OOM PIET SELATI

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

DIE SMALHORINGKOEDOE EN DIE LEEU

Oom Piet Selati se pyp is yskoud, so gesels hy.

“Transnet, sê jy.  O, jy bedoel Spoorweg.  Ja, ja, ek ken die spoorweg.  Ek het lank daar gewerk.  Ek was kondukteur op die Selatilyn reg deur die Wildtuin oor die staalbrug by Komati, Tzaneen tot in Phalaborwa. . .  Dis ‘n warm plek daardie.  Ja, ek ken hom.

“Ja nee, dis warm aarde daar.  Ek dink nou weer aan die dag toe ons, dis nou ek en Twaalftand van der Merwe een middag weer met die goederetrein van Phalaborwa op pad was.  Twaalftand en die stoker was voor en ek was in die aapkas agteraan die trein.  Dit was warm, kompleet of die son in die middel vasgesteek het.  Ek het die deure van die trok weerskante oopgemaak, en omdat Twaalftand haastig was na sy vrou toe, het hy maar die 16-klas oopgetrek.  Sien, hy het dinge nie so lekker vertrou met die SM nie.  Dis nou die stasiemeester.  Hoe dit ook al sy, tot die wind wat by die deure inwaai, was so warm dat dit jou skroei.

Met dié dat ek so vat na die bieliekan vir ‘n beker koffie, hoor ek ‘n slag en sien ‘n grys streep by die een deur in en anderkant uit, en toe ek loop kyk, storm ‘n bruin gevaarte my amper uit die trok uit.  Die bieliekan trek daar en die ding is ook anderkant uit.

Toe ek weer my balans kry, loer ek by die deur uit en sowaar, daar gaan hulle!  Dit was ‘n yslike koedoebul met ‘n leeumannetjie vlak op sy hakke.  Toe besef ek, hulle is by hierdie deur in en by daardie een weer uit, reg deur die wa, so in die ry.

“Jy sê die trein se deure is maar aan die nou kant.  Dit is so, maar. . . ‘n smalhoringkoedoe met ‘n leeu op sy stert, gaan daar maklik deur, hoor.”

Oom Piet, smalhoringkoedoes is ‘n bietjie skaars!