PLESIER VOOR PLIG

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

'N OPDRAG IS 'N OPDRAG

Op  ‘n Saterdagoggend, diep in die Vrystaatse winter, besluit Abram de Wet hy het nou genoeg gehad van die onooglike ou ruïne van ‘n ou opstal wat reg langs sy nuwe spoghuis staan. Die ou huis het metterjare so verval dat dit net goed genoeg is vir ‘n voerskuur. Slange en rotte het die plek betrek en Abram is ‘n netjiese boer.

Hy is ook ‘n goeie sakeman.  Hy besluit hy kan net sowel wins maak uit die sloping van die ou huis.

“Maryna,” kondig hy die aand met slaaptyd aan.  “Kom ek en jy gaan ‘n bietje vir ‘n paar dae Suidkus toe.”  Maryna is vuur en vlam en die Maandag bespreek hulle ‘n woonstel in Uvongo

Abram het al die voer uit die ou huis laat verwyder en in al die vertrekke kruiwavragte droë mielieblare laat inry.

Die dag voor hulle vertrek roep hy sy voorman kantoor toe.  “Petrus, ons ry môre see toe en kom Dinsdagmiddag weer terug.  Ek wil hê jy moet mooi na die plaas kyk, maar ek het ‘n spesiale werkie vir jou om te doen.  Hier is ‘n dosie vuurhoutjies.  Saterdag, as ons weg is, vat jy hierdie vuurhoutjies en jy steek die spul mielieblare in die ou huis aan die brand.  Dan vat jy vir jou ‘n slagskaap, sodat jy en jou familie Sondag lekker kan eet.

Petrus het hierdie wonderlike meevallertjie aangevul met ‘n klompie bier en ‘n bottel brandewyn.  Saterdag net na sonop slag hy die skaap en hy en sy familie begin feesvier soos in g’n jare nie.  Die aand raak sommige van hulle sommer daar om die uitgebrande vuur aan die slaap en Sondagmiddag kom Petrus weer tot sy positiewe en hy voel of hy skedelbreuk opgedoen het.

Vroeg daardie Sondag lui Manie Smit se telefoon op die De Wets se tuisdorp.  Hy is die koöperasie se verskeringsbestuurder.  Die oproep is van Abram de Wet uit Uvongo.

“Ek is jammer om jou op ‘n Sondag te pla, maar ek kry nou net ‘n onsamehangende boodskap hier dat daar die een of ander brand op my plaas was laasnag.  Sal jy nie net asseblief gaan kyk nie?”

Manie voel min lus om dit te doen, maar Abram is ‘n ryk boer en ‘n goeie kliënt wat ‘n groot premie betaal.  Manie bly toe maar uit die kerk en ry plaas toe.  Daar gekom, kry hy geen fout nie, behalwe dat die personeel onkapabel is van die vorige nag se plesier.

Die volgende dag klaar Petrus se verstand op en dit val hom soos ‘n donderslag by hy het gladnie sy deel van die ooreenkoms nagekom nie.  Hy wag tot almal die aand in die bed is voor hy suutjies uitsluip, vuurhoutjies in die hand.  As ‘n man van eer, voer hy Abram se opdrag uit en gaan klim met ‘n skoon gewete agter sy vrou se rug in.