SÓ LYK DIT AS SATAN JOU REGEER

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

PG du Plessis noem hierdie skets NYD:

Nyd.  Dis die woord. Nyd.

Nou weet ek driekwart van die hedendaagse Christene ken nie eens meer die woord nie, laat staan nog om te weet die ding is sonde.

Laat my dan maar verduidelik.  Nyd, sê die woordeboek, is iets soos baie bitter jaloesie; hy’s haat se boetie en hy’s afguns se ouboet.  So:  is jy nydig, dan gun jy niemand spesifiek,  of jou medemens in die algemeen, nie sy kolletjie sonlig nie.  Jy gun hom nie ‘n mooier motor as joune nie,  jy gun hom nie ‘n sagte geliefde in sy nag-arms nie; jy gun haar nie witter wasgoed, slimmer kinders, suksesvoller mans, beter matte nie.  So iets.  In Engels heet bure-nydigheid Jones.

Kry die begrippe reg, want ek wil vertel van die Knoetses.  Hulle middelname moes almal met ‘n “N”  begin het.  Karel N Knoetse,  Johanna Wilhelmiena Nydiena Knoetse.  Jacobus Nydarius Knoetse.

Dan moet ek bysê dat, soos alle vorme van die sonde, die nyd hom in twee basiese gedaantes voordoen.

Die een is waar jy met donker afguns na ander se sukses, vermoëns, of sy beter wat-ook-al kyk, maar na buite jou bek hou.  Dis passiewe nyd.  Aktiewe nyd, daarenteen, is waar jy iets aan die saak doen.  En as jy ‘n Afrikaner is, ken jy die meeste sisteme:  Lyk iemand goed, kraak jy hom of haar af deur op ‘n seer puntjie te druk; klim hy na ‘n nuwe pos toe, dan vertel jy dat hy dit nie verdien nie, dat hy gekruip en gebluf het om die ding te bekom, dat hy die geld gaan steel, die personeel gaan vervreem, ens.

Die Knoetses was aktief.  Hier by ons het die mense gesê as ‘n Knoetse moet hel toe, kan hulle maar die vuur onder hom doodmaak; hulle moet hom net ‘n ander Knoetse wys wat ‘n beter vuur het, dan het hy hel genoeg.

Sal ‘n Knoetse ‘n motor koop, dan sal die ou Knoetses sê hy het  1) te veel vir die ding betaal; 2) dis ‘n dud wat gekoop is; 3) hy gaan hom verongeluk in die ding, want bestuur kan hy nie;  4) hy moes êrens gesteel het om die ding te koop; 5) hy’s nou so van die skuld dat die kinders sal moet pap eet om die paaiement by te bring,  en wanneer het jy laas ‘n ordentlike rok aan sy vrou, Sannie, se bas gesien? Terwyl meneer sy kaalbas op die leersitplekke sit en skuur; 6). . . 7). . . 8). . . tot by 70x7.

Die jonger Knoetses sal ongemerk langs die motor af stap en met ‘n sleutel of ‘n muntstuk ‘n lekker groef langs die blink bakwerk afkrap, of hulle sal die lugdraad in die verbyloop afbreek of miskien ‘n skerp dingetjie voor die wiel sit.

Dis nou Knoetses hier by ons.

Daarom was dit so ‘n aardigheid as een van die Knoetses begin vry het.

Vryasies – sal u onthou – geskied naas fisieke aantrekking, hou-van, redelose liefkry, hondjie-en- halsbandjie-maneuvers, ook op hoorsê.

Die bevryde leen haar rooi oortjies uit aan raadgewers; die vryer leen sy, moontlik nog klam, ore uit aan vriende, kroeggenote en ander in sy onmiddellike kring.  Veral ouers en voogde luister knaend na hoorsê en steek stokkies voor.

Vryers, en dis ‘n wet, luister altyd na almal, behalwe hul ouers.  En al sal hulle hul nooit van hul onnoembare begeertes laat afpraat nie en net kwaad word en verdedig as iets skeefs oor die onderwerp van hul belangstelling gesê word, dra hulle die sade van wat hulle voorhuweliks gehoor het, die huwelik binne vir latere gebruik tydens die rusies, die egskeiding, die vervreemding en ander dinge wat die huwelik as instelling kenmerk.

Net, die Knoetses hier by ons het dit soms reggekry om die liefde dood te skinder.

As jou naam Sannie N Knoetse is, het die ander Knoetses jou eer teen die derde kuier so weggeskinder dat jou vryer skielik om ander redes as die tere liefde kom kuier en voorstelle doen wat jou haartjies laat rys.

