Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die HERE nie deur sy groot genade 'n klein oorblyfsel van ons volk beskik het nie, sou daar soos met Sodom en Gemorra van ons niks oorbly nie. Maar Hy hét, ten spyte van ons wederstrewigheid. Leef dan só, dat Hy nie daaroor spyt word nie!
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (20)
083 444 7672)
‘n Vierwieldryf is met min uitsonderings swaar voertuie, dit wil sê hulle weeg baie. Die ekstra gewig van ‘n tweede ewenaar, sterker onderstel (selfs waar dit ‘n sogenaamde “unibody” of “monocoque” konstruksie is, is dit dikker gemaak), die swaarder veerstelsel, en oordrakas, tweede dryfas en ander meganiese goed, maak dit swaar.
Daarby is die goed gewoonlik toegerus met groter enjins, wat veral moet sorg vir meer wringkrag. Die meeste wat uitkom met ses of agt silinder enjins se brandstofverbruik is nie baie slegter as hulle tweewieldryf-eweknieë op die oop pad nie, maar in die veld, waar dikwels na vierwieldryf geskakel word en soms selfs laestrek, kruip hulle nie baie ver met ‘n liter brandstof nie. Paul se Land Cruiser met die groot 5,8 liter Ford V8 gee skaars twee na drie kilometer per liter. Hy is geskok as hy weereens, net soos by Jakobsput, besef die brandstofnaald is net bokant kwart.
“Joe, sien jy iets vreemd aan die Land Cruiser?”
“Hoe bedoel jy?”
“Ek bedoel die ding se dak is af, hy is effens korter, maar lyk steeds baie swaar.”
Joe kyk met meer aandag na die voertuig.
“Wat ek wel kan sien is dat dit nie normale Toyota aste in het nie. As ek moet raai, sou ek sê dis van Nissan Patrol af. Kyk byvoorbeeld die agter-as. Dis ‘n full-floater en nie ‘n semi-floater-as nie.”
“Ek weet glad nie waarvan jy nou praat nie”.
“Kyk mooi. In die middel van die wiel kom ‘n stuk van die as uit, met agt boutjies vasgemaak, amper soos die voor-as. Dit beteken dat die gewig van die voertuig op die huls van die as loop en nie op die sy-as nie. Dit maak dat dit heelwat meer gewig kan dra. Daar is ook meer blaaie in die vere.”
“Dit verklaar nog nie waarom die ding so swaar is nie, al is die aste self ietwat meer gewigtig en sterker.”
Die bergtop maak ‘n lang afdraand, kronkel na links, loop al langs die krans af en uiteindelik na weer regs teen die berg op. Die bergspits aan die oorkant van die kloof is nie meer as sewentig meter van hulle af nie en Paul kan sien daar loop ‘n grondpad aan die oorkant.
Die Mercedes agter hom flits ‘n paar maal met die hoofligte en wys vir Paul om stil te hou.
“Wat is fout?”
“Julle mannetjies het duidelik ons oues nodig, al is ons oë nie meer so goed nie.”
“Wat bedoel jy, Joe?”
“Loop saam met my terug, dan wys ek jou.”
Paul loop saam met Joe tot waar die paadjie langs die krans loop.
“Kyk daar onder in die kloof, of rafyn, of wat jy dit ookal wil noem.”
Ver onder hullle blink die vlekvrye staal van ‘n tenk. ‘n Paar meter daarvandaan lê die uitgebrande wrak van ‘n vragmotor met ‘n leunwa.
“Dink jy wat ek dink?”
“Dit hang af wat jy dink.”
“Ek dink die lorrie het daar afgeval en uitgebrand, maar die kalfie het losgekom en hy is dalkies net nog heel.”
“En wat dink jy is binnekant, en waarom is hy nie leeg nie?”
“Ek dink dis die moeite werd om te gaan kyk. Ek hoop daar is petrol in, want my Mercedes se tenk is feitlik leeg. Joune?”
“Net so onder kwart.”
“Ek dink nie ons kan meer baie ver ry met die petrol wat ons oorhet nie.”
“En die kanne agter-op?”
“Leeg.”
“So, wat sê jy ons klim daar af en gaan kyk of daar petrol in is?”
“Ons het niks om te veloor behalwe tyd nie, en daarvan het ons genoeg.”
Die roete ondertoe is moeilik, maar nie onmoontlik nie. Dis amper ‘n honderd en vyftig meter van waar hulle op die krans geparkeer het, kronkel, soos hulle lysies en skuinstes afgaan, met klippe wat hier en daar onder hulle skoene en stewels uitrol.
Al is Joe ‘n hele klompie jaar ouer as Paul, lyk dit nie asof die geklim hom moeg maak nie. Uiteindelik is hulle onder in die klofie, waar die wrak van die nuwerige White voorhaker lê. Daar is niks aan die ding wat meer bruikbaar is nie en dit was heel moontlik aan die brand gesteek nog voorat dit hier afgeval het.
