IS DIT HOE BREINSPOELING WERK?

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

PG du Plessis

Hy weet nie waar reg en geregtigheid lê nie, sê Jan Odendaal vir my, want hy weet nie of ‘n man nou juis op dinge kan roem waaraan jy niks hoef te gedoen het nie.  Dink hy maar, sê hy.

Ons ken mekaar al jare, ek en Jan Odendaal, en ek kan hom dus maar reguit sê ek verstaan nie ‘n woord wat hy sê of iets van die rigting waarin hy praat of waarom hy nou skielik met so’n wysheid by die gesprek aangesit kom nie.

Die omstandighede waaronder ons verkeer is ook nie lekker nie, want êrens aan die romantiese Wildekus, weet ons, is die vrou wat ons albei van kleins af liefgehad het, nou besig om deur die ondenkbare aksies van haar wittebrood te gaan.

Saam met haar nuwe man, Jollie Dijkman.  Bid jou aan:  Jollie Dijkman.  Stel jou voor:  Jollie Dijkman. Wil jy nou sowaar:  Jollie Dijkman.  Jollie Dijkman van alle mense.  Dik Jollie Dijkman.  Jollie Dijkman, die eenkant, onaanvaarbare klier van ‘n mens.

Hy, Jollie Dijkman, besit nou, ondenkbaar, ons pragtige, sagte, liewe, o so begeerlike Tildatjie. Dié Tildatjie wat saam met ons skool toe is met kort haartjies, die Tildatjie met die vlegsels in standerd vier, die Tildatjie van die hoërskool wat onder ons oë begin vrou word het.. . . eers met te lang bene, toe, op ‘n dag, met ronder heupe, voller figuur, sagter oë, dieper stem. . . Die Tildatjie wat deur die matriekafskeid gesweef het in haar droomrok en ons drome.

Dié Tildatjie is nou êrens aan die Wildekus in die arms van Dijkman.  Dié Dijkman wat nêrens in ons groep aanvaarbaar was nie, wat nêrens gepresteer het nie, wat groter puisies had, onhandiger was, simpeler as enigiemand anders wat ons geken het.

Nou sit ek en Jan Odendaal maar die verlies en deurtob, en hy verduidelik sy stelling.

“Ek het mooi kuite, “ sê Jan, “maar eintlik het ek hulle present gekry.  En my neus is reguit en ek het ‘n sterk ken. . . “

Jan was nooit beskeie oor die voortreflikhede van sy uiterlike nie.  Maar die feit dat hy skielik toegee dat dit meer uit genade as verdienste is, beteken dat hy dalk ‘n nuwe beskeidenheid wil verwerf.

“Ek het geen reg gehad om te dink Hildatjie sal vir my lief word net oor ek ‘n aantreklike ou is nie.”
Tot sover beskeidenheid.

“Tot jý,” en hy kyk my krities aan, “is beter as Dijkman.”

Dis in ons geselskap nie ‘n dawerende kompliment om hoër as Dijkman geskat te word nie.  Dis soos om vir iemand te sê hy’s hoër as ‘n wurm.

Hy vra die kernvraag en maak die kernstelling:  “Wat is daar aan Dijkman dat al die meisies skielik so agter hom aan was?  Hy het Annie ook vuurwarm gevry.”
Annie is Jan se suster.

“Ek het Annie gevra hoe dit is dat sy Dijkman aan haar kon laat vat, en weet jy wat sê sy?  Sy sê hy is die mees romantiese man in die dorp, en Tildatjie kan haar ou skoene agterna gooi . . . en sy sou wat wou gee as Dijkman haar gevat het . . . Hoe verstaan jy dit?”

Ek verstaan dit nie.  Niemand verstaan dit nie.  Want ses maande vroeër wou geen meisie Dijkman eers aankyk nie en moes hy hom tevrede hou met dié wat nêrens anders geholpe kon raak nie.

Dijkman is nie dom nie.  Op skool het hy bogemiddeld gevaar, maar was nie onder die presteerders nie.  Hy kon geen sportspan haal nie en sy pogings tot sport was, om die minste te sê, potsierlik.  Kultureel het hy niks vermag nie.  Deur die Weermagjare het hy geswoeg en sonder rang gebly. Op universiteit het hy deurgeskraap.

En toe ons almal hier op die dorp terug was, was Jan Odendaal besig om prokureur te word, ek het my rekenmeestersgoed agter die rug gehad, Koos was ‘n dokter, en ons almal was op Tildatjie verlief – veral toe sy hier kom skoolhou het.

