WIE SPEEL, JY OF EK...

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

In hierdie dorpie het die luuksheid van elektrisiteit nog nie bestaan nie.  Die inwoners het saans lampe gebruik en in die groot ou kerkgebou is die wind wat die orrel se klank voorsien het, deur ‘n blaasbalk geproduseer.  Die klein ou mannetjie wat elke Sondag tydens eredienste die blaasbalk getrek het sodat die orrel sy mooi klanke kon lewer was baie trots op sy werk.

Daarom sê hy een Sondag na die diens vir die orrelis:
“Ons het darem vandag baie mooi gespeel, né?”

Die orrelis trek toe neus op en sê:
“Wat sê jy? Ons?  Dis mos EK wat speel; nie ons nie!”

Die volgende Sondag begelei hy weer al die liedere altemooi toe die orrel in die middel van ‘n gesang skielik net wegraak en die gemeentesang saam in die stilte wegsterf. 
Die orrelis was nog besig om tevergeefs op die dooie note rond te druk toe die ou blaasbalktrekkertjie se verplooide gesiggie om die hoek van die orrel verskyn:
“Sal jy volgende keer sê  ‘ONS’ ?”