Die kalfie, wat so tien duisend liters kan vat, het skuins teen ‘n boom en groot klip te lande gekom, en al is dit geduik en hier en daar verfrommel, met twee van die wiele wat van die onderstel afgebreek het, is die tenk self nog heel. Op die kant is in groot sierletters in kursief ‘n logo aangebring: “Witsfuel”. ‘n Duidelike waarskuwing is in Engels en Afrikaans in groot rooi letters: “Dangerous – Flammable”, “Gevaar – Hoogs ontvlambaar”. In nog kleiner, maar duidelike skrif: “Warning, Petrol, No Smoking.”, “Waarskuwing: Petrol, Nie Rook Nie”.
Joe vat ‘n lang, krom stok en slaan teen die kant van die tenk. Aan die bokant klink dit hol, maar na die onderkant is die geluid dowwer.
“Ek sou skat so twee-derdes vol”.
“En hoe gaan ons dit bo kry?”
“Nou, dit gaan nie so maklik wees nie”.
Iemand gee ‘n lang, harde fluit van bo af en tot sy verbasing sien hy dis Hannie. Sy hou haar hande soos ‘n tregter voor haar mond en wys na hulle vèrkant.
“Kyk, daar is ‘n paadjie wat afgaan. Miskien kan ons dit gebruik!”
Paul en Joe loop weg van die wrakke af in die rigting wat Hannie wys. ‘n Baie smal, skuins en uiters gevaarlike paadjie kronkel teen die kant van die berg op.
“Dink jy ons sal dit kan maak?”
“Joe, ek dink miskien ek en jy, of ek of jy, maar nie die ander nie.”
“Nou kom ons probeer. Soos jy sê, ons het net tyd om te vermors, en daarvan het ons genoeg.”
Paul ry voor. Die land Cruiser se ewenaarverhoudings is 4.1:1 (presies dieselfde as ‘n ou Nissan Patrol), wat beteken dat elke keer as die dryfas vier en ‘n tiende keer gedraai het, gee die wiele een omwenteling. Gekoppel aan ‘n oordrakas met ‘n 2.48:1 laestrek en ‘n 4.2:1 eerste rat, en jy het ‘n totale ratverhouding van meer as 47:1.
Paul het dus die voertuig in laestrek eerste rat gesit, en sorg dat sy voete nie naby een van die pedale kom nie; die enjinkompressie rem die voertuig teen die skuinste af. Sodra die spoed ‘n bietjie te vinnig raak, moet hy konstentreer om nie die rem te trap nie. Die gevaar is dat die voorwiele kan sluit en dan gly die hele voertuig waarheen die minste weerstand is en jy kan dit nie stuur nie.
Soos dit is, moet hy die hele tyd aan die stuurwiel draai; links, regs, weer effens regs en dan skerp links, om óm die haarnaalddraai te kom. Een of meer keer – hy neem nie tyd om te tel nie – voel dit asof die Cruiser wil weghardloop, of die voorwiel neig om oor die afgrond te druk.
Uiteindelik, na erge inspanning, sweet en ‘n tyd waarin ‘n mens die pad vier keer kon loop, is hy onder. Verlig trek hy die handrem op, los die kar in vierwieldryf en klim uit met bene wat amper knak soos dit bewe. Dit was die mees senutergende ding wat hy die afgelope tyd gedoen het, die gevegte ingesluit. Hy wuif vir Joe om met die Mercedes af te kom.
Die groot bande en soepel suspensie van die Mercedes laat die hindernis so eenvoudig lyk, dat Marcus met die Isuzu ook aantree om af te gaan. Na ‘n paar meter hou hy egter stil en sy vrou en kinders klim uit – hulle sien nie daarvoor kans nie.
Miskien as gevolg van oorgretigheid, miskien onervarendheid, niemand sal werklik weet nie, maar aan die buitekant van die diep “U”, gly die voorband op gladde rots en voordat Marcus dit kan herstel, gly die hele voertuig stadig oor die kant van die pad. Ten spyte van albei sy voete op die rempedaal en ‘n frenetiese gedraai van die stuurwiel, die feit dat hy met sy linkervoet laat gaan en die kar in trurat druk, die bande wat skreeu vir vastrap, maak nie ‘n aks saak nie. Die voertuig se neus sak eerste, die agterwiele lig ‘n klompie sentimeters, en dan gee die grond onder die voorwiele finaal pad.
Die krans is nie loodreg nie, maar baie na daaraan en soos die voertuig onbeheersd afjaag, probeer Marcus angstig om die rigting waarin dit beweeg te beheer. Hy mis ‘n boom aan sy linkerkant en dan ‘n stewige rots aan sy regter. Vir ‘n oomblik steek die neus teen ‘n volgende rotsbank vas en dan tuimel die kar bollemakiesie vir twee, drie maal, trek vir meer as veertig meter deur die lug voordat dit die bodem tref, maar uiteindelik slaan dit die aarde neus eerste.
