KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
'n Klomp jongmense woon 'n konferensie by waar hulle voorligting ontvang oor hoe om met mense oor hulle sieleheil te praat en hulle van die versoeningsverdienste van Christus se offer aan die kruis te vertel. Na afsluiting van die verrigtinge stap ‘n jongman wat dit bygewoon het, met die straat af na sy huis toe. Hy steek vas voor ‘n vreemde persoon wat in sy rigting aangestap kom en hy besluit om dit wat hy geleer het dadelik van toepassing te maak. Hy vra vir die vreemdeling: “Wil jy graag hemel toe gaan?”
Die vreemde man kyk verbaas op, begin rondtrap en sê naderhand: “Wel ... om die waarheid te sê, ek het nog nie sover gedink nie.”
“Nou ja, gaan dan maar hel toe,” knip ons jong vriend die gesprek kort en stap verder.
Dié voorval het die ander persoon baie gehinder. Daardie aand gaan hy op sy knieë en oor sy oop Bybel ontvang hy naderhand geloofsversekering van die Here dat ook sy siel vir tyd en ewigheid gered is.
Die jongman het hom in werklikheid hemel toe gestuur en nie hel toe nie.