenes geskied. Die eerste is dat die kind nie kan kies watter taal of tale hy gaan verwerf as eerste taal/tale nie. Die kind se ouers maak die keuse. Tweedens is daar 'n wesenlike verskil tussen die manier van verwerwing van 'n eerstetaal of tale voor en ná puberteit. Ná puberteit verloor feitlik elke mens die vermoë om 'n taal sonder aksent aan te leer.

Volgende keer meer oor taalverplasing by kinders.