Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wat verstaan die Bybel onder reg? Waarom wil God dit hê? Sodat mense in gehoorsaamheid aan God se Woord rustig kan saam leef. Gevolglik verskil dit wat vandag met menseregte bedoel word, ingrypend van die Bybel se idee van regte. Vandag word die skepsel bo die Skepper gedien (Rom.1:25)!
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (19)
083 444 7672)
Elke tien duisend myl-reis begin met een treë. Alhoewel hulle stadig en versigtig ry, heeltyd op hulle hoede om nie in ‘n opstandige groep of hinderlaag in te ry nie, rol die kilometers stadig onder die bande deur. Hulle ry meestal op grondpaaie en dikwels waar daar geen pad is nie, maar net soms kan hulle ‘n klompie kilometers op die teer ry.
Elke mens in die konvooi, hetsy man, vrou of kind, kyk voortdurend rond na gevaartekens, iets wat hulle nooit in hulle vorige lewens sou doen nie. Ja, hulle ou lewens is onherroepelik verby. Dis klaar met normale werksure, skoolgaan, huisskoonmaak, maar ook met gereelde badtye, luukshede soos ‘n sagte bed en skoon vloere. Kerktoe gaan is beperk tot Sondagoggende as een van die mans ‘n stukkie uit die Bybel sal voorlees en hulle hakkelend en selfbewus ‘n lied of twee sal sing. En selfs gedurende hierdie halfuur sal die oë ronddwaal na moontlike vyandelike optrede. Indien hulle hierdie lewensingrype gaan oorleef, sal hulle van voor af aan hulle lewens moet begin bou. As en indien.
Daar is min boeke tussen die mense van die groep. Niemand het daaraan gedink dat hulle deur tye sal gaan waar hulle nie kan ry nie omdat hulle wag. Wag vir ‘n bende om in die verte verby te gaan, vir die weer om op te klaar, vir ‘n pad wat begaanbaar kan word, ‘n pap wiel wat geruil moet word. Tye wanneer geselskap opdroog en minute wat soms ure word. Die paar minute vandat dit te donker geraak het om veilig te ry tot slaaptyd. Oë word ingespan en gestrem om die klein letters by die laaste vlamme van die vuur te lees, voordat dit te donker word. Dis wanneer ieder en elk begin verlang om boek te lees.
Boeke wat oor beter tye gehandel het, romanse, uitdagings, gebeure wat afspeel in ‘n beter tyd, met karakters waarvan jy jouself kan inleef. Die paar boeke wat oorhaastig hulle plek gevind het tussen hulle, word oor en oor gelees en elkeen wag hulle beurt af. Waar die lesers in die verlede verveeld geraak het met ‘n boek, sal hulle dit nou stadig lees en in elke woord en paragraaf hulleself verlustig, bloot omdat die stories hulle wegvat na ‘n beter, veilige en voorspoediger tyd. ‘n Tyd toe daar nog hoop was.
Soos die gesegde lui dat alle paaie na Rome lei, is die meeste mense wat vrede en veiligheid soek, op pad berge in. Dis veral vir die Afrikaners ‘n ingebore meganisme waaraan hulle onbewus antwoord gee. Paul se groep loop deur die verloop van weke dikwels ander groepe raak wat net soos hulle, besig is om iewers heen te gaan. Dan word kos, klere, brandstof en ammunisie uitgeruil. Sigarette en alkohol word, soos dikwels in die verlede, gesogte items. Paul het drie boeke by die laaste groep gekry in ruil vir vyftig .22 rondtes. Hier en daar is ‘n groep wat nie veel anders as ‘n roofbende is nie en telkens moes hulle afgeweer word deur geweld of die afdreig daarvan. Dis altyd goed om gewapen te wees, nie om jou wil te laat geld nie, maar om te keer dat iemand anders se wil nie op jou afgesmeer word nie.
Hulle groep het met swaaie en draaie deur die Drakensberge gekom en is nou al naby Newcastle aan hulle westekant. Hulle mik steeds vir die berg aan die noorde van die land, om een of ander onverklaarbare rede.
Paul en die Poena is onafskeidbaar. Hy verstaan baie goed wat die Boer se affiniteit vir sy roer is. Al is die geweer nie toegerus met ‘n teleskopiese visier nie, het sy oë gou gewoond geraak aan die gaatjiesivisier en soek outomaties die middel daarvan op, sonder dat hy daarop hoef te konsenstreer. Sy oë was van kleins af bo-gemiddeld skerp en dit kom hom nou goed te staan. Hy hou van die gladheid en betroubaarheid van die aksie, die reuk van ou geweerkolf-olie, Young’s .303, Ballistol en die reuk van ou staal wat deur die jare al die olie ingetrek het, as so iets moontlik is en al is die geweer al meer as ‘n honderd jaar oud, sal hy moeilik van die ding afstand doen, al is dit vir ‘n nuwer, meer ontwikkelde wapen. Hy sorg dat die geweer skoon bly, en het die gewoonte aangeleer om dikwels die visiere skoon te vryf met sy sakdoek. Indien hy voldoende waarskuwing vooraf kry, hou hy die voorvisier vir ‘n oomblik in ‘n vuurhoutjie of kersvlam, om dit mooi swart te maak. Soos enige geweer, het die Poena tekortkominge, maar hy is bewus daarvan en kompenseer daarvoor.
