SOOS EERS

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

P G du Plessis het hierdie baie interessante skets van hom so genoem. Hy sê hy het ‘n  “uitpak”-gesig, want almal kom altyd hulle probleme voor hom bieg.  Hy sê:

Jy moet die gesig daarvoor hê.  Nou wát dit is wat die ding in ‘n gesig sit, sou ek nie kon weet nie, maar as hy daar is, dan is hy daar, en dan ly jy.  Ek praat van ‘n uitpak-gesig.  Daarmee bedoelende dat die eienaar van so’n gesig gedoem is om die probleme, die intieme detail, die geheimsinnigste wense van ander mense aan te hoor.  Dié soort gesig wat die dienaars van kerke wat aan die bieg glo, sou wou hê.

Jy word, met so’n gesig, bygeloop op partytjies oor ingroeiende toonnaels, verontregtings deur huweliksmaats, verneukery deur broers,  die onregverdigheid by die werk, die probleme met tienderjarige kinders en so verbrands voorts.

Ek het so ‘n gesig, so, met mooiigheid het dit niks te maak nie – seker meer met my vermoë om almal aan te hoor en die ongeloof uit my oë uit te hou.

Soos die dag toe Sarina haar liefde vir Lewies oor middagete begin bieg het.  Dit was op drie dae na, twee jaar gelede.  Nou ken ek Lewies.  Hy’s ‘n man van gewoontes.  In sy woonstel lê die klere en die skoene ook maar hopies om die bed.  Die skottelgoed hoop op in die wasbak tot hulle op is; die plate se omslae word nie weer omgesit, ná die speel nie; ‘n prent wat skeef hang, doen dit maande lank; gloeilampe word net vervang wanneer die donker Lewies daartoe dwing.

Toe kom sê Sarina my oor die ete hoe lief sy Lewies het, hoe die ding al die jare in haar was sonder dat sy dit besef het.  Sy klink soos ‘n Mills en Boon-slot, sy was so lank verskriklik alleen in die aand.

Terwyl sy die liefde in haar bors besing en byvertel hoe dankbaar ‘n mens moet wees om deur so iemand liefgehê te word, skuif sy haar mes en vurk mooi haaks en herrangskik die blommetjies waarmee die restaurant die tafeltjie oorbevolk.

Ek vra haar twee dinge:

  1. Of sy bly is dat Lewies haar vat, en
  2. Wat sy dink van sy gewoontes.

Sy antwoord:

  1. Dat sy, in haar soeke na die ware liefde -  waaraan sy haar lewe tot haar dood toe kan wy – nie genoeg dankie kan sê Boontoe dat sy iemand met soveel adel raakgeloop het nie, en
  2. Dat sy weet na watter gewoontetjies ek verwys.

Dit is juis vir haar so dierbaar.  Wat maak ‘n ongewaste motor saak, ‘n onopgemaakte bed, wanneer die liefde daar is?  Vir haar is juis die ontspanne manier waarop Lewies die lewe hanteer so pragtig.  Veral omdat sy al soos ‘n regte oujongnooi begin oorgeorganiseer geraak het.  Vir haar is dit ‘n verlossing van oormatige aandag aan onbenullighede.  As dit dan moet, sal sý dan maar vir hom die telefoon betaal.  Met liefde.  Sy wil die stadium van hul liefde aandui, en sy sê dat sy so van sy wakkerword hou.

Ek en Lewies was saam in ‘n koshuis.  Lewies kry sy positiewe eers ná tien minute.  Tot dan soek hy na sy tandeborsel en hy hang lank aan die kant van die wasbak voor hy oorgaan tot borsel.

‘n Jaar na die dag van haar ontboeseming, reeds tien maande getroud, eet ons weer saam by dieselfde kongres. Ek haal my bieggesig uit en ek vra haar twee vrae:

  1. Of sy bly is sy het vir Lewies  gevat, en
  2. Of sy lekker saamleef met sy gewoontes.

Sy antwoord:

  1. Dat sy soms nie meer so seker is of sy en Lewies werklik vir mekaar bedoel is nie, en
  2. Dat dit nie lyk of sy hom uit sy onnetheid sal kan kry nie.

Ek moet sien hoe lyk die motor waarmee sy vandag moes ry, en sy sal nie die hope rommel in die garage vir hom gaan opruim nie.  Sy het besluit om nie meer ‘n enkele stuk klere agter hom te loop en optel nie. Hy kan dit self doen.  En as die man net in die oggend soos ‘n ordentlike mens wil wakker word.

Vanjaar, twee jaar ná die huwelik, by die kongres, vra ek Sarina by die ete twee vrae:

  1. Of sy bly is sy kan haar lewe met Lewies deel, en
  2. Of sy lekker saamleef met sy gewoontes.

Sy antwoord:

1 en  2.  Dat sy siek is om met ‘n vark saam te leef wat in die oggende soos ‘n afkophoender te kere moet gaan voor hy wakker is.  Sy is siek vir ‘n afgesnyde telefoon, ‘n vuil kar, klere in die gang.  Sy kan hom net nie meer uitstaan nie. Die huwelik was ‘n fout. Hulle pas net nie.

Omdat ek ‘n bieggesig het, voorspel ek hiermee die antwoord op volgende jaar se kongres. Dit kan twee dinge wees:

  1. Hy moet nou maar opfoeter, ek stel regtig nie meer belang nie. . . maar ek is te bang vir die óú eensaamheid, om te skei, of;
  2. Ons is toe geskei.  Dit was nie so erg nie, maar die alleenheid vang my verskriklik as dit aand begin word.   Soos eers, ja soos eers.