JAKKALS SE BILTONGSTREKE

BOEKRAK VIR AFRIKANERJIES

Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies

Van daardie dag af toe Jakkals ou Wolf se stert so vasgevleg het in die grasdak van sy huis, het Wolf elke dag geloop en dink hoe hy vir Jakkals kon terugbetaal.  Hy het gewens hy loop hom weer raak, maar Jakkals het sy lyf skaars gehou, want hy het geweet ou Wolf soek na hom.

Op ‘n goeie dag sien Wolf vir Jakkals ‘n ent van hom af teen ‘n klip sit en  lekker kou aan 'n stuk wildsbiltong.  “Nou het ek hom,” sê Wolf en hy probeer dink wat hy moet doen.  Maar ou Jakkals het hom lankal gewaar en hy weet baie goed wat hy gaan doen.  Hy spring op en draf vinnig nader.  Hy is tog te bly om sy goeie ou vriend wat so lank weg was, weer te sien.

“Ag, jy’s net die regte man op die regte tyd.  Proe net hier!”  Hy gee hom die stukkie biltong wat nog oor was.  “Ek skuld jou ‘n goeie brekvis en nou gaan ek jou sommer ‘n halfdosyn daarvan betaal.”

Ou Wolf weet nie wat om te doen nie.  Hy vertrou ou Jakkals nie, veral nie wanneer hy so vriendelik is nie.  Maar die biltong lyk tog te lekker en ou Jakkals smak só met sy lippe dat ou Wolf sommer die stuk biltong gryp en dit heel insluk.  Dit was só lekker dat hy meer wil hê.

“Waar kan ek nog daarvan kry?  Toe, sê gou!”

Ou Jakkals lag en sê:  “Ag, ek het nou so baie daarvan geëet dat ek nie kan hardloop nie, anders sou ek vir jou gaan wys het.  Maar dit is so maklik om daar te kom, dat ek nie hoef saam te gaan nie.”

“Sê maar net waar die plek is waar jy dit gekry het,” sê ou Wolf.

“Sien jy daardie pad?  Nou ja, daar sien jy die spoor van ‘n wa wat netnou daar verby is.  Al wat jy moet doen, is om hier in die veld langs deur die hoë gras te hardloop tot jy ‘n hele endjie voor die wa is en dan gaan lê jy in die pad en maak asof jy morsdood is.  As die boer met sy wa op jou afkom, sal hy sê:  ‘Ag kyk, hier lê ‘n dooie wolf.  Ek sal hom huis toe neem en afslag.  Sy vel sal ‘n mooi matjie voor my vrou se bed maak.’  Dan tel hy jou op en gooi jou agter op die wa en dis daar waar al die biltong is.  Man, daar is sakkevol!  En dan lê jy ‘n rukkie stil en wanneer die man besig is om die osse te dryf, gooi jy ‘n sak biltong af en gly jy stilletjies langs die briek af.  En wat wil jy meer hê?  Man, ek wens ek kan saam met jou gaan!”

Jakkals vryf ewe droewig oor sy maag en ou Wolf wonder wat voer hy nou al weer in die mou, maar die smaak van daaardie stukkie biltong laat sy mond water.

“Het jy jou biltong ook so gekry?” vra hy.

“Dis al wat ek gedoen het.  Ek kan nou nog nie ophou lag as ek dink hoe ek daardie kêrel gefop het nie”.

Ou Wolf twyfel nog, maar die biltong is te lekker om die kans om nog meer daarvan te kry, te laat verbygaan.

“Ek sal daaroor dink,”  sê hy.  Hy spring weg en kom ‘n goeie half kilometer voor die wa in die pad.  Hy gaan lê en maak of hy dood is.  Die wa kom aan en die boer sien die dooie wolf in die pad lê.

“Ag, toe nou!  Hier lê al weer een van hulle, né?  Hierdie een is nie weer ‘n jakkals nie; dis ‘n wolf.  Hy dink ek gaan hom ook op die wa gooi, sodat hy met ‘n sak biltong kan wegloop.  Maar ek sal vir Oom Kool ‘n lessie leer.”  Sy sweepslag tref ou Wolf met ‘n knal teen sy ribbes en toe oor sy kop en voordat hy hom kon opraap, dreun die houe oor sy rug.  Ou Wolf gee net een skreeu en storm die veld in.  Die boer kom agterna en jaag hom ‘n entjie voordat hy na die wa teruggaan en sê:  “Ek is seker jy sal hierdie speletjie nie weer probeer nie.”

Ou Wolf hardloop volstoom totdat hy ‘n rantjie bereik.  Hy gaan lê agter ‘n klip en hyg en begin om die seer plekke aan sy lyf te vryf.  Hy kyk op en sien hoe woes die boer die osse dryf en die heerlike sakke biltong verdwyn uit die gesig, maar toe sien hy langs die rantjie vir ou Jakkals wat daar lê en rondrol soos hy lag.

