HEUNING KAN 'N RATEL SOET MAAK

BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES

Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies

Klein Taaiman was ‘n baie slim ratelseuntjie wat vindingryke planne kon bedink om ‘n happie heuning te bekom, want soos alle ander ratels was hy versot daarop.  Maar hierdie kêreltjie was ‘n klein verwende, stout seuntjie wat gruwelik deur sy ma bederf is.  Sy wou nooit iets sleg van hom glo nie en sy het hom gereeld probeer beskerm wanneer Pa Ratel hom wou pakgee oor sy kwaaijongstreke.

Pa Ratel het ‘n knapsak vol heuning gehad wat hy in sy slaapkamer gebêre het.

Elke môre wanneer hy die huis verlaat en Ma Ratel in die kombuis besig is en hul dogtertjie, Willemientjie, ewe soet in die huis rondspeel, is klein Taaiman self ook baie besig.  Hy wag net tot almal uit die slaapkamer is en gaan sny dan met sy knipmes vir hom ‘n stuk heuningkoek af, wat hy dan in sy sak druk.   Dan loop hy ewe doodluiters uit die huis uit om dit êrens buite op ‘n stil plekkie waar niemand hom kan sien nie, ewe smaaklik te gaan sit en opeet.

Na ‘n dag of wat het Pa Ratel agtergekom dat sy heuningsak ligter geword het.  Hy kon dit nie begryp nie en roep toe vir Ma Ratel en sê:  “Hier gebeur iets snaaks.  Die heuning kry voete.”

“Nou wat kan jy verwag?” sê sy.  “Jy laat daardie klein niksnuts van ‘n Willemientjie oral in krap.  Sy doen net wat sy wil en jy glo my nie as ek kla nie.”

Toe stap Ma Ratel met ‘n kwaai frons op haar gesig en met haar neus in die lug by die deur uit en sy gaan gee die arme, onskuldige Willemientjie ‘n deftige loesing.

Gedurende die volgende paar dae het Pa Ratel se heuning in die knapsak nog maar steeds verminder.  Dit het vir almal gelyk of Pa Ratel daar niks aan kan doen nie, maar niemand het geweet hoe hard hy daaroor loop en dink nie.

Een môre, net toe die ratels hul ontbyt klaar genuttig het en die familie nog aan tafel sit, haal Pa Ratel ‘n stuk pruimtabak uit sy broeksak uit en sê:  “Leen my jou knipmes asseblief, seuntjie.”

Klein Taaiman haal toe sy mes uit sy sak en gee dit vir sy pa.  Pa Ratel maak toe die mes oop en hy sien en voel hoe taai die mes se lem van die heuning is.  Taaiman besef dat hy uitgevang is en hy sit kliphard en dink watter leuen nou sy bas kan red.

Pa Ratel spring op en kry hom beet.  “Nes ek gedink het.  Dis jy wat my heuning steel, né!”

“Daar het jy dit al weer!” skree Ma Ratel.  “Jy beskuldig hom voor jy weet of dit waar is.  Jy gee hom nie eers kans om iets te sê nie.”

“Daar’s geen praatjies nodig nie,” sê Pa Ratel.  “Die heuning op sy mes vertel mos vir jou die storie.”

“Maar dit is geen heuning nie,” sê Taaiman toe hy sien sy ma trek weer vir hom party.   “Dis maar net soet gom wat ek gister langs die spruit gekry het.”

“Soet gom?” sê Pa Ratel.  “Nee kyk, ek is darem ouer as jy en ‘n boom wat soet gom dra, het ek nog nooit gesien of van gehoor nie.”

“Wel, dan het jy nou van een gehoor,” sê Ma Ratel op knorrige trant.  Dit wys jou net hoe vernuftig hy is.  Laat staan hom.  Hy sal jou daardie boom gaan wys.”

“Ja, ek sal vir Pa die boom wys,” sê Taaiman, nou al weer ewe parmantig.

“Goed, ek gaan nou ander werk doen, maar vanmiddag gaan wys jy vir my daardie boom, of ek wys jou iets.”

Toe sy pa uit is vra sy ma:  “En wat gaan jy nou doen, seuntjie?”

“Ek gaan hom die boom wys, Ma.  Gee my net ‘n ander knipmes, dan sal Ma sien.”

