DIE MOTORFIETSRIT

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Twee broers van Kimberley wat gereeld probeer het om al die brandewyn van die aardbol af te drink, kom een aand oorbedien, veral die jongste een, uit die hotel uitgestap.

Hulle moes huistoe ry met Ouboet se motorfiets, een van die modelle wat aan die brand geskop word.  Jy moet dan wydsbeen oor die motorfiets staan en ‘n pedaal hard met jou regterbeen aftrap.

Toe Ouboet oor die motorfiets gaan staan, klim Kleinboet  sommer dadelik agterop.

  Hy klem sy bewerige hande styf om Ouboet se rug en knyp sy oë toe want as die wêreld om jou kantel, is ‘n motorfiets ‘n gevaarlike ding, dié dat Kleinboet sy bene so styf om die motorfies klem; dit lyk asof hy 'n perd bloots ry.  Dit veroorsaak natuurlik dat die skopwerk vir Ouboet baie moeilik gemaak word.  Met die skoppery kantel die motorfiets kwaai na die linkerkant, dan weer regs.

Tot Kleinboet later van agteraf laat weet:  “Ouboet, nóú moet jy stadiger deur die draaie; jy gaan vanaand nog ons nekke breek!”