Dijkman het bedags sy winkeltjie bestuur en in die aand het hy by die plaaslike fliek gekyk dat die projektor loop en die film nie te veel breek nie.

Hy het altyd kaartjies vir ons almal gehad, want ons klomp het maar saam gefliek wanneer die nuwes kom.  Dis omtrent al wat op die dorp gangbaar was aan uitkom saans as jy nie aand vir aand wil sit en TV kyk nie.

Dit was met die saamfliekery dat Tildatjie en Annie en die meeste meisies wat ons geken het, Dijkman so aantreklik begin vind het en ons skielik minder aanvaarbaar.

En nou stap ek en Jan Odendaal die straat af om te gaan koffie drink by Waltman se kafee, en ons harte lê diep in ons, want Tildatjie is ondenkbaar ver, in die arms van Dijkman, op hul wittebrood, waaraan ons liewer nie wil dink nie.

Waltman se kafee sit langs sy fliek, en ons gaan daar in en ons gaan sit sommer by oom Flip wat aan die gang bly met enige neembare en verkwanselbare foto van die dorp.  Troues, klasportrette die kerkraad, babas en so.  Hy het Dijkman en Tildatjie ook afgeneem:  aantrek, kerk, resepsie.

Ons praat sommer.

“Nee,” sê Flip, “die troue het goed gekom.  Tilda is seker die mooiste bruid wat ek in my lewe die voorreg gehad het om te fotografeer.  Soveel liefde en bewondering het ek in my lang loopbaan as fotograaf nog nooit uit ‘n bruid sien straal nie.  Pragtig!  Sy is seker die mooiste meisiekind wat nog uit die dorp gekom het.  En sy is lief vir daardie Dijkman . . .al fotografeer die man nie goed nie.”

“Oom Flip moenie van hulle so bymekaar praat nie . . .hulle pas nie . . .”  sê Jan.

“Dié kan jy wragtie weer sê . . .As daar  ‘n ding soos geld aan Dijkman was, sou ek gedink het Tilda vat hom vir sy geld.  Vir wat anders?  Maar geld het hy nie . . .hy skuld my nog vir daardie foto’s van julle klomp wat hy hier laat maak het.”

“Van óns?” vra ons, want ons weet nie van so iets nie.

Dit blyk toe dat hy van ons almal 35 mm-deurkykfoto’s laat maak het..  Baie.  Van hom ook.

Dis toe dat Waltman, van die kafee en die fliek, by ons kom sit en sy eie mening oor Dijkman gee.

“Die man is simpel,” sê Waltman.  “Simpel.  Hy het my in die grootste moeilikheid by die verspreiders van die films laat beland.  Hy het die goed sommer met foto’s gelas.”

“Wie se foto’s?” vra Jan.

“Hulle het die films teruggestuur en gesê ek moet die goed behoorlik las,” sê Waltman.

“Wie se foto’s het hy gebruik om die films te las?” vra Jan.

“Wat ek gesien het, julle s’n.  En sy eie.”

Toe oom Flip en Waltman loop, vertel Jan my dat as jy een raampie in ‘n film sit, kan jy die ding nie eens agterkom nie, maar jou oog sien hom en hy beïnvloed jou sonder dat jy weet.  Hy wys my boeke van hoe dit in die advertensiewese verbied is, en ek sê: “Ek glo dit nie.” Maar Jan sê ons moet vir Waltman aanbied om daardie films vir die vervaardigers skoon te maak.

Ons doen dit en ons sien hoe Dijkman sy eie gesig in die romantiese tonele ingeglip het en ons s’n tussen die kroeks. Dié dat almal so van hom begin hou het en ons eenkant toe gestoot het.

Toe Tildatjie terugkom, is sy omtrent verbaas om te hoor  ek en Jan help nou by die projektor.

En toe die huwelik begin skeef loop, het Dijkman sy werk by die projektor kom terugvra, want hy het Tilda niks aangedoen nie en sy beskou hom deesdae as walglik, ongemanierd, wreed en so voort.

Jan sê hy weet nie of hy Tilda na die egskeiding gaan vat nie, want met die nuwe romantiese beeld wat hy onder die dorp se meisies het, het hy eintlik nie ‘n huwelik nodig nie.Waltman kan nie verstaan hoekom ‘n prokureur sy projektor verniet bedien nie.

Net Dijkman probeer sy werk terugkry, want dit gaan nie goed met die huwelik en die winkel nie.

Dié dat ek maar vir Tildatjie gaan vat.  Sy kon dit tog nie help nie.