VAARWEL, GELIEFDE VYAND !

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Kom ons geniet saam met  P G  du Plessis ‘n man se frustrasie omdat sy geliefde vyand dood is en nie meer daarvan bewus sal wees hoe heerlik-intens hy sy nagedagtenis bly haat nie!

Jy kry nie ‘n grens nie, of daar word oor die ding baklei.

Bakens, penne diep onder die grond, landmeters, énigeen kan vir twee strydende partye met jota, tittel en onverstaanbare driehoeksmeting kom bewys dis só en nie anders nie, maar een van die twee gaan kwaad daar weg oor die onregverdigheid van die wiskunde, die omkoop van regeringsamptenare, die dinge wat hy gehoor het toe hy gekoop het, of wat sy pa hom nog persoonlik uitgewys het.

Hy sal sy eie landmeter kry as hy weer een kan bekostig. . .

Elke keer as ek sien hoe gooi John McEnroe sy rakette rond, of as ek verneuk voel oor ‘n lynbeslissing in die muurbal, dan besef ek weer:  jy sien dinge in jou guns maklik raak, en dié waar jy dalk verneuk kan word, nog makliker.  Maar in albei gevalle sien jy meestal verkeerd.  Jy sien wat jy wil sien.  John sien letterlik die bal wat uit is, in, al is daar met sy oog kennelik nie veel verkeerd nie – vandaar sy raket-gooiery.

Strepe is ook maar grense.

Maar hier by ons het die oumense ‘n ding gehad waar die middel van die rivier ‘n grens vorm.  So van buite af bekyk, ‘n heel verstandige manier van afbaken.  Wat hulle nie in gedagte gehou het nie, is dat riviere hul lope kan verander en dat die aanduiding soos byvoorbeeld ‘n boom in die middel van die rivier, ‘n ding is wat kan vrek, of oorwoeker kan word deur ander bome wat later kom opslaan.

Naas erfporsies en liefde deur die draad, is riviergrense die grootste oorsaak van familietwiste, broederhaat, naasteveragting en slegte buurskap.

Dis soos dit gebeur het dat ons hier by ons ‘n merkwaardig permanente en hewige vyandskap beleef het.  Dit was ‘n bekende feit dat twee voorbeeldige mense meer Nagmale oorgeslaan het oor siedende woedes as wat behoorlik is.

Oom Koos en sy vyand, meneer Sandvliet, se ding het glo begin oor ‘n stukkie vlei.

In die dae voor waterwese alles kom beduiwel het met sy verbiedinge, het die oumense leivore uitgehaal.  Dan vat hulle dit al hoe verder van die rivier af weg tot hulle naderhand in die rivierlandjies kan lei.

Maar nou het van die leivore hulself mettertyd te buite gegaan.  Hulle is so hier en daar met ‘n graaf aangehelp, en hulle begin met elke vloed hul pad groter vreet, tot hulle naderhand oorneem en soos die rivier begin lyk.  Soos aangetroude familie.

En dan laat so ‘n leivoor tussenin ‘n vlei, of ‘n stukkie land.  ‘n Nabotsmorgie of twee.

Dan sal oom Koos nou een aand ná huisgodsdiens weer die kaart en transport onder uit die hangkas haal en die ding bekyk, en die strepe wat hy sien, en die omskrywings, en die middel van die rivier soos dit daar staan, en sal vir sy vrou sê hy dink daardie draad van meneer Sandvliet is bietjie optimisties gespan.

Dan sal hy meneer Sandvliet nader, en dan sal dié sê hy’s laf,  die draad staan al daar van hy sy verstand het, en die een woord oor die ander, en volgende maand gebruik nie een van die twee Nagmaal nie oor hulle beswaard is oor hulle naaste en nie ‘n oordeel oor hulself wil drink nie, want die sonde lyk na ‘n lang en moeilike proses.

As liefde so welig gegroei het soos vyandskap, sou ons ‘n wonderlike wêreld bewoon het.  Maar nou kan Sarel van oom Koos skielik nie anders as om skelm by die Sandvliet-dogter te kom nie, en met die perdeskou is die twee aanmekaar oor reël drie van die grondwet, en by die koöperasie groet hulle mekaar nie, en hulle skinder hulle vrouens warm, en by die Boerevereniging staan hulle teen mekaar vir possies, en soms gee hulle gladnie vir die kerk nie, en soms te veel omdat die ander een baie gegee het.

Die families groei uitmekaar, en by die skool kom die kinders nie meer klaar nie, en hulle begin van hul vriende verwag om van die ander partye af weg te bly as hulle wil vriende bly, en so gaan dit aan.

Dis dan soos vyandskap lyk: wanneer die een die ander niks gun nie;  wanneer die een net die ergste van die ander verwag; wanneer die een die donker in die ander se liggie sien.

Dan kom doodgaantyd.

Doodgaan is hier by ons nog ‘n ernstige saak.

Soms smee hulle ‘n tydige vredetjie, soms nie.  Maar,  soos in boedels, is daar ‘n langslewende.

Toe Sandvliet dood is, het die mense vertel hy het nie met oom Koos vrede gemaak nie en die ligsinniges het gesê oom Koos moenie nou aan die drade skuif nie,  Sandvliet gaan kom spook.

Die dag met die begrafnis kry ek oom Koos tussen die graf en die onthaal.

Hy is nie in ‘n goeie bui nie en hy spreek my aan:

“Jong, vir jou het ek nou al weke nie tyd nie,” sê hy.

“Maar, oom Koos, ek het oom niks gemaak nie,” sê ek.  “Wat’s dit nou met oom?”

“Jy skryf goed in die koerant wat my nie aanstaan nie.  Jy skimp op ‘n mens soos ‘n vrot dominee.  Soos die man wat vandag vir Sandvliet neersit sonder om eers te skimp op sy inhaligheid.”

Ek vra na my sonde.  Dit handel, sê oom Koos, in terme te sterk vir vandag se koerant, oor daardie storie van die ou vrou wat na-áand so alleen geword het oor al haar ou vriende voor haar geplant is.

“Jy skimp op my en Sandvliet se vyandskap,” sê hy.  “Ek het mos oë om te lees.

Ek verstaan nie.

“Dis die dag as jy jou vyand verloor dat alles vaal word,” sê hy.  “Hy het ‘n simpel begrafnis gehad, en ek kan dit nie vir hom sê nie.  Ek gaan beter begrawe word en hy gaan dit nie sien nie.  Nou lê die ou bokker daar en hoe sal ek hom vermaak?”

Dis vyande ook, nie net vriende nie, jammer oom Koos, verskoning, maar hoe op aarde het ek geskimp soos ‘n vrot dominee?  Ek weet die rivier is ook óns grens, maar dis aan óóm se kant waar daar gesteel word. . .