WIE'S JY NOU WEER?

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Annatjie het jare gelede ‘n kêrel gehad.  Hy was ‘n polisieman.  Hulle het altwee in Kaapstad gewoon.  Op ‘n dag moes hy Pretoria toe vir ‘n ses maande lange kursus.  Alle kursusse is daardie dae net in Pretoia aangebied.  Jy kon nog nie so maklik telefonies skakel nie, en dit was nog die tyd voor elektroniese pos.

Hulle het hul vryery met briefwisseling voortgesit, byna elke dag ‘n brief heen en weer.  Maar toe word die spreekwoord waar van vér van jou goed is naby jou skade.  Die briewe het al hoe minder geword, veral van sy kant af.

Daar in Pretoria het hy toe ‘n ander  meisie ontmoet.   Hy skrywe toe vir Annatjie van die nuwe meisie in sy lewe.  Hy skryf hulle kys is uit en sy moet asseblief  die foto wat sy van hom het,  vir hom terugstuur, sodat hy dit vir sy nuwe meisie kan gee.

Annatjie was bekaf, want sy het baie van hom gehou, maar toe besluit sy om hom in eie munt terug te betaal.  Dit neem haar toe ‘n rukkie om ongeveer 15 foto’s van ander jong mans te versamel en stuur almal vir hom en sê dat hy maar moet kies watter een hy is, want sy kan nie meer mooi onthou hoe hy lyk en watter een hy van al haar kêrels was nie.

Sy het nooit weer van hom gehoor nie!