PADDAKOMBERS NIE ALDAG DIESELFDE

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die Weskus se vissermanne, of hulle nou langliepel of met die mes vang, kom van oral uit die “Kap”  soos hulle daar sê, en al die onopgetekende Afrikaanse idiome en sêgoed laat die visvangtyd en die eentonigheid langs die viswaters beduidend krimp. Nie dat visvang rêrig eentonig is nie.  Die paddakombers is nooit dieselfde nie, en as jy nou rêrig ‘n eietaligheid wil hoor, luister bietjie as die snoekvangers hul vangste aan die langanas verkoop.

Die volgende hét gebeur. . .  en is nie ‘n grap nie.  Onlangs, op ‘n snoekboot met vier man en die skipper aan boord, het dit weer jollie gegaan.  Of jy nou die lô of die doringpoot aan die hoek gehad het, maak nie saak nie, die vis was honger en met elke silwerlyf wat in die boot beland het, het die manne saam gesels:  “Ons hét ‘n tien rand.”

Links voor het Lepelkop en agter hom Galtoon gesit en so tussen vangende en geselsende,  het hulle koudblaas en katkop geniet.  Die twee vang al jare saam snoek en is onafskeidbaar as hulle nie op die see is nie, en so ook hul kommetjies.  Dié is ook maar altyd die een by die ander se huis as hul snorbaarde oppie see is en hulle sôre altyd dat die twee wat vir hulle en die kinners sorg, genoeg van Sondag se wolfrolle en eiers saamneem om op die see te eet.

Lepelkop was die dag besig om ‘n stuk beenbek te eet, toe een van sy twee lyne mal gaan soos die vis spook om uit die water te kom. Met die skielike ruk aan die lyn en die vooroor buk, beland ‘n stuk van beenbek in die verkeerde keelgat.  Hy begin hoes en opbring dat die honde huil.

“As jy hare proe, moet jy sluk, ou pel,” maak Galtoon ‘n grap.  Toe Lepelkop omdraai en met sy vinger na sy mond wys, sien Galtoon dat sy tande ook weggespoel het. Nou hoe nou?

Hulle twee kom al jare saam en wat hulle twee nie saam gedoen het nie, is nobody’s business.  Galtoon dink kwaai aan ‘n plan om sy gabba te help.

Nadat hy die volgende snoek opgetrek en die nek gebreek het, haal Galtoon stilletjies sy eie valstande uit, spoel hulle goed af en druk hulle in die snoek se bek.  Toe tik hy sy pel op die skouer.

“Djy  kan hêppie wies,  die vis het jou tande teruggebring,” en hy gee die snoek met die valstande in die bek, aan sy pel wie se oë nog huil van die hoesery.

Lepelkop vat die snoek aan, haal die tande uit die vis se bek en gooi die snoek terug in Galtoon se laai.

“Dankie pêl, ek skuld jou, “ sê hy, spoel die tande af en druk hulle in sy mond.

Die tande was net ‘n paar sekondes in sy mond, ‘n paar sekondes van dan hierdie kant toe en dan daardie kant toe, en sjoeg! Spoeg hy die tande uit, die see in, en draai om na sy gabba.  “Dankie ou pel, “ sê hy, “maar daai wassie myne nie.”