Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dwase leiers probeer dikwels die ware toedrag van sake met onsinnige argumente en niksseggende redenasies om te keer. Benewens hul verstommende onbekookte optredes, wissel baie van hul uitsprake van lagwekkende onkunde tot weersinswekkende dreigemente.
BROKKIES UIT DIE BOEK –OUMANSLAND (2)
)
Net soos vissermanne die grootte van ‘n vis (wat natuurlik weggekom het) kan oordryf, so oordryf jagters die afstand waarop ‘n bok geskiet is. ‘n Mens kan sê hulle gaan informeel met die waarheid om, of is oor-optimisties oor hulle skietvermoë. In werklikheid kan meeste mense net nie afstand skat nie. As jy op ‘n honderd meter gaan lê en skiet, voel dit soos twee honderd. Twee honderd voel soos ‘n halfmyl en driehonderd is ‘n ewigheid ver.
Dis waar dat daar veral in die VSA mense is wat tesame met fabrieke en toegespitse geweersmede, kalibers ontwikkel (en natuurlik gewere wat ‘n paar honderd duisend dollar kos) op baie lang afstande skiet, selfs sover as oor vier kilometer. Maar dis die absolute uitsondering. Die meeste mense skiet nie maklik raak verder as twee honderd meter nie, en dan ook net ‘n groterige teiken.
Met ‘n handwapen is dit natuurlik eksponensieel moeiliker en dis eintlik totaal onrealisties om verder as dertig meter met een te skiet. Weereens kan ons onthou dat manne soos Elmer Keith (wat gehelp het om die .44 magnum rondte te ontwikkel) op afstande van vier honderd meter met ‘n rewolwer kon skiet, maar dis weereens uitsonderlik. Die Amerikaanse FBI het tereg gesê dat die meeste skote uit selfverdediging op ‘n gemiddelde afstand van twee komma drie meter voor kom.
Die sestien oumanne lê op die honderd meter skietpunt. Dis duidelik dat nie almal gemaklik is nie, veral die manne met die uitbundige middelmate. So ‘n groot, ronde boepens maak dat jou elmboë te kort is om die geweer te stut, en natuurlik laat dit jou gou uitasem. Dis nie vreemd dat een of twee van die manne na ‘n paar skote omrol op hulle rug en dan eers asem skep nie.
Die meeste van die oorgewig manne se bloeddruk is ook te hoog, hulle asem is te min en hulle harte klop te vinnig. Daarby het een uit drie probleme met diabetes en dit beïnvloed hulle visie. Nogtans byt hulle vas en na die eerste twintig doelgerigte rondtes gaan dit al beter.
“Kom nou, menere, konsentreer ‘n bietjie. Tim, jou geweer se loop is seker krom.”
“Gaan bars man! Die ou roer skiet al vir ‘n honderd jaar reg. Hoekom sal hy nou sleg skiet?”
“Dis omdat jou oupa en oupa-grootjie kon skiet. Hulle was ook nie so dik soos jy nie. Trek jou elmboë ‘n bietjie nader aan jou lyf. Ja, so. Probeer nou weer.”
Dawie kyk deur sy verkyker en sien dat Tim se volgende drie skote darem die mannetjie tref, al is dit maar bont. Sy Lee-Enfield het nog ‘n vollengte kolf. Dis nie regtig bedoel om goeie groeperings te skiet nie, as ‘n mens ook in ag neem dat die slot, anders as byvoorbeeld ‘n Mauser, net aan die agterkant sluit. Dit veroorsaak dat die hele lengte van die slot die drukking moet weerstaan.
‘n Mauser sluit voor en agter en is dus inherent baie akkurater. ‘n Lee-Enfield, daarenteen, het ‘n tien-rondte magasyn, wat uitgehaal kan word en die slotaksie is baie makliker om te werk en gladder as ‘n K98 s’n.
Dawie ruik die reuk wat net ‘n ou 303 het. ‘n Reuk van Hoppes no 9, Young’s 303 en dekades se ander geweerolie wat in die houtwerk en metaal ingetrek het. Dit kom sterk na vore wanneer die geweer warm geskiet is. Net so, onthou hy het ‘n R1 ‘n reuk wat eie aan hom is. Anders as ‘n R4, wat net na nog ‘n geweer ruik.
Twee posisies van Tim af lê Boats. Hy het ‘n nuwerige Howa in .243 kaliber en ‘n nuwe Nikko Stirling teleskoop. As Dawie sy skote bekyk, is hy redelik beïndruk. Van die laaste vyf skote is vier in die “nege” ring en een in die “tien”.
“Nie sleg nie, Boats, al moet ons in aanmerking neem dat jy verneuk.”
“Hoe bedoel jy ek verneuk?”
“Jy skiet van die pootjies af. Dis verneuk.”
“So, as ons in ‘n fight is, gaan die vyand moan as ek verneuk net omdat ek van die twee-poot afskiet?”
Die tweede laaste posisie in die aflossing word beman deur ‘n afgetrede dosent.
“Hel, nee, Niek, wat maak jy?”
Niek het ‘n ouerige Israeli Mauser in .308 Winchester, waarvan die loop korter is en die ou laaghout kolf vervang is met ‘n Butler Creek sintetiese een. Hy het ‘n Schmidt&Bender teleskoop op en hy het ‘n blitsbreker aan die voorkant van die loop en dit skop kwaai stof op, maar dit lyk redelik doeltreffend.
“Jy is net jaloers, Dawie.”
“Dêmmit, ja. Ek is.”
Al Niek se skote is in die kol. Vier van die vyf sny mekaar.
Die heel laaste posisie is dié van Ben Malan. Hy het ‘n Winchester 30-06.
“Probeer jy en Niek mekaar aanvat?”
