OP DIE PAD NA BITTERFONTEIN

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Oom Willem, my pa se goeie vriend en buurman, se plaaswerker van baie jare is skielik dood en oom Willem besluit toe, uit respek vir die getroue werker, om vir hom ‘n goeie doodkis in Kaapstad te gaan koop.  Oom Willem spreek met my pa af om saam te ry en sodoende die lang pad korter te maak.

Saterdagoggend pak die twee toe die vier uur lange reis Kaap toe aan met oom Willem se blou-en-wit Chevrolet-bakkie.  Daar gekom, het hulle redelik vinnig die doodkiskopery afgehandel, maar toe moes hulle nog ‘n bietjie inkopies vir die vroumense doen.  Uiteindelik kon hulle die terugtog plaas toe aandurf en oom Willem het die ou Chev redelik hard gery, want hulle wou nog voor donker tuis wees.

Net anderkant Piekenierskloofpas laai hulle ‘n ryloper op wat Springbok toe wou gaan.  Hulle waarsku hom oor die doodkis agter op die bakkie, maar stel hom darem gerus dat dit leeg is.

Hulle vat weer die pad en ry teen ‘n lekker spoed toe dit skielik fyn begin reën.  Die ryloper agter op die bakkie kry teen dié tyd al kwaai koud en besluit dat hy nie kans sien om nog nat ook te raak nie.  Daar en dan klim hy toe ook sommer in die doodkis en kort daarna is hy vas aan die slaap.

Die twee mans voor in die bakkie gesels lekker oor alles en nog wat en vergeet skoon van die ryloper.  Teen dié tyd reën dit al kliphard en hulle moet noodgedwonge stadig ry.

Kort duskant Trawal kry hulle nog ‘n ryloper langs die pad.  Die ou lyk sleg, sopnat en half verkluim, en net daar word hy ook opgelaai. Sy storie is dat hy die vorige aand ‘n bietje kwaai gekuier het en toe hy die oggend nie vroeg genoeg by sy saamrygeleentheid was nie, is hulle vort Bitterfontein toe sonder hom.

Tussen Klawer en Vanrhynsdorp hou die reën op en oom Willem vreet die Chev-bakkie.  Die ryloper in die doodkis het intussen wakker geskrik en wonder of dit nog steeds reën. Hy lig die deksel effens en steek sy arm uit om te voel of die reën nog val.

Die ander ryloper sien die hand uit die kis kom, gee een paniekerige gil en spring van die bakkie af.  My pa sien hoe hy bolmakiesie slaan, opvlieg en vir ‘n vale hardloop, veld in.  Oom Willem gooi amper die bakkie om soos hy probeer stop, die doodkis se deksel val die “ingelegde” ryloper se hand nerfaf . . . en tussen die bossies deur hardloop die “afvallige”  nog steeds dat hy vaal word, maar beslis nie in Bitterfontein se rigting nie.