'N RAAKVAT RUGBYVERHAAL

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (41)

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Tussen die wit lyne is geweld wettig

Emile Joubert in die boek RUGBYMAL, vertel om wettige geweld te pleeg, is uiters belangrik vir enige span wat sukses op die rugbyveld wil behaal.  Dis wat rugby van baie ander sportsoorte onderskei, meen hy.  Dan het hy ‘n lang relaas oor allerhande soorte “vatte”:  Laagvat, hoogvat, plettervat...  Hy beskrywe so ’n plettervat in die eerste toets tussen die All Blacks en die Springbokke op Loftus`.  Die All Black-losskakel, Wayne Cottrell, het, toe hy om die skrum breek, hom in Joggie Jansen vasgeloop.  Dit was Jansen se eerste toets.  Hy het teen die spoed van wit lig op Cottrill afgepyl en sierlik in die rigting van die swart trui geduik.  Die man in die swart trui se rug en agterkop het die grond soos ‘n nat beesvel getref.

Jansen het nog so gebukkend oor sy katswink slagoffer gestaan, asof hy nie bewus was van die skade wat hy aangerig het nie.  Loftus Versveld het nog nooit so ’n plettervat gesien nie.  Die onoorwinbare All Blacks het verward rondgestaan en mekaar afgevra wat gaan gebeur as daar nog 14 ander Joggie Jansens op die veld  is.  Die Springbokke het die reeks gewen.

Sewe jaar later is ons weer op Loftus. Weer grou ‘n plettervat diep dongas in die nasionale psige.  Maar dié keer is dit nie die Springbokke teen een of ander indringer-rugbyspan nie.  Dis ‘n groter stryd:  WP  teen  Noord-Transvaal.

Die eeu-oue konflik tussen WP en Noord-Transvaal ken op geen rugbyveld op aarde sy gelyke nie. Die stryd bring twee geografiese pole bymekaar:  die een bergagtig, beeldskoon en met ‘n see-uitsig; die ander een met vaal, droë winters op platgestrykte vlaktes.  Uiteenlopende mense ook:  Die WP s’n koel en uitgesproke met individualistiese streke. In die noorde, waar die Suid-Afrikaanse Polisie en weermag gesetel is, word dinge weer eenvormig en in gedissiplineerde linies gedoen.

Gerugte doen die rondte dat die Kaap liberaal is.  Die Noorderlinge verkwalik steeds die Kapenaars dat hulle nie aan die Groot Trek of die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het nie.  Daar word gepraat van WP-spelers wat hul stilletjies skaar agter die Progressiewe Party,  die lingse anti-apartheid-takhare wat die heersende Nasionale Party uitdaag.

Wanneer die WP en Noord-Transvaal mekaar op die rugbyveld pak, is dit die naaste wat die land aan ‘n burgeroorlog kom.  Families word uitmekaargeskeur weens botsende lojaliteite en huwelike ly skipbreuk weens ‘n skoonpa se verknogtheid aan die verkeerde span.  In die lig van hierdie emosionele onstuimigheid was dit amper te wagte dat ‘n wedstryd tussen die WP en Noord-Transvaal iets opspraakwekkends sou oplewer.  Die drama wat hom op daardie helder Septembermiddag in 1977 op Loftus Versveld afgespeel het, het egter almal se stoutste verwagtings oortref.

Die wedstryd sou bepaal wie van die WP of Noord-Transvaal tot daardie jaar se Curriebekereindstryd deurdring.  Dit was ‘n klipharde, genadelose stryd tussen twee  provinsiale spanne met genoeg speeltalent om die meeste internasionale spanne te klop.  Elke skrum was ‘n oorlog.  Die laagvatte was hard.  Die losgemale was bendegevegte.

Tot diep in die tweede helfte het die WP met flair en hardnekkige vasberadenheid voorgeloop.  Elke keer as hulle deur die Loftus-skare ge"boe" is, het hulle eenvoudig harder gespeel.  Beter.  Vinniger.

Die hoofster in die Noord-Transvaalse span was ‘n skraal losskakel met blonde hare en ‘n baktand-glimlag – Naas Botha.  En al was hy nuut op die rugbytoneel, was hy reeds die Loftus-skare en Noord-Transvaal se liefling.  Volwasse mans sou streepsakke vol koedoebiltong verruil vir ‘n Naas Botha-handtekening agter op ‘n Gunston 30-boksie.  Elke Pretoria-tannie wou Naas se blonde lokke streel, vir hom ‘n melktert bak en hom aan haar dogter voorstel.