As jou naam Koos N Knoetse is, word die voordeur voor jou verbaasde gesig toegeslaan deur ‘n woedende vader selfs voor jy self, by wyse van spreke, kan toeslaan.

As jy iemand niks gun nie, dan gun jy hom allermins enige moontlike huweliksgeluk. Want jou eie ervaring van die liefde was realisties; syne lyk altyd beter.  Dis waar die gras anderkant die draad vandaan kom.  Niks groens vir hom nie -  nie terwyl jy aan die verdroogde strooi van jou eie groenigheidjie moet staan, of lê, en herkou nie.

Nou hoe teel die Knoetses dan aan? is die vraag wat nou by my leser opkom.

A! Oor hulle Knoetses is – nyd-spesialiste, met ‘n insig in die waarhede van menswees.

Vat nou Fielie N Knoetse wat na Annatjie van Wyk begin vry het.

Die derde aand toe sy motortjie voor haar deur staan, het die Van Wyks al gehoor:  Fielie het 1) nie inbors nie (dis die vae skimp, waar die Knoetses net die gedagte los en anderkant toe kyk asof hy iets verskrikliks van  Fielie weet); 2) hy’s los met meisies en dink net aan een ding (dis waar die Knoetse jou vors in die oë kyk om sy stelling te onderstreep, maar weier om verder te praat, want hy weet jou verbeelding is beter as wat hy kan vertel; 3) kan nie sy hande van geld afhou nie (dis waar die Knoetse sy kop skud en nie verder praat nie, want hy weet Fielie spaar, maar van Wyk moet dink Fielie steel;  4. . . 5). . . 6). . .

Wat doen jy wat Servaas van Wyk is, wat jou dogter rein probeer grootmaak het?  Wat haar alleen die beste in die lewe gun?  Wat nie wil sien dat sy haar weggooi op Fielie N Knoetse nie?  - ‘n ventjie met 70x7 foute uit die mond van sy eie familie.

Jy klap die deur in sy gesig toe.  Jy sê vir jou dogter se snikkende agterkop op die kussing dat jy hom nie goedkeur nie, dat sy hom nooit weer moet sien nie, dat as hy weer hier kom, jy sy kop vir hom gaan inslaan.  En die moeder kom troos die snikkende agterkop en sy sê Pappa van Wyk bedoel goed, dis uit liefde dat hy dit doen en my kind sal sien, eendag sal daar ‘n man verbykom wat jou waardig is.  En sy sit haar hand versoenend op die kind se blad en verstaan nie hoekom die blad die hand woedend afskud nie.

Dis nou by die Van Wyks.  Fielie sê net een ding:  ek sal julle wys!

As ‘n Knoetse besluit om jou te wys, gaan hy soos volg te werk:  hy kry sy feite agtermekaar. In die geval van Fielie, doen hy sy navorsing tussen die privets waar hy en Annatjie nou skelm vry agter Barends se garage.

Dan gebeur dinge:  Sarel N Knoetse se ryp koring brand een nag af toe die gevaarwind waai;  tant Sannie Nydiena Knoetse verongeluk amper teen die bult af, omdat haar briekpypies afgeknip is; iemand skiet op Gert N Knoetse sonder rede.  Sulke dinge.  Dan weet die Knoetses Fielie gaan hulle terugkry tot versagting toe.

Maar dit is nou sommer tersyde, want die Knoetses doen dit maar altyd.  Die eintlike punt is:  Fielie loop een aand oor na die Van Wyks toe en gaan vra ouers.

Van Wyk probeer die voordeur toedruk, maar Fielie se voet is al in en deur die skreef sê hy vir Van Wyk daar’s iets wat hy van Van Wyk weet wat die tannie sal wil hoor. Dan kom Van Wyk uit en vra wat is dit en Fielie sê 1) nee, sommer niks, hy wil eintlik met die tannie praat (want Van Wyk se agterkop loop nou al sy kasgeraamtes na, en dis wanneer ‘n Knoetse effentjies glimlag, net soos ‘n Knoetse effentjies kan glimlag; 2) hy weet dit sal nie maklik vir die oom se gesinslewe wees nie (dan kyk hy vors na Van Wyk asof hy ‘n bitter ding moet doen, maar die waarheid móét seevier) ; 3). . . 4). . .

Van Wyk maak uiteindelik die deur oop en seën die huwelik, en oortuig die tannie en vra sy dogter om verskoning.

Dis soos die Knoetses hier by ons getroud kom.  Oor hulle nyd hulle geleer het:  Niemand is sonder gewete of sonde nie. En almal vrees die halwe waarheid, en die skimp is magtiger as die woord, en die liefde onkeerbaarder as die ouer. . . in die meeste gevalle.