Met die mes in die hand draf Taaimantjie toe na die spruit en kies vir hom ‘n jong doringboom uit wat ‘n bietjie apart staan en nie veel gom aan het nie.  Met die mes skraap hy elke krieseltjie gom van die boom af tot hy heeltemal seker was dat daar niks oorgebly het nie en gaan toe weer huis toe.

Na ‘n rukkie kom ou Ratel van sy werk af ook by die huis aan en wou toe dadelik die wonderlike boom gaan bekyk wat die soet gom dra.  Klein Taaiman neem hom toe daarheen en sê:  "Kyk Pa, hier is die boom.  Kyk net hoe skoon het ek die soet gom afgeskraap, want dit was baie lekker.”

Pa Ratel bekyk die boom en sien die plekke waar die gom gesit het.  Hy probeer om met sy naels nog ‘n stukkie af te kry, maar klein Taaiman het sy werk so deeglik gedoen dat daar werklik nie ‘n krummeltjie oor was waaraan ou Ratel kon proe of dit werklik soet gom was nie.

Hy kyk klein Taaiman aan en vra: “Wanneer gaan hierdie boom weer soet gom dra?”

Sy slim seuntjie antwoord dadelik:  “O, elke môre sit die boom vol soet gom.  Die son moet in die dag op die boom skyn en dan kom die soet gom in die nag uit.”

“Goed,” sê ou Ratel, “môre vroeg kom ek daarna kyk.  Jy raak dit nie aan voor ek hier was nie.”

Met die terugstap huis toe het Taaimantjie al hoe vroliker begin word, want hy het al klaar weer ‘n skelmstreek beplan wat sy bas moes red.  Maar ou Ratel het self ‘n plan in sy kop gekry, want toe hy wegstap om te gaan werk, neem hy sy knapsak met heuning saam maar het nie geweet dat klein Taaiman reeds 'n stuk heuningkoek afgesny het nie.

Die volgende môre was ou Ratel al vroeg besig om los werkies op die werf te doen.  Klein Taaiman kon toe ongesiens nog voor ontbyt na die doringboom gaan.  Hy meng die heuning met gom en smeer dit oral aan die boom.

Onderwyl hulle besig was om te eet, voel Taaimantjie besonder vrolik en sit gedurig en glimlag.  Na ete neem hy toe vir Pa Ratel weer na die gomboom en jou werklik waar, hierdie keer het die boom weer heelwat stukke soet gom gedra!  Ou Ratel proe daaraan en sê dit is baie lekker.  Toe haal hy ‘n nuwe knapsak uit sy sak en sê:  “Vat hier, seuntjie, skraap al die heuning van die boom hierin af en dan bly jy sommer hier en skraap dit elke môre af tot die knapsak vol is.”

“Maar Pa, dit sal ‘n baie lang tyd neem voordat dit vol is,” sê Taaiman benoud.
“Dit maak nie saak nie.  Jy kan vir jou hier ‘n huisie maak.  Dink net hoe lekker jy dit hier sal hê, sonder iemand wat jou oppas.”

Toe skrik Taaiman groot, maar daar was niks aan te doen nie en hy moes daar bly.  Teen die middag se kant waag hy dit om huis toe te gaan.  Hy kom daar al huilende aan, maar ou Ratel betoon hom geen genade nie en dryf hom met die sambok terug.

“Hoe kan jy so iets doen?”  skree Ma Ratel.  “Hy het jou mos die boom gewys en jy het self die soet gom geproe!”

“Dis waar die moeilikheid lê,” sê Pa Ratel.  “As ek nie daaraan geproe het nie, sou ek nie geweet het nie.  Ek het in my heuning wilde alwynsap gegooi en die gom van daardie boom wat ek geproe het, was galbitter.  As Taaiman slim genoeg is om sy pa se heuning te steel, is hy ook slim genoeg en groot genoeg om van nou af vir homself te sorg.  Dit sal hom sy vernuf op ‘n nuttige manier laat gebruik.”

Ma Ratel het geraas en te kere gegaan, maar dit het alles niks gehelp nie want Pa Ratel het vas by sy besluit gestaan. Die oorsaak van die hele moeilikheid was maar net omdat ‘n ratel nie sy mond van heuning kan afhou nie.

Eers toe klein Taaiman erken het dat dit hy is wat die heuning gesteel het en aan die boom gesmeer het, en ook belowe het om nooit weer skelm te wees en daaroor te jok nie maar altyd die waarheid te praat, het Pa Ratel hom laat huistoe kom. Van toe af was klein Taaiman 'n heunngsoet klein ratelseuntjie.