Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in besit neem en daarin woon en dan sê: Ek wil 'n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is, dan moet jy sekerlik 'n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies: uit jou midde van jou broers; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie" – Deuteronomium 17: 14-15
BROKKIES UIT DIE BOEK – OUMANSLAND (7)
)
Dis koud hier bo in die berg, met ‘n klam winderigheid wat gekom het om vir dae te bly.
Dis nog ‘n hele ent na die dorp toe en teen hulle sin maak hulle kampplek tussen ‘n groot rots en die bergwand. Niemand in sy volle verstand sal hier ronddwaal nie en hulle soek tussen die skeure en onder klippe en rotse vir droë hout. Die baadjies het hulle bolywe droog gehou, maar soos hulle geloop het, het die nat gras bokant hulle skoene en stewels hulle langbroeke deurweek met vars reën.
“Ek is darem nou lus vir ‘n warm bord boerekos!” sê Riëtte.
“Rys, vleis en aartappels?”
“Ja. Met sous en boontjies en blomkool met witsous.”
“Hoe lyk dit met ‘n stukkie tarentaal en ‘n halwe beskuit?”
Hulle sit naby mekaar, sodat hulle liggaamshitte kan deel. Riëtte sit tussen Maans en Johnnie. Sy sou eerder langs Die Man wou sit, maar hy is sy normale afsydige self.
“Gaan jy nooit vir ons jou regte naam vertel nie?” vra Riëtte.
“Miskien. Jy het my nog nooit gevra nie.”
Die ander drie sit en dink oor sy antwoord. Dis waar – nie een van hulle het al gevra nie.
“So, wat is dit?”
“Noem my ‘Flip’.”
“Is dit jou regte naam?”
“Naby genoeg.”
Daar is min dinge so erg as ‘n lang nag as jy koud en klam en bedremmeld is. Teen drie-uur word dit effens warmer, maar dan val die reën ook harder. Hulle skuif nog nader aan mekaar, sodat die meeste van hulle onder die enkele grondseil is, wat in Johnnie se rugsak pas. Riëtte is die enigste een van hulle wat relatief droog en warm is en sy raak aan die slaap.
Om vyfuur staan Flip op en gooi nog hout op die vuur. Selfs die droë hout van gisteraand is nou klam en dit vat ‘n ruk om aan die brand te raak. Hy sit ‘n fire-bucket water op en na vyftien minute kook dit. Hy sit hulle laaste drie teesakkies daarin, met ‘n halflepel suiker. Die vier van hulle maak beurte om daarvan te drink, en alhoewel dit te min is, maak dit tog ‘n effense warm kol op die maag.
Met dagbreek trek hulle so droog as moontlik aan, pak op en begin loop. Die klippe is nat en glad na die reën, wat nou weer in ‘n koue mistigheid opgeklaar het en hulle loop versigtig.
Net na tienuur begin ‘n windjie waai en ‘n halfuur later loer die son deur die wolke. Hulle gaan sit op ‘n plat rots en deel die laaste van hulle beskuit, afgesluk met ‘n paar slukke water.
“Dis ons laaste kos, mense. Ons moet òf by mense uitkom, òf iets skiet om te eet en ek dink ons is nou te naby die dorp om skote te waag.”
Teen laatmiddag sien hulle die dorp, ver onder hulle. Dis egter duidelik dat niks en niemand roer nie, behalwe ‘n groepie plunderaars in die middel van die dorp.
“Is jou pa-hulle se kamp nie aan die Oostekant nie?”
“Ja, maar hy het vir my gesê as dinge te warm word, sal hulle ook berg-in verkas. Kyk, daar onder.” Hy wys met sy regterkant na waar die mense was. “Die kamp lyk verlate.”
Johnnie kyk in daardie rigting deur sy teleskoop.
“Ja. Hulle is weg. Nou wat nou?”
“Ek dink die beste gaan wees as ons van hierdie kant af na Hanglip toe gaan. Daar was ‘n radar en radiostasie van die lugmag, genaamd ‘Rudyard’. Miskien kan ons iets daar kry.”
