Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is so geneig om kwaad te word en op te hou goed aan ander doen wanneer dit lyk asof hulle dit nie waardeer nie. Petrus sê egter ons is geroep om goeie dade te doen en die lyding te verdra wat daarmee saamgaan omdat Christus hierin vir ons 'n voorbeeld was, en ons in sy voetspore moet volg.
BROKKIES UIT DIE BOEK – OUMANSLAND (5)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Broers, ons moet van hierdie dominee ontslae raak!”
Die kerkraadsvergadering hou reeds drie ure aan en by die punt: “Diensverhoudinge-kommissie” het ouderling Harry Barends opgestaan en die leraar beskuldig van leuens, pligsversuim en veral inmenging in die politiek.
“Ons kan nie hierdie prediker toelaat om langer mense te mislei nie. Ons weet dat hy besig is om rassespanning te veroorsaak met sy uitsprake en dis heeltemal onbybels. Ek, vir een, kan nie verder na sy preke luister nie.”
Harry is ‘n afgetrede onderwyser. Hy is daarvoor bekend dat hy en die leraar nie dinge op dieselfde manier sien nie en het al vantevore gedreig om te bedank. Hy, die leier-ouderling, die voorstitter van die diensverhoudinge, die voorsitter van die fondsebediening en nog nege ander kerkraadslede is ook lid van die Broederbond.
Hulle swaai reeds vir dekades eintlik die septer in die kerkraad en die ring. Ds Nols Slabbert is reeds van net na sy dienspligtyd leraar van die gemeente en hulle het al verskeie keer in die verlede hom oor beuselagtighede aangekla, omdat hy nie wil deel wees van die Broeders nie. Hy het botweg geweier en gesê ‘n christen raak nie by ‘n geheime organisasie betrokke nie, al is hulle motiewe oënskynlik hoe suiwer. Hierdie aanklagte het uiteindelik op niks uitgeloop nie.
“Die dominee moet vandag kies tussen sy gemeente en hierdie uitsprake waarmee hy besig is. Dis niks anders as politiekery nie en dit moet einde kry.”
“Presies wat het ek gesê, waarvoor jy my nou aankla, Harry?”
“Jy het al hoeveel keer gesê hier kom moeilikheid in die land en dat die regering nie in staat is om dit te keer nie. Jy het ook vele maal gesê dat die ou Nasionale Party en hulle meelopers die inwoners van Suid-Afrika bedrieg het. Is dit nie waar nie?”
“Ja, dit is waar. En as julle na die situasie in die land kyk, is ek dan verkeerd om te waarsku?”
“Dominee, dis nie jou plek om so te praat nie! Jy beskinder vir FW de Klerk en Roelf Meyer en andere, bloot omdat jy nie glo hulle het die beste uitweg gevolg nie!”
“Dis die waarheid. Kyk ‘n bietjie hoeveel van ons mense die afgelope tyd vermoor is, hulle werk verloor het, uit hulle huise gesit is. Hoeveel van ons eie gemeente het nie deurgeloop onder huisbrake nie?”
“Dis nie hier die plek om politiek te praat nie,” maan John.
Harry ignoreer hom.
“Ek wil vir julle nou al sê, die ou regering het ‘n plan gehad. As hulle nie opgetree het soos hulle gedoen het nie, sou ons reeds vyf en twintig jaar gelede ‘n burgeroorlog gehad het. Is dit wat jy wil hê, Dominee? Die Bybel praat tog van vredemakers en nie oorlogsugtiges nie! Ek betwyfel of jy ‘n christen is!”
Die vergadering loop uiteindelik kort na twaalfuur op ‘n dooie punt uit. Die volgende aand om sesuur is daar nege motors voor Harry se huis geparkeer. Almal weet dis die broeders wat weereens bymekaar kom om hierdie saak op te los. John, die leier-ouderling, word weereens afgevaardig om met die dominee te gaan praat.