Ben se skote is ook almal in die kol, maar die groepering is effens groter.
“Nie nou al nie. Gee die prof ‘n kans. Maar as ons netnou uit staanhouding skiet, sal jy sien hy kan nie byhou nie.”
Almal weet dis waar. Ben Malan is bekend dat hy van kindbeen af ‘n poacher was. In die Bosveld is dit nie altyd ‘n skelwoord nie, en baie mense is deel van hierdie elite klub. Alhoewel dit nie meer so dikwels beoefen word nie, was dit in die 1960’s en 1970’s ‘n aanvaarbare praktyk. Ben is sekerlik een van die beste skuts in die land as dit kom by instinktiewe skiet.
“Okay manne. Staan op en verklaar.”
Met breë glimlagte op hulle gesigte staan die manne styf op aandag en begin van een kant af. Die eerste twee manne sukkel om die regte bewoording te onthou, maar hier van die derde een af gaan dit beter.
“Een veilig, kopperaal!”
“Jy bedoel seker ‘leeg’, troep? Daar is nie iets soos ‘n ‘veilige’ geweer nie?”
Die antwoord is binnensmonds en nie heeltemal gevrywaar van kru taal nie.
*
Maandag is almal terug by die werk. Vir party van hulle is daar nie ‘n hoop om af te tree nie. Die val van die rand die afgelope jare het aan hulle pensioenfonds gevreet en wat inflasie nie gevat het nie, het ‘n jaar of twee se werkloosheid weggekalwe. Klein besighede soos motorherstelplekke, klein konstruksiemaatskappye, makelaarswerk, paneelkloppers, elektriese werkswinkels en veel meer het die verhoogde belasting, verhoogde lone, en die uittog van blankes na die stede en veral Kaapstad, hard getref. Voeg daarby dat waar elkeen vantevore so af en toe by die Staat kon werk kry, hetsy om hulle voertuie te herstel of die paaie te help in stand hou, het hulle gebrek aan BEE en BBBEE registrasie hulle uitgeskakel. Die voorkoms van beurtkrag kan nie uitgeskakel word met opwekkers en sonkrag nie, veral elektrisiteits-intensiewe maatskappye soos kontruksie en sweiswerke.
Net na tienuur lui Dawie se sel.
“Wat sê jy, Boet?”
“Ek sê niks. My vrou praat mos namens my.”
“Ek dog jy is geskei?”
“Ja, maar dit verander niks aan die saak nie. Dawid, het jy so ‘n paar minute vir my?”
“”Dis reg. Jy kan maar praat.”
“Nee, nie oor die foon nie. Ek is nou daar by jou.”
Ses minute later stop Boet Meyer se ou Jeep bakkie by Dawie. Boet is klein en skraal en is, ten spyte daarvan dat hy al vyf en vyftig is, fiks en gesond.
“So, hoe lyk dit, my maat?”
“Nee, okay, Dawie.”
Hulle loop na ‘n hoek van die werkswinkel, waar twee ou seilstoele langs ‘n tafel staan wat uit ‘n paar ou bakkie-bande en ‘n houtblad bestaan.
“Dawie, jy het my aan die dink gesit na ander aand se braai. Ek het die afgelope naweek alles gaan lees wat ek in die hande kon kry, en ek dink jy is reg. Ons is in diep bandini.”
“Ons is.”
“So, wat doen ons?”
“Ons wag en kry ons goed reg.”
“Dis waarom ek hier is, Dawid. Ek wil hê jy moet my lorrie vir my oordoen.”
“Jy bedoel die ou Jeep buitekant?”
“Ja. Dis ‘n 1964 Jeep Gladiator. Dit het nog sy oorspronklike enjin, ‘n 3,8 liter reguit-ses Tornado enjin. Ek sou hom graag so wou hou, maar ek moet nou iets soek wat meer betroubaar en prakties gaan wees.”
“En?”
“Hy moet ‘n bietjie gelig word, groter wiele en beter sitplekke.”
“Jy weet dit gaan baie pond vat?”
“Dis okay. Ek het dit.”
‘n Dag later bel Dawie vir Boet.
“Boet, sit jy? Ek kan vir jou twee aste kry uit ‘n later model Chevy K35, ‘n 6,5 liter Chev V8 Diesel met ‘n turbo en ‘n groot vierspoed ratkas. Vyf en dertig duim bande op ordentlike wiele is so vyf en twintig duisend. Die hele ding gaan jou naby ‘n honderd duisend kos.”
“Gaan dit goed werk?”
“Dit sal.”
“Hoe gou kan jy hom klaar hê?”
Binne dae is Dawie se werkswinkel oorlaai met werk. Die bakkies en Jeeps, Land Rovers en Cruisers staan ingeryg. Hy moet drie tydelike werktuigkundiges by huur om alles gedoen te kry. Waar dit ‘n week gelede stil was, is daar nou die aanhoudende gedreun van gereedskap wat met saamgeperste lug werk, die flitse van CO2-sweismasjiene, kap en boor, soms tot laataand. Verfdampe hang partymaal swaar in die lug.
Saterdae is die skietbaan ewe besig. Die skietvernuf van die manne verbeter. Hulle ry ook nie meer na die skietwal om te gaan kyk hoe lyk die teikens nie, maar loop met die voet.
Hulle drink water as hulle dors is en nie koeldrank nie. As hulle teen vroegaand begin braai, is daar minder bier en meer vrugtesap, die vet word van die vleis afgesny, en daar is selfs slaai op party borde te sien.
Niemand rook meer nie. Voordat die warm baadjies teen die aandlug aangetrek word, kan Dawie sien dat die vet pense effens kleiner is, die arms minder slap en daar is nuwe hoop in hulle oë.
“Oud, ja, maar nog nie koud nie.”