“Hoe ver is dit?”
“Ons kan môre-oggend daar wees.”
*
Ses weke gaan stadig verby, dan agt. Soos dit maar by Afrikaners is, word die kamp skoon en netjies gehou. Alle papiere en plastiek word versigtig hergebruik en daar word werk gevind vir elke dingetjie wat aangery of gevind is.
Daar is genoeg water, die manne het diensbare storte gemaak en ‘n opwasplek vir skottelgoed. Die perimeters is versterk met klippe, waarvan die omgewing besaai is. Hier en daar is ‘n tent se kante met stompe opgebou, sodat dit later soos houthuise begin vertoon.
Die voertuie is gediens en word gereed gehou. Op die oog af lyk dit asof die klomp uitkamp en dit geniet. Streng gesproke is daar ook ‘n aura van permanensie, nie net aan die behuising nie, maar ook die groot sestien by twee en dertig tente wat opgeslaan word vir skool en kerk. Die manne gaan in spanne uit om te gaan verken, te jag en hout bymekaar te maak. Na weerskante toe is die sig oop en hulle kan iemand ver sien aankom.
Op die eerste Maandag van die derde maand, net na ontbyt, klap ‘n koeël teen die kant van een van die voertuie vas. Hierop volg ‘n tweede, derde en vinnig is daar ‘n aanhoudende vuur vanuit die Westekant.
Wie ookal skiet, doen dit met semi- en voloutomatiese wapens. Dis nie werklik goed gemik nie, en die afstand is groot, maar die wet van gemiddeldes bepaal dat as daar genoeg koeëls rondvlieg, een of meer sal tref.
Van die skote tref die tente, van die voertuie en dan is daar ‘n vrou wat neerval; ‘n skoot deur haar sy. Sy begin skreeu vir hulp, maar vir eers wil niemand skuiling prysgee nie. Uiteindelik hardloop twee mans nader, elkeen gryp ‘n arm en sleep haar agter ‘n bakkie in. Die bloed vloei vryelik uit haar lae abdomen.
Skielik is daar ‘n beweging en Petra is daar met ‘n noodhulpsak. Sy skeur die vrou se bloes oop, sien die polsende bloed uit ‘n ronde gaatjie en druk met haar handpalm daarop.
“Draai haar om dat ek kan sien of die koeël uitgekom het.”
Die twee manne doen so en tot Petra se verligting sien sy ook ‘n uitgangswond. Dis nie groot nie, want die koeël het skynbaar nie been getref nie en ook nie organe nie. Petra druk ‘n tampon voor en agter in die wond, en hoop maar vir die beste. Onder die omstandighede is daar nie veel wat sy kan doen nie.
Hierna begin die vrou te hoes, sit half regop en dan kom daar bloed by haar mond uit. Dit loop vryelik oor haar ken, nek en beplas haar klere. Haar oë word glaserig en sy gryp vir ‘n oomblik Mike se hand vas. Sagweg raak sy slap en leweloos. Mike kyk op na Petra, wat net haar kop skud en beduie dat hulle kan los. Sy is dood.
“Ek is nie ‘n dokter nie. Ek het maar gedoen wat ek kon.”
“Dis nie jou skuld nie. Dis wie-ookal wat op ons skiet se skuld.”
Die knal en klap van die skote hou vol, vanaf die hoë krans, Hanglip, aan hulle Westekant. Dis asof die vyand onbeperkte ammunisie het. Van die manne kom nou agter vanwaar af die skote gevuur word en begin terugskiet. Dis egter amper onmoontlik om een raak te skiet, siende dat die vyand té hoog is en agter die muur van die basis kan skiet.
‘n Man kom aangehardloop, regop, sonder om skuiling te soek en amper onbewus van die skote.
“Joan, Joan! Ag Here, moenie dat dit Joan wees nie!
Maar dit is. Joan Martins is dood. Basie Martins sak op sy knieë af by haar, hou haar kop met bloederige hare en glaserige oë vas. Sy hele lyf ruk van rou, ontkenning en woede. Hy sit so vir ‘n paar minute. Een van die manne probeer nader gaan en help, maar Petra hou hom weg.