Hy sien ook dat Hannie nooit sonder haar wapens is nie. Hy wonder of daar ‘n tyd gaan kom dat hulle nie altyd op hulle hoede sal wees nie, dat hy haar sal kan sien met normale dinge in haar hande en oor haar skouer. Hy kom agter dat sy, soos al die ander mense, ‘n bietjie skraler geword het, nie net van minder en gesonder eet nie, maar ook van al die oefening wat hulle kry.
Sy oë dwaal onwillekeurig na die vier kinders wat naby die voertuie in die stof speel. Klein Maggie het ‘n pop wat sy saamgebring het en Reinette enetjie wat een van die vroue vir haar gemaak het. As tienjaar-oue Bertie opstaan, vat hy sy .22 geweertjie saam. Paul wonder hoe die outjie vorentoe die gedagte dat hy op mense geskiet het en miskien doodgemaak het, gaan verwerk.
Hy wat Paul is wil nie eens dink aan sy eie slagoffers nie, nie die stukkende lywe, koppe en verskeurde vleis nie wat die ou .303 gelaat het. Daar gaan nooit iewers in die toekoms ‘n psigiatriese afwentelingsprogram wees, waar hulle hierdie tyd sal kan verwerk nie. Elke man, vrou en kind sal snags in hulle eie beddens die nagmerries wat dit onvermydelik gaan bring, beveg, net soos hulle nou die fisiese vyande baklei.
Paul staan op, skud die negatiewe gedagtes af en loop na waar die vroue kos voorberei.
*
Die geval van Rudi het hulle weereens tot besinning geroep. Diek en sy manne is lus om uit te kom en die gevegte voort te sit. Jan, Rika, Drien en die ander, wat hulle beskerming in hoë mure en regeringsbeloftes gesoek het, besef dat hulle tyd hier klaargeraak het.
Soos dit deel van mense se natuur is, is daar dikwels veiligheid in ‘n bekende omgewing. Die huis is goed gebou, die mure sterk – ook die heining s’n – en daar is luukshede soos sagte beddens, geteëlde vloere, die water in die tenk wat hulle met die kragopwekker of sonpanele uit die boorgat kan aanvul, die vuur en kosmaakplek, die sagte ligte wat die kerse en lampies saans en snags gee.
Rika kom agter dat sy al hoe meer deur die huis sal loop en haar hande oor die mure, die meubels, gordyne en die ander bekende dinge laat gly. Onbewustelik is sy besig om afskeid te neem en sy weet dat wanneer hulle dit agterlaat, die kanse goed is dat dit afgebreek of verbrand sal word. Sy vee ‘n lastige traan van haar wang af, hou haar ken hoog en aanvaar die moontlikheid. Haar lewe is in haar gesin geborge en nie in aardse goed nie. Nogtans…
“Hoe lank nog, Jan?”
“Voordat ons moet gaan?”
“Ja.”
“Ek weet nie, maar ek dink ons moet reken op dae en nie weke nie.”
“Wanneer sal ons weet?”
“Ek kan nie sê nie, maar ek en jy weet albei dat die gevaar al groter word en dat ons beweegspasie al kleiner word. Mettertyd sal ons verswelg word deur die massas wat aan die beweeg is.”
“Waarheen?”
“Ek weet nie. Na jou ouers toe, dink ek.”
“Hoe weet ons dat hulle nog lewe?”
Jan lag. Nie omdat hy dit snaaks vind nie, maar half ironies.
“Jong, jou pa is ‘n moeilike ou man. Hy sal nie sommer gou opgee nie en al vermy mense hom onder normale omstandighede, sal hulle nou rondom hom kom staan, nie om hom te beskerm nie, maar omdat hulle veilig by hom voel. Hy het nog altyd ‘n manier gehad om kalmte in ‘n situasie te bring. En jou ma, klein soos sy is, is rotsvas.”
“Hoe gaan ons daar kom? Dis baie ver, seker meer as vier honderd kilometer.”
“Ek het dit al met Diek bespreek. Hy en sy squad sal saam met ons gaan.”
“Hoekom? Hulle skuld ons mos niks nie?”
“Hy sê dat sodra ons uiteindelik die oorhand het, sal ons van een of ander kant af die land moet skoonmaak. Hy reken van die Noorde af is die beste.”
“Hoe so?”
“Want jou pa is daar.”