DIE BEDELAAR

Hans du Plessis

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die honger laat hom aanhou loop, en loop is nie maklik nie, die sypaadjie se sement brand warm deur die gat in die linksersool.

En dis juis my linkervoet wat deesdae nie so lekker is nie, dink hy; swaar om arm te wees, sug hy by homself, vloek binnensmonds die vreemde hond wat teen die vreemde hek knor.
Dit is een van die strate wat hy nie ken nie, maar hy het spesifiek vir vandag op 'n nuwe straat besluit, die ou strate gaan nie vandag werk nie; hy voel dit sommer, soos wat hy vooraf weet by watter huis hy watter storie met sy pet in die hand gefrommel, moet opdis. Sy ou kastimmers gee ook nie meer geld nie want hulle ken al sy stories oor die kindertjies by die huis wat nie skoolgeld het nie, en die siek vrou wat ook nie meer kan werk kry nie. En hy wat nie kan werk nie. "Die long, Mevrou, asbesmyne is nie 'n grap nie." As hy net vooraf geweet het Ermelo het nie asbesmyne nie...

By 'n hek verder af in die straat draai 'n nuwe wit Mercedes uit. Goeie straat, besluit hy en soek 'n groot huis sonder 'n toe hek. 'n Man moet jou wegholroetes ook fyn beplan, party mense hou mos die hond in die huis tot hulle die deur oopmaak.

Die sproeiers loop tikke-tik, en die struike is groen, die gras blink in die oggendson. Koelte. Die voordeur het 'n versierde klokkie. Dit speel 'n lied wat hy nog nooit gehoor het nie.

Hy wag. Dis 'n groot huis, hulle moet seker ver loop voordat hulle by die voordeur kan kom. Hy wag.

Verkeerde huis, verkeerde vrou, weet hy toe sy die deur oopmaak.

"Môre, ek is van die kerk..."

"Ek sal by die agterdeur met jou praat. Loop om." Sy maak die deur toe.

Kan dit die moeitewerd wees om om te loop? Aan die ander kant: ek is nou al tot hier.

"Die kerk..." begin hy by die agterdeur.

"Die kerkstorie werk nie by ons nie," en sy draai terug in die kombuisdeur. Netjiese vrou, dink hy, maar sy gaan net 'n ou brood gee.

Die halwe brood is in dun, deurskynende plastiek, maar hy kan sien dit is ou brood.

Sy begin die deur toemaak.

Hy maak aamborstig keelskoon.

"Ja?"

"Die vrou van die huis, is nie miskien hier...?"

Die Swart vrou glimlag nie: "Ek ís die vrou van die huis!"

"Askies, Miesies."

Hy skud sy kop as hy uitloop. Dié land is ôk nou so op sy kop, dink die Witman, ek verstaan niks meer nie.