VREEMDE VLIEËNDE VOORWERP

‘N LEKKER KORSIE VAN PASTEI

U het lanklaas so ‘n interessante gelieg gehoor as hierdie een:

Ons bly tussen Swellendam en Heidelberg, teen die Langeberge, daar waar die bergwind gemaak word.  Ek het my vrou belowe ek sal ‘n dak oor die voorstoep opsit en was besig om sinkplate vas te slaan, terwyl die bergwind al sterker word.  So teen halfelf sê my vrou sy gaan die ketel aansit vir tee.  Ek sê ek wil net gou nog die laaste sinkplaat vasslaan, dan kom ek.  Na ‘n groot geskarrel is ek toe weer op die dak met die plaat besig, dakskroewe  in die sak, een in die mond en die hamer in die hand.  Ek skuif die plaat mooi haaks en sit kruisbeen daarop, net reg om die eerste skroef in te slaan.

Skielik skep die wind my met plaat en al en styg met my op!  Toe ek so ‘n 200 meter in die lug is, kry ek hom lekker onder beheer en ek kies koers see te kant toe.  Oor Stilbaai begin die wind afneem en ek sak al hoe laer.  Nadat ek onder drie branders deur geduik het en amper ‘n walvis gestamp het, lig die wind my weer en stuur die plaat Mosselbaai se kant toe.

Ons draai in George en ek stuur die vlieënde plaat teen die wind op, al teen die Langeberge af terug huis se kant toe.  Ek verwonder my aan Riversdal se lappe pienk heide en aan die lappieskombers van gesaaide lande groen koring en die goudgeel velde canolablomme.

Met die huis in sig bedaar die wind effe en ek kry kans om my plaat mooi regoor die dak te laat sak, en toe hy lê, slaan ek die eerste skroef in!

Net toe kom my vrou uit met die skinkbord tee.  Sy vra hoekom drup die geut dan nou?  Ek sê proe, dis pure seewater!

Met die eenuur-nuus hoor ons die ouens van die George-lughawe is op soek na ‘n Vreemde Vlieënde Voorwerp wat vroeër daar gewaar is.