NUUSKIERIG TOT DIE DOOD TOE

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Gedurende die depressiejare was patrone maar ‘n skaars en duur item, veral in Suid-Wes waar die manne allerhande soorte planne gemaak het om ‘n stukkie vleis in die pot te kry.  Ons wou nie ons kosbare patrone op tarentale mors nie want hulle is tog maar net voëls, maar ons het allerhande soorte planne probeer om tarentale te vang, of om hulle met mielies te verlei.  Ons het maar min sukses gehad totdat ons uiteindelik hulle swakpunt agtergekom het.

Wat jy met hulle moet doen, is om teen skemer in die veld te loop en rustig te gaan sit tot jy sien ‘n swerm tarentale vlieg in ‘n kameeldoringboom in om hulle daar vir die nag te gaan tuismaak.  Dan wag jy tot sterk skemer en stap stadig voetjie vir voetjie nader aan die boom.

  Teen die tyd dat jy die berge se buitelyne teen die blou nag nog net-net kan sien, moet jy al onder die boom wees.

Nou begin jy om in ‘n sirkel al om die boom te loop, voetjie vir voetjie.  As jy kon opkyk en tot bo in die boom kon sien, sou jy opmerk dat tarentaal se kind jou almal volg.  Net voor jy die sirkel byna voltooi het, hoor jy die eerste woeps! agter jou.  Moenie stop nie!  Gaan voort, om en om, en jy sal nog voëls hoor val.

As jy hulle ondersoek, sal jy vind dat die tarentale hul eie nekke omgedraai het deur jou so in die donker te volg.   Ja, nuuskierig tot die dood toe, né?