Arme ou Wolf.  Wat kon hy sê?  Sy lyf is so seer dat hy ‘n tyd lank op sy pens moet lê.  Hy probeer om te dink, maar toe skud hy maar net sy kop, omdat Jakkals hom al weer so 'n poets gebak het.  Toe begin hy maar na sy huis toe aansukkel.

Dis nie vir ou Wolf meer lekker om tuis te wees nie.  Nadat hy die huis klaar gebou het, is hy toe met Wolfina getroud, maar sy het hom sommer uit die staanspoor uit ‘n hond se lewe laat lei.  Sy verwyt hom gedurig dat Jakkals sy stert vasgedek het en toe met die bene gegooi het en nou weer met die biltong gekul het.  Ou Wolf voel dankbaar dat hy niks van al die ander kere vertel het nie, maar die bietjie wat sy geweet het, was meer as genoeg om haar tong dag in en dag uit besig te hou en dubbel soveel op Sondae.  As sy van al die ander kere geweet het, sou sy nie nog meer kon gepraat het nie, want daar is maar sewe dae in die week.  Ou Wolf voel al of hy gaan gek word as hy haar nie stilgemaak kry nie.

Hy besef dat hy ou Jakkals op een of ander manier goed moet straf, of anders sal hy verplig wees om van sy vrou af weg te loop.  Dis nou net een van twee.  Maar hoe hy ou Jakkals gaan straf vir alles wat hy hom al aangedoen het, weet hy nog nie.  Hy loop so diep-ernstig en dink dat hy nie oplet waarheen hy op pad is nie en toe hy hom kom kry, staan hy voor ou Jakkals se huis.  Hy spring vinnig agter ‘n bos in en loer of hy nie vir ou Jakkals gewaar nie.

Dit  lyk of Jakkals nie tuis is nie, want daar trek geen rook nie en die deur en die venster is dig toe.  “Nou is dit my kans,”  sê ou Wolf.  “Vandag gaan ek daardie Jakkals ‘n goeie les leer.  Ek gaan nou in die huis in en kruip agter die deur weg en wag tot hy kom, en dan sal ek vir hom die wêreld warm maak.  Ai, sal ek hom tog nie kasty nie!  En as ek met hom klaar is, sal daar net ‘n vetkol op die vloer wees.  Dit sal al wees wat van hom oorbly.”

Ou Wolf gaan kruip toe agter die deur weg en was skaars vyf minute lank daar of hier kom ou Jakkals.  Maar hy is nie ‘n swaap nie.  In plaas van om sommer binne te gaan, loop hy eers al om die huis en kyk of alles nog veilig is en nog net so is as wat hy dit laat staan het.  Hy kry toe ou Wolf se spoor en vermoed toe dat ou Wolf miskien binne in die huis kan wees.  Hy dink ‘n bietjie en sê toe vir homself:  “Ek sal my ou huis vra of daar iemand in is.”  Toe roep hy tog te stroperig:  “My ou huis, my ou huis!”  Hy wag, maar daar kom geen antwoord nie.  Hy roep weer:  “My ou huis, my ou huis!”  Maar die ou huis bly stom.

Toe sê hy hardop:  “Dis snaaks, daar is iets verkeerd met my ou huis.  Hy antwoord my altyd, maar vandag roep en roep ek en kry geen antwoord nie.”

Ou Wolf hoor elke woord agter die deur en hy dink:  “As ek antwoord, sal hy dink dis sy ou huis wat met hom praat en dan sal hy inkom.  Ou Jakkals is nie hierdie keer so slim soos altyd nie, anders sou hy my nie laat hoor het dat sy huis moet antwoord nie.”  Ou Wolf dink hy weet nou wat hy moet doen.

Jakkals begin skelmpies te lag en hy roep weer:  “My ou huis!  My ou huis!” en ou Wolf antwoord stadig en saggies:  “Kom binne.”
Ou Jakkals skater dit toe uit van die lag en begin om klippe na die deur te gooi.  “Kom uit, jou ou skelm!  Dink jy ek ken nie jou stem nie?  En daar steek jou stert nog boonop onder die deur uit.”

Ou Wolf voel so kwaad soos ‘n meerkat.  Hier het ou Jakkals al weer ‘n groot gek van hom gemaak.  Hy swaai die deur oop en storm op Jakkals af.  Maar die ou vos het betyds die loop geneem.  Wolf kan hom nie inhaal nie en Jakkals bokspring van pure pret, wat ou Wolf nog woedender maak.  Hy moes toe maar die wedloop staak en moedeloos terugkeer na sy huis en die pratende Wolfina.  Hy het gevoel hy moet nou iets doen, of hy gaan wolwegif eet.