AFRIKAANSE TAALKWESSIES (4)

(Lees reeks by Afrikaanse Taalkwessies)

ANGLISISMES

Jeanette Koekemoer

Toe die Afrikaner in die begin van die vorige eeu voortdurend te kampe gehad het met doelbewuste anglisasiebeleidsvoeringe, toe hy hom minderwaardig beskou het teenoor die magtiger en ryker kultuurtaal Engels, het hy sy eie taal soos 'n tere plantjie vertroetel en gekweek – anders as vandag waar Afrikaners dink dis "cool" om drie uit elke vier woorde in geradbraakte Engels tussenin Afrikaans te gebruik in al wat spreektaal en sogenaamde 'Afrikaanse' liedere vir jongmense is. Ná die dwang wat op Afrikaners toegepas is ook tydens die Tweede Wêreldoorlogsjare toe Smuts met sy verering vir Brittanje beheer oor Suid-Afrika gehad het, het Afrikaners se geesteshouding later gelyk aan dié van sy Engelse medeburger geword want hy het in opstand gekom teen doelbewuste vernedering en verlaging van die stand van sy mooi taal.

Maar juis die opheffing van hierdie druk het gelei tot 'n verslapping in sy waaksaamheid: 'n doodslaap! Wat doelbewuste verengelsing nie kon regkry nie, is teweeggebring deur vreedsame insypeling: sodanig dat die meeste Afrikaners geen indringers opmerk in die wyse waarop hulle hul taal deesdae aanwend nie. Selfs ouers doen mee aan hulle kinders se nare allegaartjies want ons wil tog net nie aanstoot gee nie, min wetende dat die aanslag op ons taal doelbewus deur ons volksvyande geloods word. En as iemand hieroor twyfel, kyk maar net in watter totale haglike omstandigheid die Afrikanervolk vandag verkeer waar hy verjaag, vermoor, vermink en verkrag word – weet dan dat die taalaanslag geen toevalligheid is nie!

'n Anglisisme is die ontlening uit Engels van 'n woord, idioom of uitspraak wat bots met die Afrikaanse taalpatroon. Elke kultuurtaal bevat –ismes, maar daaraan moet met oordeelkundigheid bestaansreg toegesê of geweier word. As die ontlening in 'n bepaalde behoefte voorsien, moet dit nie geweer word nie nie, dws, as die eie taal nie daartoe in staat is om 'n dergelike woord of frase te skep nie. Ons dink hier aan vorme soos: sypaadjie, piekniek, trok, tonnel, padgee, jurie,  – almal vorme wat in bepaalde behoeftes voorsien. Waarvoor ons egter moet oppas, is ontlenings wat met ons eie taalpatroon bots, bv hande skud = handgee, groet. Deur te veel afhanklik te word van Engels vir ons woordeskat en sinsbou, het ons naderhand verleer om ons eiegoed vir hierdie doel aan te wend: ons sal ook al hoe luier word en daarmee ons eie skat verder verwaarloos, laat verarm en verkwyn tot daar niks meer oor is nie en met noodlottige gevolge soos die heersende geestelike laksheid wat lei tot geestelike onvermoë en ondergang,  en ... verloor jy jou taal, verloor jy jou volkskap! Dit is wat reeds in 'n groot mate met die Afrikanervolk gebeur het. Daarom twis en baklei hulle onderling met mekaar selfs oor wat hulle naam is!

Maar terug by anglisismes: Ons kan nie ons taal se deur geheel en al sluit vir vreemdelinge nie want die groei van 'n taal hang saam met die groei van sy gebruiker se geestesaktiwiteite,  en dit bring voortdurend nuwe behoeftes mee sodat jy dikwels verplig word om aan ander tale te ontleen waar jou eie taal tekortskiet. Maar watter sin het dit nou om 'bloed is dikker as water' te verkies bo 'waar bloed nie kan loop nie, daar kruip hy'?

Anglisismes is nie net beperk tot woorde en uitdrukkinge nie; dit kom dikwels voor in die uitspraak byvoorbeeld: kàbinet teenoor kabinèt; pàrlement teenoor parlemènt; mìnister teenoor minìster, ens.

Meervoudsvorme
Tensy u in elkgeval werklik meer as een die bepaalde ding bedoel, moet u die volgende anglisistiese meervoudsvorme vermy:
Ek werk in die 'argiewe';
my 'brille' is weer weg;
ons het groot 'dorpsgronde' rondom Ermelo;
saans sê hy sy 'gebede' op;
jy moet aansoek doen by die 'hoofkwartiere', ens.

Aan die ander kant is dit korrek om te praat van:
'slagpale' want dit dui hier op die inrigting van werklik twee pale met 'n dwarsbalk waaraan die dier afgeslag word. Maar moet nou egter nie hiervan 'n stapelvorm maak soos koerante hulle aan skuldig maak nie – "Die Johannesburgse slagpales is oorstroom": Daar moes tog 'n enkelvoud gevorm word om te kon aandui dat daar bv drie slagpale is wat oorstroom is.

Ons kyk volgende keer weer na algemene taalkwessies.