DIE BESTAAN VAN AFRIKAANS (6)

(Lees reeks by  Die bestaan van Afrikaans )

WINSTE EN VERLIESE IN VERSKILLENDE TAALFUNKSIES
en DIE STATUS VAN 'N TAAL

Dr JC Steyn

Ons gebruik taal vir talle soorte situasies. Die baie woorde wat na taalgebruik verwys, toon dit aan: praat, spreek, preek, skryf, lees, luister, gesels, skerts, vloek, sing, skinder, stry, vra, antwoord ... Daarby kan ons praat met gesinslede, vriende, vreemdelinge, parlementslede, predikante, kroegmaats, kinders, grootouers...; jy kan spreek op 'n politieke vergadering, jy kan iets vra by 'n polisieman, 'n mens lees boeke, jy luister radio en jy kyk-luister televisie.

Op grond hiervan onderskei taalsosioloë soms tussen twee basiese soorte taalfunksies: 'hoë' en 'lae' funksies. Die hoë funksies is die gebruike van taal in staatsinstellings, kerkdienste, universiteitslesings, radio en televisie.
Die lae funksies is soos die gebruik van taal in gesprekke met  vriende en familielede, vir grappe en informele kommunikasie. Albanese Griekse kinders praat omtrent oral Grieks behalwe wanneer hulle skurwe grappe vertel. Die seuns praat nie in Griekse Albanees met meisies nie behalwe as hulle wil aandag trek.

Die hoë funksies is so uiteenlopend van aard dat 'n mens moet onderskei tussen: Ekonomiese funksies in

  • die openbare sektor soos die staatsdiens en munisipaliteite, en
  • die private sektor.

Kulturele funksies soos in

  • die letterkunde
  • massamedia
  • godsdiens
  • onderwys
  • die vermaaklikheidslewe.

Praktiese funksies wat saamhang met die funksies onder 'ekonomiese funksies.'

'n Taal wat vir'n staatsamptenaar ekonomiese funksies het, het vir die publiek praktiese waarde. 'n Mens kan dit gebruik vir telegramme, vir klagtes by die polisiekantoor, briewe aan staatsdepartemente, ens.

Die onderwys dien as skakel tussen die ekonomiese, praktiese en ander kulturele funksies. 'n Taal kan nie ekonomiese funksies hê as dit nie die onderwysmedium is waarin mense vir betrekkings opgelei word nie. Die publiek kan ook net in hul taal briewe aan die staatsdiens skryf as hulle dit léér skryf het.

Hieruit kan mens nou aflei watter soorte prosesse funksiewinste aan 'n taal besorg. Dit kan ekonomiese funksies in die openbare sektor verwerf as sy sprekers ryk word en al meer werk aan ander mense kan verskaf. 'n Stadsraad of regering kan eis dat munisipale of staatsamptenare 'n sekere taal vir aanstelling of bevordering ken. Sulke eise het dikwels 'n invloed op die sosiale beweeglikheid. Die winste in funksies in die openbare lewe en sosiale mobiliteit hang dus af van die verwerwing van politieke mag in die staat, streek, dorp of stad.

TAALHOUDING, STATUS EN TAALGETROUHEID
Andertaliges staan dikwels positief teenoor 'n taal met 'n hoë status en leer dit daarom gretig aan. As hulle nie baie getrou aan hul eie taal is nie, kan hulle dit later prysgee.

Getalsterkte, ekonomiese waarde en kulturele gehalte is van die dinge wat die status van 'n taal bepaal. Daar kleef 'n stigma aan 'n taal as sy eie sprekers dink dat mense hul taal vereenselwig met agterlikheid, ongeletterdheid, armoede en, in 'n stedelike gemeenskap, met bekveldagtigheid.

'n Taal kry sonder twyfel prestige deur faktore wat baie mense sou beskou as van twyfelagtige of bedenklike waarde soos militêre sukses en 'die onregverdige Mammon.'  Napoleon se militêre genie het help bydra tot die prestige van Frans; rykdom, die krag van die Britse vloot en die koloniale ryk het bygedra tot dié van Engels in die negentiende eeu; ekonomiese en militêre mag het Engels sy huidige prestige help besorg. Albei tale is daarby hoogstaande kultuurtale.

Die status van 'n taal word ten dele ook bepaal deur die beeld wat sy eie sprekers en andertaliges van die taal en sy sprekers het – 'n ingewikkelde kwessie, want die wete dat andertaliges min van hulle dink kan by 'n klein groep bydra tot 'n negatiewe beeld van hulself.

Die geskiedenis van die taalgemeenskap is medebepalend vir sy status. Die geskiedenis kan 'n nuwe geslag ontmoedig of inspireer. Sukses in vroeëre taalstryde of selfs tydperke van verdrukking deur 'n ander groep kan dien as mobiliserende krag. Aanhoudende mislukking kan 'n groep byvoorbaat demoraliseer.

In elke taal- en kultuurkontaksituasie is daar altyd oorgangs- of grenspersoonlikhede: mense wat moet kies tussen die twee tale en kulture. Een so 'n grensfiguur is 'n persoon uit 'n benadeelde taalgemeenskap wat getroud is met iemand uit 'n taalgroep met hoë status. As so 'n vader of moeder moet besluit oor die kinders se huis- en onderwystaal, moet hy of sy dikwels bewus of onbewus twee oorweginge teen mekaar opweeg: 'die beswil van my kinders' , en 'die beswil van my taal.'

Dis 'vir die beswil van my kinders' dat mense soms hul kinders na 'n andertalige skool stuur of dat die ouers in 'n taalgemengde huwelik die kinders grootmaak in die taal wat die belangrikste funksies in die gemeenskap beklee. Maar daardie 'beswil' kan van gemeenskap tot gemeenskap en van tyd tot tyd verskillend wees.

Dit kan wees dat die ouer van die verloortaal sterk nasionaalgesind is en voel "Ek is 'n verraaier as ek die taal laat vaar en toelaat dat my kind dit doen; dis nié in belang van my kind om afgesny te word van sy eie familie en my mense nie."

Godsdienstige mense wil graag hê dat hul kinders ook op die regte pad bly. Die taal van die kerk en van die godsdiens oor die algemeen kan 'n belangrike rol in die taalkeuse vir hul kinders speel.

Individuele lede van minderheidsgroepe is soms besonder getrou aan hul taal. Die gesindheid van die wedywerende taalgemeenskappe teenoor mekaar is ook belangrik. As daar 'n groot mate van antagonisme bestaan, is taalverplasing moeiliker omdat mense uit die twee gemeenskappe minder met mekaar sal omgaan en ondertrou.

Tussen verlies van funksies en verlies van sprekers is daar 'n noue verband. As 'n taal nie in 'hoër' funksies gebruik word nie, is daar geen aansporing vir andertaliges om dit aan te leer nie, en mettertyd ook nie vir die nageslag van mense wat vroeër die taal gepraat het nie.

Taalverskuiwings word altyd voorafgegaan deur 'n fase van taamlik algemene tweetaligheid onder sprekers van die verloortaal. Die sprekers van die wentaal bly eentalig. Tweetaligheid skep vir 'n taal 'n groeimoontlikheid wanneer baie andertaliges die taal aanleer maar 'n moontlikheid tot agteruitgang wanneer sy eie sprekers 'n ander taal aanleer sonder dat die andertaliges op hulle beurt die eergenoemde taal aanleer.

'n Taal groei dus wanneer baie mense dit aanleer; terselfdertyd kan die sprekers van die groeiende taal sonder skade eentalig bly.