“Los hom. Jy kan niks nou doen, behalwe skade nie.”
Basie staan uiteindelik op, wink vir sy vriend, Robert om saam te kom en hardloop na sy V8 Land Cruiser toe. Die twee manne klim in, span hulle wapens en die voertuig skop klippe en gras as hy die agterwiele in ‘n draai maal. Hulle kies koers berg-af, in die rigting van die Bluegumspoort pad.
‘n Toe plaashek slaan hard oop en kant toe as die bosbreker van die voertuig dit tref. Basie gooi ‘n wilde draai links in die pad af en feitlik onmiddellik is dit buite sig van die ander.
‘n Paar honderd meter verder is daar ‘n baie styl, geriffelde sementpad wat teen die berg uit kronkel na die Lugmagbasis bo-op. Robert het uit lojaliteit saamgegaan, sonder om te weet waarheen Basie op pad is. Nou begewe sy moed hom, maar hy kan ook nie teen hierdie spoed uitklim nie. Hy roep na Basie om stil te hou, sodat hy kan uitklim, maar dit val op dowe ore. Die boonste hek is natuurlik toe, maar weereens is dit nie ‘n probleem vir die meer as twee-ton voertuig nie.
Die skuts, ou SANW lugmagsoldate en ‘n paar burgerlikes, hoor die voertuig aankom, bokant die geknal van hulle R5’e uit. ‘n Paar van hulle staan op, vanwaar hulle agter die kransmuur kniel en begin skiet in die rigting van die aankomende voertuig. ‘n Streep gate verskyn teen die windskerm van die Land Cruiser en dan is hy tussen hulle. Die bakkie tref drie manne wat teen die muur staan en bars daarna met liggame en al deur die muur, krans af.
Vir ‘n oomblik is daar ‘n staking in die vuur van bo af. Die mense sien mense aan die onderkant, by die kampplek, die stukke klip, baksteen, menselywe en beton vlieg, millisekondes voordat die Land Cruiser daardeur bars. Dit tuimel saam met die bourommel honderde meters af, voordat dit met ‘n slag die grond tref. Dit bars nie in vlamme uit nie, daar is nie ‘n ontploffing nie, maar almal weet dat die insittendes nie die slag en die val kan oorleef nie. Dit gee darem vir Dawie kans om sy mense te laat skuiling kry en teikens om na te skiet. Al wat hulle egter kan doen, is om die boonste skuts se koppe te probeer laag hou.
Bert kruip nader aan waar Dawie agter ‘n stewige rots skuil en dooirus vat. Hy dink nie hy het al enigiemand raakgeskiet nie, maar sien sy koeëls stof uitslaan naby aan die plek waarvan die manne op hulle skiet.
“Ons is vas, Dawie! Wat staan ons te doen?”
“Ons kan niks doen nie. Ons kan nie beweeg nie en jy het gesien wat met Basie en Robert gebeur het. Ons kan net hoop hulle ammo raak op.”
“Christo sê daar is baie duisende rondtes in die bunkers.”
“Hoe weet hy?”
“Hy was immers ‘n lid van die Lugmag, tot anderdag.”
“Wel, dan is ons gemors geboek. Ons kan nie beweeg nie. Nie sonder om seer te kry nie. Kyk of jy soveel moontlik mense onder dekking kan kry. Stuur vir Ron en Boet, Willie en Tanya hierheen. Hulle is ons beste skuts. Ons kan maar net probeer hulle koppe laaghou.”
“Tanya?”
“Ja. Sy is miskien ons heel beste skut. Toe, maak gou!”
Sodra Bert weg is, stel Dawie sy teleskoop se fokus ‘n bietjie fyner.
“Oumansoë!” dink hy. Dan vat hy dooierus oor die rots, haal diep asem, fokus die kruishare ‘n meter bokant ‘n vae donker kol aan die bokant van die kans en knyp los. Die kolverdwyn.
“Het jou, jouvark!”