AFRIKAANSE TAALKWESSIES (3)

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by Afrikaanse Taalkwessies

In hierdie aflewering behandel ons 'n paar voorbeelde uit die talle kwessies waar verwarring bestaan oor 'n woord of 'n uitdrukking wat dalk reg klink maar verkeerdelik gebruik word; en hoe dit wel gebruik moet word:

Aansit x voorgee:
Jy kan kan by die tafel gaan aansit, maar jy kan nie aansit deur voor te gee dat jy siek is nie – jy gee voor dat jy siek is.

Aanstootlik x afstootlik:
Die afstootlike = walglike- vent, gee 'n mens groot aanstoot =ergerniswekkend.

Aantal x getal:
'n Groot aantal mense is vermoor = jy weet nie presies hoeveel nie; die getal van 60 mense word per dag in die Nuwe Suid-Afrika vermoor = jy weet hoeveel.

Afkeer x afkeur:
Ons kan slegte gedrag nie goedkeur nie, ons moet dit afkeur = afkeur is 'n werkwoord, daarom kan jy nie afkeur daarvan ondervind nie; afkeer kan ook 'n werkwoord wees wanneer jy die 'water afkeer', maar hiernaas is dit 'n selfstandige naamwoord = ek het 'n afkeer van die vent (nie 'aan' die vent nie.) 

Afkondig x aankondig:
Jy kan iemand se koms/vertrek/huwelik/afsterwe ens, aankondig. Maar jy sal voorgeskrewe wette, kennisgewings, gebooie, ens, afkondig: Die predikant kondig aan dat die diens sal begin nadat hy die gebooie afgekondig het.

Afrikane x Afrikaners:
Afrikane is alle rasse in Afrika wat Afrikatale praat en nie Europese tale as moedertaal het nie. Afrikaners praat Afrikaans, 'n Europese moedertaal, nie 'n Afrikataal nie. In Suid-Afrika woon daar Afrikaners en Afrikane. Daar woon ook in ander Afrikastate baie Afrikane en min Afrikaners...

Afsien x groet:
Jy kan van jou plan afsien = om dit te laat vaar; maar jy kan nie jou vriend by die deur afsien as jy 'n Afrikaner is nie, jy gaan groet hom daar.

Afsit x van strykbring:
Hulle moet sy been afsit = verwyder; maar jy kan my nie afsit nie, jy bring my van stryk met jou anglisismes.

Amptenaar x beampte:
'n Amptenaar is deur 'n gesagsliggaam aangestel soos 'n staatsamptenaar , meesal 'n salaristrekker; 'n beampte is 'n funksionaris, belas met die uitvoer van 'n spesifieke plig bv 'n baanbeampte tydens 'n atletiekbyeenkoms, soms sonder vergoeding.

Antwoord x beantwoord:
Antwoord neem gewoonlik die voorsetsel op: jy kan antwoord op vrae, op versoeke, ens; maar jy beantwoord briewe, ook vrae, maar sonder die op.

-asie x –ering bv oriëntasie x oriëntering:
Dit is nie sinonieme nie; -ering = die handeling, -asie = die afloop, bv die motors is volledig gemonteer in die buiteland maar nou word daar gekyk na plaaslike montasie.

Beheer x beheers:
Beheer = administreer; beheers = meester, oppermagtige, bv die voog het beheer oor die minderjarige se sake maar nou beheers hy die kind in elke opsig. So kan jy jouself ook in alle opsigte beheers = goeie selfbeheersing.

Sondig x versondig:
Sondig = jouself skuldig te maak aan iets ongeoorloofs; versondig = lastig val, verpes, bv jy sondig deur my siel so te versondig.

Bestelling x afspraak:
Jy bestel 'n huurmotor, of iets van die winkel, en as hy dit het, sal hy sorg dat dit by jou huis 'bestel' (afgelewer, besorg) word. Die persoon wat dit aflewer word 'n besteller genoem bv 'n briewebesteller; dieselfde betekenis aan 'teraardebestelling' . Maar jy het 'n afspraak met jou vriend om vieruur en as sy werkgewer hom teen dieselfde tyd bestel het gaan jy hom nie te sien kry nie.