KORSIES OP DIE RUGBYVELD (2)

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

ELKE  TREE  TEL

Hennie Muller se Transvaalspan speel een naweek teen die WP op Nuweland.  Een van die WP-manne was Thys du Plessis, wat vroeër vir Wanderers in Transvaal gespeel het.  Voor die wedstryd het van die Wanderersspelers in die Transvaalspan ou Thys skertsend gewaarsku dat hulle hom in die wedstryd sou “regsien.”

In een stadium kry Thys die bal en loop dat dit bars.  Hy het al ‘n hele ent gevorder toe hy die onheilspellende gedoef van Hennie Muller se tokse agter hom hoor.  Thys het geweet dis tyd om vinnig uit te gee, maar daar was niemand onmiddellik naby nie en hy gooi die bal toe woes doer na die vleuel se kant toe.

Die volgende oomblik word hy egter uit die aarde geloop van agter af.  Toe Thys effens mankerig opstaan, sien hy dit was Muller.  Vies vra Thys:  “Maar Hennie, jy kon mos sien ek het nie die bal nie!”

Muller het net gelag en gesê:  “Jy dink tog nie ek sal die hele ent hol vir niks nie?”