“Dominee, die Broeders is ‘n goeie organisasie. Hulle doel is om die Koninkryk te bevorder. Waarom wil jy nie deel word nie. Dit sal soveel makliker vir jou en die gemeente wees.”
“John, jy weet tog hoe ek daaroor voel. As julle doel is om die Koninkryk te bevorder, waarom so geheimsinnig? Dis mos nie hoe ‘n christen optree nie?”
“Jy is sommer nou moedwillig, dominee! Ek het gekom om mooi met jou te praat, maar nou wil ek jou waarsku. Let wel, nie dreig nie, maar waarsku. As jy nie jou koppigheid wil prysgee nie, sal jy moet loop.”
“Nee, broer John, dis nie ‘n waarskuwing nie, dis ‘n dreigement. En ek sal nie loop nie. Julle kan my afsit, my bevoegdheid ontneem as julle wil, maar ek gaan nie wegloop soos ‘n sleg hond nie. Ek gaan ook nie my siel verkoop om dit vir my makliker te maak nie. Maak maar soos julle goeddink.”
Vier maande later het Ds Nols Slabbert bedank.
Die onrus en onluste in die land het intussen toegeneem. Niemand het na hom teruggekom en gesê dat hulle sien hy is reg nie.
Die invloed van die Afrikanerbond loop diep en wyd in die kerk.
*
“Dooms, hoekom is daar soveel rassespanning? Gaan dit ooit ophou? Hoe moet ons as christene dit hanteer?”
“Watter vraag is die belangrikste?”
“Seker die laaste een.”
“Daar is nie ‘n enkelvoudige, klinkklare antwoord nie. Nie een wat ek in elk geval het nie. Maar kom ek stel dit so: nie een van ons het ‘n keuse gehad van waar ons gebore moes wees nie, wie ons ouers is of was nie, wat ons velkleur is nie. Die Here het bepaal dat ek en jy blank sou wees, van Europese afkoms, en dat ons hier in Suid-Afrika gebore sou wees. Dit beteken dat die Here aan ons sekere vermoëns gegee het, en sekere beperkinge, wat ook gepaard gaan met verantwoordelikhede en verpligtinge.”
“Dit antwoord nie my vraag nie”.
“Ek weet, maar ek stel dit as agtergrond. Kom ons gaan verder. Ek sê nie een ras is verhewe bo ‘n ander nie. Ons as christene mag nie dit doen nie, al sien ons die teendeel. Maar elkeen van ons het, soos ek gesê het, gawes en perke. En dis nie net beperk tot ras nie. Ek sou graag slim genoeg wou wees om ‘n konsertpianis, ‘n kernwetenskaplike of ‘n hartsjirurg te wees. Maar nou is ek net ‘n dominee. Die Here vertrou my daarmee. Ek sou ook, as ek kon kies, eerder in Europa, verkieslik Frankryk gebore wou wees, maar Hy het bepaal dat ek naby Johannesburg die lig sou sien. Die groot ding is, ons moet die beste gebruik maak van ons vermoëns en omstandighede, sonder om op ander neer te sien. Die probleem met rasse is dat sommige jaloers geraak het op ander se vermoëns en vaardighede. Dis ‘n natuurwet dat sterkeres floreer en swakkeres krepeer. Nie net onder homo sapiens nie, maar dwarsdeur die natuur.”
“Ja, maar…”
“Nee, Dawie, gee my kans. Ek sê nou nie dat mense wat minder begaafd is, swaarder moet kry nie, maar in ons omstandigehede het dit gebeur dat mense – en nou praat ek van alle rasgroepe – meer wil hê as wat hulle vermoëns hulle toelaat. Dit kom daarop neer dat mense hulleself en ander meet aan hoeveel hulle besit. En solank as wat daar ‘n onregverdige toedeling van produksie teenoor bekwaamheid is, sal daar spanning wees. Want dié wat nie het nie, sal altyd jaloers wees op hulle wat iets het. En dit gaan gepaard met eer en skande. Diep in sekere mense wat bokant hulle vermoë leef – en hier praat ek nie van mense wat meer spandeer as wat hulle vedien nie, maar mense wat weet dat hulle ‘n sisteem misbruik om te kry wat hulle nie verdien nie – weet hulle dat hulle eer probeer koop en skande toesmeer deur ongeregtigheid. Gaan kyk maar na karre, huise, klere, horlosies, selfone, maar ook velprodukte, pruike en so aan, wat aangekoop word om jou ingebore ‘skande’ weg te steek. En sodanige mens besef ook dat dit nie op die lang termyn volhoubaar is nie. Margaret Thatcher het gesê: ‘In the long run you run out of other people’s money to spend’.”
