KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

SNELSTRIKDRAMA

In Januarie 1982 was Gert Pogtieter en ek, Hannes Botha, eendag op reis in Gert se blou bakkie naby Bloemfontein. Die bakkie se snelheidsmeter het 115 kilometer per uur geregistreer en ons twee was in druk gesprek. Gelukkig kom 'n bedagsame motoris van voor af en met flikkerende ligte waarsku hy ons dat 'n snelstrik op ons wag. Gert trap die remme en skaars het ons teen 95km per uur gery of daar voor ons is die verkeersmense in 'n groot groep besig om ons in te wag. Toe ons oor die rubberpypies ry, was ons veilig binne die snelheidsgrens.

Skielik verskyn 'n konstabel voor ons in die pad en met 'n aggressiewe gebaar beduie hy aan Gert om stil te hou. Toe die bakkie tot stilstand kom, neem hy reg voor die bakkie posisie in, trap tartend met die een voet op die buffer en skreeu vir Gert:

" Klim uit!"  Ons merk toe hierdie harige vent wil moeilikheid maak. 'n Ruie bos hare peul onder sy pet uit en hy gluur ons aan. Ewe verbaas klim Gert uit en stap vorentoe.

"Ek wil hierdie bakkie onmiddellik van die pad af kry!" bulder die verkeersman.

"Maar hoekom, meneer?" vra Gert.

"Ek hou nie van sy kleur nie, en my vrou hou ook nie daarvan nie," kom die weerbarstige antwoord.

Gert: "Nou wat is met die kleur verkeerd?"

Verkeersman: "Ek sê jou dan, ek hou nie van die kleur nie en my vrou ook nie!"

Teen hierdie tyd het my bloed begin kook in die motor. 'n Hele span helpers met toerusting was op die toneel. Ek spring uit die motor en hoogs ontsteld vra ek hom:

"Wie gee jou die reg om die publiek so onbeskof te behandel? Wat is jou probleem man?"

Verkeersman: "Meneer, ek hou nie van die kleur nie en my vrou hou ook nie daarvan nie! Die bakkie moet van die pad af!"

”Maar man, ek dink jy moet jou kop laat lees! Ek het lus om jou by die Administrateur van die Vrystaat aan te kla oor hierdie belaglike storie!" voeg ek hom toe.

Toe vra Gert: "Meneer, is hierdie storie van jou nie 'n sielkundige opname om mense se reaksies dop te hou nie?"

Toe tref die klank van 'n bekende stem my meteens.

"Leon Schuster, jou vuilgoed!"

Hy pluk sy pruik en vals snor af en die omstanders bars almal uit van die lag.  Jamie Uys verskyn ook nou op die toneel. Hy was juis besig om tonele te skiet vir die tweede rolprent 'Funny People'.

Die hele drama is verfilm. Leon Schuster het dit die meeste van almal geniet wat hy het gereken ons verskyning op die toneel was die vangs van die dag. Teen daai ou kan niemand wen nie – vra maar vir Kallie Knoetze!