DIE GESTEELDE BYBEL

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

'N WARE VERHAAL

Dit was ‘n geskenk van haar oorlede moeder  -  die Bybel wat vir Mary Dane so dierbaar was bo alle ander dinge.  Sy het dit jare lank gebruik.  Uit die Bybel het sy vir die verwaarloosde seuns van haar Sondagskoolklas voorgelees, en baie van hulle het daardeur tot bekering gekom, sodat dit gelyk het of daar ‘n besondere seën van die Bybel uitgegaan net.

Maar nou is dit weg.  Sy het tien maal die waarde van die boek belowe as beloning vir die een wat dit sou terugbring, maar tevergeefs!  Haar Bybel het nie teruggekom nie.  Al wat vir haar oorgebly het was om te bid dat dit ‘n seën sou bring aan die persone in wie se hande dit sou val.

Toe breek die oorlog uit.  Mary Dane het haar woonplek verlaat om in ‘n hospitaal as verpleegster te gaan diens doen.  Daar het juis ‘n vreeslike slag plaasgevind,  en die hospitaal was vol gewondes en sterwendes.  Onder die gewondes was daar een wat vir haar bekend gelyk het, hoewel sy hom nie dadelik kon plaas nie.  Hy het haar sy naam genoem en gesê:

“Ek is die seun wat u Bybel gesteel het.  Ek het dit vir die grap gedoen.  Maar toe u vir ons vertel het hoe baie u van die Bybel gehou het omdat dit u moeder s’n was, was ek te hoogmoedig om te erken dat ek dit gedoen het, omdat dit sou lyk asof ek dit vir die beloning gedoen het.

“Spoedig het ek weggegaan.  Ek het al slegter en slegter geword  - hoe sleg durf ek u nie vertel nie.  Maar u Bybel het ek by my gehou met die plan om dit tog eenmaal aan u terug te stuur.  Na verskeie swaar gevegte is ek gevange geneem, maar ek het ontsnap en uitgehonger weer by ons troepe uitgekom.

Al die tyd het u Bybel my gekwel.  Ek het probeer uitvind waar u was.  Daarop het ek in u Bybel begin lees, maar gedurig was dit of die Woord my in die gesig slaan.  God se gebooie het my verskrik en die saligsprekinge het my beskaam.  Hoe meer ek gelees het, hoe onrustiger het ek geword.

Toe het ek aan my majoor bely wat ek gedoen het.  Hy was ‘n bruuske mens, ‘n vloeker wat aan niks geglo het nie.  Hy het my uitgelag en gesê dit was gemeen van my om die Boek te steel, maar die Boek self was niks beter as ander boeke nie.  Ek het egter anders gedink en meer as ooit daarin gelees.  Daarop het ek die Here Jesus om vergiffenis begin bid. Hy het my vergewe en in sy groot genade my hart verander.  Toe het ek vir my majoor begin bid.

Gister, toe ek gewond is, het hy by my gekom om my te sê dat hy nie van my kon loskom nie.  Hy wou graag iets vir my doen.  Ek het hom gevra om u Bybel uit my sak te haal.  U sien, albei my hande is weggeskiet. Hy het belowe om daarvoor te sorg en as hy u ooit sou vind, dit aan u terug te besorg.  Hy het my toe hier gebring en weer na die vuurlinie vertrek. Maar die Here sal hom lei, soos Hy met my gedoen het.  Mag God hom seën. . . . "

En met daardie gebed het hy sy laaste asem uitgeblaas.  En Mary Dane het sy gebed oorgeneem dat die verlore Bybel sou voortgaan om tot seën te wees vir almal wat dit in die hande sou kry.

Jare het verloop en al die tyd het Mary Dane in haar geboortestad onder die ruwe straatjongens gearbei.  Dit was wonderlik hoe baie deur die verhaal van die Bybel beweeg geword het. Of was dit die antwoord op haar gebede?

Op ‘n Sondag het ‘n welbekende evangelis die seuns van haar klas toegespreek.  Hy het die eenvoudige geskiedenis van sy bekering vertel en gesê dat hy dit te danke gehad het aan ‘n jong soldaat en sy Bybel.  Toe haal hy uit sy sak ‘n Bybel tevoorskyn wat met koeëls deurboor en met bloed bevlek was en vertel aan hulle die geskiedenis hierbo.

“ Seuns,” sê die gewese majoor,  “die gebed van die sodaat en sy Bybel het my deur genade van God van ‘n goddelose, ruwe mens, tot ‘n ootmoedige dissipel van die Here Jesus gemaak en tot ‘n arbeider in sy wingerd.  En oral waar ek die geskiedejnis van die Boek vertel, lyk dit asof mense daardeur geseën word,  sodat ek glo dat meer mense daardeur na Christus gebring is as deur al my prediking.  Maar nooit is my die voorreg gegee om die eienares van die Boek te vind nie, hoewel haar naam duidelik hier voorin  geskrywe staan:  Mary Dane.”

Meteens roep al die seuns wat nie meer in staat is om hulself te bedwing nie, soos uit een mond uit:  “Hier is sy!  Dit is haar Bybel!  Sy het ons alles daarvan vertel.”

Toe Mary die langverlore Boek terugkry, het sy God gedank vir alles wat dit reeds gedoen het, en het sy Hom gesmeek dat dit sy geseënde werk moes bly voortsit.