Naas kon nie ‘n voet verkeerd sit nie...  en dis nie net figuurlik bedoel nie.  Naas kon ‘n bal skop soos min ander mense.  Sy lynskoppe – met die regter- of linkervoet – het 60 tot 70 meter ver getrek en op ‘n tiekie geland.  Enige strafskop binne die opposisie se halfgebied het Naas moeiteloos oorgeklits.  Wanneer hy die bal gehad het en daar nie beweegruimte vir ‘n lynskop was nie, het hy sy teenstanders verder frustreer deur ‘n skepskop deur die pale te jaag.  Benewens die feit dat hy die verloop van wedstryde met sy akkurate skoppe kon verander, het hy opposisie-voorspelers hygend in trurat oor die hele veld laat hardloop van die een lynstaan na die ander.

Maar Naas het ook ‘n besonder groot vrees vir ‘n laagvat gehad.  Die gedagte dat hy die slagoffer van ‘n laagvat kon word, was vir hom net so vreesaanjaend soos die vooruitsig om een uit te voer.  En net so moeilik soos dit is om ‘n verskrikte konyn met die hand te vang, so moeilik was dit om Naas te stuit.  Sodra hy ‘n moontlike kontaksituasie gesien het, het hy die bal net daar weggeskop.

Op daardie dag in 1977 was die WP egter in beheer.  Hulle het goed daarin geslaag om die bal van Naas en sy skopvoet weg te hou en enkele minute voor die einde van die wedstryd  het WP met 13-12 voorgeloop.  Maar toe breek die uur van die jagter aan.

Morné du Plessis was nie net die WP se kaptein nie, maar die naaste wat enige Kaapse rugbyondersteuner tot in daardie stadium aan ‘n bomenslike held kon kom.  Hy was twee meter lank, skraal, met hare tot op sy kraag en die slapheup-, drentelhouding van ‘n "rock"-ster.  Morné se  onsterflikheidstatus is die vorige jaar gevestig toe hy die Springbokke tot ‘n reeksoorwinning van 3-1 oor die All Blacks van 1976 gelei het.

Dit het egter nie gekeer dat die hele Pretoria en Noord-Transvaal hom gehaat het nie.  Volgens hulle het hy te los gespeel.  Hy was te koel op die veld en boonop kon hy goeie Engels praat.  Gerugte wou dit ook hê dat Morné teen die Nasionalistiese regering gekant was.  Dus, ‘n tipiese slapgat Kaapse kommunis.

Morné se span was op daardie middag besig om voor te loop,  maar kort voor die einde van die wedstryd loods Noord-Transvaal toe ‘n aanval tot in die WP se halfgebied en Naas se tone begin jeuk.  En wraggies, Tommie du Plessis, die Noord-Transvaalse skrumskakel, kry die bal en gee uit na Naas.

Hy vang die bal, maar presies op dieselfde oomblik tref Morné se skouer hom.  Morné het asof uit die niet verskyn en Naas op volle vaart in die ribbes getref.  Die blondekop se stewels vlieg boontoe en sy kop ondertoe.  Op die naat van sy rug lê Naas soos die Skone Slaapster.

Toe is daar stilte.  ‘n Doodse stilte.

Morné staan regop en gee die uitgestrekte Naas ‘n besorgde kyk.  Die goue kalf is geslag.  Pandemonium breek uit op die pawiljoene.  Vroue spring uit hulle sitplekke en snou Morné woorde toe wat selfs ‘n viswyf sou laat bloos.  Mans spoeg op hulle wedstrydprogram waar sy foto pryk.

Morné word deur die skeidsregter gestraf, maar weens sy ongesteldheid is Naas nie in staat om die skop waar te neem nie – hy is reeds van die veld gedra.  Pierre Edwards, Noord-Transvaal se draadkar-heelagter, klits die skop oor om dit 15-13 in die Ligbloues se guns te maak en WP uit die Curriebeker te boender.

Niks help om die plaaslike ondersteuners se woede teenoor Morné te demp nie en hy moet onder polisiebegeleiding die veld verlaat.  Die verplettering van Loftus se Goue Seun het gewys hoe diep ‘n rugbywrok gekoester kan word, want oor die volgende paar dae was die eindtelling van die wedstryd heeltemal vergete.  Die Noord-Transvalers het net gal gebraak en bloed gesoek.

Een goeie ding het wel daaruit gekom. Dit het aan die WP en sy ondersteuners bewys dat die manne in die streeptruie, ondanks etikette soos  “sagte spelers", Dok Craven se "bloedjies” en “linkse kommuniste” vir geen hardebaarde terugstaan nie.

Die verplettering van die Goue Seun het egter die wig tussen die twee provinsies verder ingedryf en die droom van nasionale eenheid in Suid-Afrika is vereers op die lange baan geskuif.  Jy kan mense immers nie saamsnoer as daar sulke vyandigheid heers tussen Noord en Suid nie.

Slotsom?  Moet nooit die invloed van wettige geweld op die rugbyveld onderskat nie.  Dis wat rugby van ander sportsoorte onderskei.