“Kom ek gebruik ‘n voorbeeld: gestel jy het iemand in jou sosiale omgewing wat jy idealiseer. Jy gaan gim om soveel spiere te hê, kleur en laat sny jou hare soos syne, dra kontaklense om dieselfde oogkleur te hê, probeer sy spraakpatrone aanleer, koop dieselfde kar, dra dieselfde klere. Maar môre-oggend word jy wakker, loop by ‘n spieël verby en sien dat jy nie daardie ou geword het nie. Wat is die maklikste dan? Jy haat daardie man of vrou. As jy hom of haar uit die weg kan ruim, is daar nie meer hierdie onregverdige vergelyking nie. Sal dit ophou? Ek dink nie so nie. Die mens is te veel ingestel op hierdie lewe en op aardse dinge. Verstaan jy wat ek probeer sê?”
“Ja, ek dink so.”
“Goed. Hoe hanteer ons as christene dit? Deur alle mense met respek te behandel. Deur nie neerbuigend of paternalisties te wees nie. Deur mense op ‘n gelyke manier te behandel.”
“En as hy jou probeer doodmaak, omdat hy jaloers bly?”
“Dan gee die Here jou die reg om jouself en jou mense te beskerm.”
*
Maans het een geword met die natuur. Jare se leef in die beskawing, sy huwelik, kinders en werk is in die verlede. Hy beweeg saggies, onsigbaar vir die ongeoefende oog, kry die meeste van sy kos uit die veld self en soek skuiling teen wind, reën en koue in die arms van moeder natuur.
So af en toe sal hy sien Dawie of een van die ander oumanne sal ‘n sak met kos en drinkgoed bokant die verlate bosbouhuis los. Hy sal die omgewing vir ure dophou om seker te maak dis veilig, dat die manne nie agtervolg was of dopgehou word nie en dan die sak gaan haal. Dis ‘n voorreg en ‘n stukkie bederf wat hy ervaar, maar hy sorg dat hy nie daarvan afhanklik raak nie.
Hy is nie ‘n moordenaar nie en sal niemand koelbloedig doodmaak nie, maar in sy wese is hy nou een van die gevaarlikste terroriste ter wêreld – iemand wat puik opleiding ontvang het, wat fiks, sterk, gesond en taai is, maar wat niks het om te verloor nie.
Snags lê hy en peins oor die verloop van die geskiedenis. Op skool het hy reeds in die geskiedenisklas daaraan gedink dat die Franse Adel eerder maar ‘n bietjie moes deel met die hoi-polloi, die gepeupel. Daar was tog oorgenoeg vir almal?
Net so moet die regering van die dag in ag neem dat jy nie iemand soos hy te ver moet dryf nie. En hulle moet nie die belastingbetalers sòveel ontneem dat hulle niks het om te verloor nie, en daarom ook niks het wat hulle terughou nie.
Maans Bredell swerf wyd. Die nuwe stewels wat Dawie vir hom gegee het is lekker ingeloop en wanneer die omstandighede dit toelaat, loop hy kaalvoet en brei sy voetsole, totdat dit hard, taai en amper gevoelloos is. Hy leer die berg ken – waar daar skuiling, kampplek, gevaar, en natuurlik plekke is wat goed verdedigbaar is en waar dit voortreflik is vir ‘n hinderlaag.