DIE MANGOZ

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die trein was onderweg van Langlaagte na Korthoogte. ‘n Plattelandse kortbroekseun wat dommer gelyk het as wat hy was, sit in ‘n koepee die verbyrollende landskap lusteloos en beskou.  By ‘n klein dorpie klim ‘n man in die wa.  Hierdie passasier het ‘n netjiese pak klere aan en lyk slimmer as wat hy is. Groet skaars die seun.

Hy sit kwalik toe sien hy op die bagasierak bokant die seun se kop ‘n stewige houtkassie met gaatjies aan weerskante in die wande.  Nou is die deftige reisiger nuuskierig en verwerdig hom om ‘n gesprek aan te voor.

“Moet jy ver ry?”

“Korthoogte.”

“O, Korthoogte. Bly jy daar?”

“Nee, ek moet vir iemand iets daar gaan doen.”

“Is dit jou kassie?”

“Ja.”

“Sien daar stewig uit.”

“Dit is ook.”

“Dis seker nogal swaar, né?”

“Dis reg.”

“Daar is gaatjies in, sien ek.”

“Ja.”

“Waarvoor is hulle?”

“Lug.”

“Waarvoor is die lug nodig?”

“Anders sal hy vrek.”

“Wat sal dan vrek?”

“Dit wat daarin is.”

“Wat is daarin?”

“Mangoz.”

“Mang wat?”

“Nee, mangoz.”

“Wat is ‘n mangoz?”

“’n Dier uit Brazilië.”

“Groot?”

“Nee, klein.”

“Mak?”

“Nie baie nie.”

“Sal dit byt?”

“Dadelik.”

“Wat maak mens met so ‘n dier?”

“Sal ek jou vertel?  ‘n Mangoz is ‘n dier wat van reptiele lewe  -  slange en paddas en so.  Ek het ‘n oom op Korthoogte. Goeie mens, maar hy drink.  As hy dronk is, sien hy slange en paddas.  En nou bring ek vir hom die mangoz om hulle op te vreet.”

“Maar,” sê die deftige reisiger uit die hoogte, “wat hy sien is tog maar denkbeeldige slange?”

“Natuurlik, en daarom is dit maar ‘n denkbeeldige mangoz.”

 

Ek soek ‘n regte mangoz om al my vrese op te vreet...