“Kom!” skreeu Paul en hardloop die dertig meter na die kar toe. Daar is geen ontploffing, dramatiese stoom of rook nie, net ‘n doodse stilte. ‘n Paar los klippe rol teen die afdraand en val tot op die bodem, waar dit stil gaan lê.
Paul en Joe pluk aan die regterkantse voordeur en na ‘n derde poging kom dit knarsend oop. Dis egter duidelik dat nie Marcus òf sy voertuig die rit oorleef het nie.
*
Hulle het die afgelope maande geen taal of tyding van Hannie gehad nie. Die besoek aan sy neef, Hans het op die verkeerde tyd plaasgevind en die gebeure wat daarna afgespeel het, het alle kommunikasie gestaak. Nie landlynoproepe, selfoon, internet, niks nie.
Die groot aansteekborde wat aangebring is met mense se foto’s, het niks opgelewer nie. Die mooi, gekleurde foto van Hannie, wat hulle gehad het, met haar bos bruin hare en blou oë, is deur een of ander mens afgesteel, sekerlik deur ‘n man wat dit as aandenking wou hê.
Hier in die noorde, waar hy deel geword het van ‘n groep mense wat hulle omgewing oppas, is die vloei van indringers gekeer en hulle beleef relatiewe vrede, al moet hulle die heeltyd op hulle hoede bly. “Eendracht maakt Macht”, is steeds hulle leuse. Ou verskille is vergeet en ou seermaak vergewe. Eertydse vyande en onverskilliges pas nou mekaar se agterhoede op.
Hy dink met ‘n wrang glimlag aan daardie aand toe die makkers hom en die vrou wou kom uithaal, heel moontlik om sy wapens en ammunisie te vat. Dis asof die gebeure hulleself in sy verbeelding afspeel.
Hulle het spaarsamig met die diesel vir die gennie, die parafien van die lampe en die kerse gewerk, aangesien hy geen idee het hoe lank hy daarmee sou moet klaarkom nie. Hulle het net na donker gaan lê en wag vir die slaap wat maar nie wil kom nie, ten spyte van ‘n vol dag waarin die ou man die donkie aanmekaar gesweis het, opgerig het vir warm water (vir wanneer Hannie terugkom), sandsakke volgemaak en gepak en die huis weereens uitgevee en gemop het. Die bietjie skottelgoed wat hy gemaak het, is gewas, afgedroog en weggepak.
Iewers in die laatnag of voordag het hy aan die slaap geraak, net om deur die geknetter en klap van geweervuur, die spat van glasstukke en die frenetiese geblaf van die honde wakker te word.
Die manne het deur die versperrings van blikkies aan ‘n vislyn, rot-slagysters met slagdoppies, en die twee voorafgestelde, tuisgemaakte haelgewere deurgesluip, tot minder as ses meter van sy slaapkamer se skuifdeur, waarna hulle al drie op die slapende figuur binne die huis en op die bed losgetrek het. Die kenmerkende knetter van AK’s, klap van koeëls teen die beddegoed, stukke glas wat oral spat en kombersvesels waar jy kan kyk, het hom uit sy sluimer geruk.
Hy rol van die bed af, pluk die Glock uit die mandjie langs hom, vat korrel op die drie figure wat op die grasperk staan, met sy hande gestut op die bokant van die bed, tussen die doppies wat hulle pas gemaak het en skiet so vinnig as wat hy die sneller kan druk.
Een van die skote moes skrams teen die veiligheidsdeur se tralies vasgeklap het, maar die ander dertien .45 ACP rondtes uit die magasyn (en die een in die loop) klap teen vel, been en vleis. Minder as nege sekondes gaan verby, vandat die eerste 7,62X39 Russiese ammunisie die aanvallers se geweerlope verlaat, totdat hulle al drie op die gras lê.
Hy wag vir meer as ‘n kwartier, en uiteindelik tevrede as die bure opdaag dat daar nie nog manne besig is om ‘n lokval te stel nie, staan dan op en gaan kyk wat die skade is. Behalwe die stukkende skuifdeur, die gate in sy duvet en kombers, lyk dit nie asof enige van die rondtes deur die figuur die naaste aan die deur gegaan het nie.
Hy trek die reste van die kombers weg en kyk na die opgerolde slaapsak, gevul met afvalmateriaal en ‘n ou gekamoefleerde weermag-lyfpantser waarin hy die dummy aangetrek het. Die kevlar-vesel en keramiek plate het al die koeëls gekeer, al is die agterste plaat nou stukkend.
Sy vrou staan in die badkamerdeur, met haar wapen in haar regterhand geklem.
“Nou verstaan ek waarom ek in die bad moet slaap.”
“Is jy okay?”
“Ja, ek wens net ek weet waar my dogter kan wees!”