DIE KLAVIERSTEMMER

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

My vriendin Elsabé het die man aanbeveel, ‘n klavierstemmer van formaat.  Hy stem haar klavier al baie jare lank en hy is blind, voeg sy haastig by toe sy aflui.

My dogtertjies was toe so agt en ses jaar oud.  Ek het hulle dié middag by die skool gaan haal en op pad huis toe het ek hulle van die blinde man vertel.  Ek het aan hulle verduidelik dat hy baie goed kan hoor omdat hy blind is.  Daarom kan hy so goed klaviere stem.  Vanmiddag kan hulle kyk hoe hy ons klavier stem.  Hulle het met deernis en groot belangstelling geluister.

Met ons tuiskoms was die man reeds besig om aan ons klavier te werk. 

My huishulp het hom vroeër binnegelaat.  Die meubels was vir sy gerief uit die pad geskuif.

Hy het net een keer sy kop vlugtig gedraai, gegroet en sy stemmery voortgesit.  Ek was in ‘n verleentheid aangesien ek nie vir Elsabé gevra het wat sy van is nie.  Ek het versigtig ‘n paar vrae gevra.  Nee, hy het nie ‘n vennoot nie, werk alleen, en ja, hy stem al jare lank Elsabé se klavier.

My dogtertjies het weerskante van die klavier gaan staan en die man met verwondering aangegaap.  Die gesiggies het al hoe nader aan sy gesig beweeg, terwyl hulle intens na sy oë kyk.  Daar ís oë, maar dié oë kan nie vir hulle sien nie.  My jongste het haar handjie voor sy gesig verby gewaai voor ek hulle daar weggeroep het.

Ek het tee gemaak, gevra hoeveel suiker, geroer en die koppie pieringloos in sy hande geplaas met sy wysvinger om die oor gehaak. Die koppie is vir sy gerief halfvol gemaak.

Die man het vir my gespanne en ongemaklik gelyk.  Dit het my al hoe meer aangespoor om so ver moontlik te help om hom op sy gemak te stel en vir hom alles so gerieflik montlik te maak.

Toe hy klaar is, het ek sy kontanttjek veilig in sy binnesak gebêre, my arm onder sy elmboog gehaak, hom versigtig by die trappe afgelei en verdere instruksies gegee oor hoe en waar hy sy voete moes plaas.  By die kar mis ek sy chauffeur. Tot my verbasing sluit hy man-alleen sy kar oop en ry weg met ‘n stroewe maar hoflike: “Baie dankie”, geheel en al onafhanklik van my oordadige hulp.

Ek skakel dadelik vir Elsabé.  Sy het nie gesê hy’s blind nie, protesteer sy dadelik.  Sy het gesê hy is Lind ! (Ek wonder wat het mnr Lind van my gedink!)