JAKKALS MAAK WOLF VARKWAGTER

BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES

Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies

Ou Wolf was so gewoond om maar al om die ander dag as hy honger is, te gaan jag en met ‘n wildsbok huis toe te kom.  As Jakkals dit dan agterkom, dink hy dadelik ‘n  paar skelm planne uit hoe om ook van ou Wolf se wildsvleis in die hande te kry. Die runderpes wat oor die land uitgebreek het, het egter baie beeste van die boere laat vrek sodat hulle groot skade gely het maar baie wildsbokke het ook die lewe ingeskiet en vir tye lank het die aasvoëls floreer en feesgevier.  Nadat dit alles verby is, het kos baie skaars geword, veral vir Wolf en Jakkals. Maar wild was nou so skaars dat selfs die lui Jakkals moes uitspring om te kyk of hy nie iets kan vang nie.  Maar daar was niks.  Toe kom hy op ‘n boer se plaas af waar daar ‘n klompie varke was.

Hierdie varke het baie in die lande gepla.  Dan gryp die boer ‘n sweep en gaan verdryf hulle, maar hy is skaars in die huis, dan is hulle weer in die land.  Dit maak hom baie kwaad.  Hy vee die sweet uit sy gesig en waarsku dat hy hulle sal doodskiet as hy nie gou ‘n oppasser vir hulle kry nie.  Dan gryp hy weer sy sweep en storm al agter hulle aan.

Ou Jakkals het dit alles gesien en begin planne maak om van hierdie varke in die hande te kry.  Toe die boer weer met sy sweep agter hulle aan is, wag Jakkals tot hulle in ‘n graspan kom en probeer toe om hulle verder weg te dryf, maar die boer sien hom en klap met sy sweep ‘n knalhou kort agter Jakkals se stert.  Hy skrik so dat hy amper deur sy vel spring.  Hy sit af na die suikerrietland en gaan kruip daar weg.

Daar sit hy aan allerhande planne en dink hoe om ‘n vark of twee in die hande te kry onderwyl hy aan ‘n stuk suikerriet kou.  Hy besluit dat ou Wolf net die regte ou is om hom te help.  Hy sluip weg na die rivier toe en kom by die drif en begin om na ou Wolf te roep.  Toe ou Wolf met die paadjie aan die anderkant van die drif aankom, maak ou Jakkals of hy groot skrik.
“Wat makeer jou, man ?” skree hy.

“Ek makeer niks,” sê Wolf.  “Ek voel so fris en vet dat ek wens hier was ‘n bietjie wild wat ek net vir die pret kan gaan jag.”

“Moet dit tog nie glo nie,” sê Jakkals met ‘n vroom bakkies.  “Jy lyk vreeslik!  Kyk die rooi en geel vlekke in jou oë.  Wat het jou oorgekom?  Kyk die vel onder jou kakebene en die hare op die kroon van jou kop.  Jy is baie siek, man!”

Ou Jakkals is so ernstig dat ou Wolf onrustig word.  Hy het nie ‘n spieël nie, maar hy probeer om die plekke wat ou Jakkals opnoem, te bekyk.  Hy draai sy lyf en hy draai sy oë tot hy so skeel kyk dat hy byna die vel om sy ribbes losskeur en sy stert omkrul soos hy beur.  Toe hy nie een van sy twee oë kon sien nie, dink hy dat daar regtig iets met hom verkeerd is.  Hy probeer om die vel onder sy kakebene te sien en draai en kronkel soos ‘n slang.  Naderhand staan hy op sy kop met sy bene in die lug en slaan reg agteroor en kom op sy rug in die modder te lande.  Hy kruip uit en gaan sit moedeloos op ‘n klip.

“Kan jy my sê wat moet ek doen?” vra hy, want Jakkals is koning Leeu se dokter.
“Ja man, jy is hopeloos ondervoed.  Die besssies en pampoene wat jy so ’n lang ruk geëet het, is baie ongesond.  Dit gee jou geelsug.  Jy moet vir ‘n lang tyd net vleis eet. Dit is die enigste geneesmiddel.  Ek het agtergekom waar ek vleis kan kry, maar dit is net genoeg vir my.  Maar omdat jy so siek is, gaan ek dit met jou deel.  Ons is mos ou maats.  Kom hiernatoe, dat ons kan praat.”

Toe ou Wolf deur die vlak watertjies van die drif kom, dink hy:  “Ou Jakkals is darem die gaafste ou wat ek ooit raakgeloop het.  Dis baie goed van hom.  Ek sal dit nooit vergeet nie.”
Hy kom by ou Jakkals en vra:  “Waar is daardie vleis?”

“Die ding staan só,” sê Jakkals.  “Oorkant daardie spruit loop ‘n klomp varke op ‘n boer se plaas.  Hulle pla vreeslik in die mielieland en vreet ook al sy waatlemoene op.  Die boer soek iemand om hulle op te pas.  Gaan verhuur jou aan hom en dan jaag jy hulle ongemerk hier na die spruit toe en dan sal ons twee met hulle werk.”

Ou Wolf gaan toe na die plaas en die boer neem hom in sy diens.  “Pas nou goed op en hou jou oë oop.  Daar is ‘n jakkals hier iewers.  Ek het hom al agter die varke gesien,” sê die boer vir hom.

“O, ek sal uitkyk vir daardie jakkals.  Ek het hom ook al gesien.  Hy kan my nie kul nie.”
Ou Wolf jaag toe die varke na die spruit waar ou Jakkals vir hom wag.

“Wat moet ons nou doen?” vra Wolf.

Jakkals haal die koutjie suikerriet uit sy mond en lag so onderlangs.  “Nou dryf ons hulle hier in die vlei in.  Dan vang ons hulle en sny hulle sterte af.”

Hulle doen dit toe.  Maar dit was harde werk en die son was warm.  Naderhand kom ou Wolf agter dat hy al die werk alleen doen, terwyl ou Jakkals net bevele gee.

“Wat doen ons nou met die sterte?” vra hy.

“Sien jy daardie moddergat?  Steek nou al die stertjies in die modder in met die kwassies na bo."

Nadat ou Wolf daarmee klaar was, vra hy: “Wat nou?”

“Jy sal dit gou genoeg sien.  Maar jy moet nou eers na die boer toe gaan en sê die wildehonde het die varke in die modder gejaag waar hulle almal versmoor het; net hulle stertjies steek uit.  As die boer dan vra waarom jy hulle nie uit die modder getrek het nie, dan sê jy dat jy probeer het om dit te doen, maar jy het byna self ook in die modder versmoor.”

“Moet ek my dan met modder besmeer?”  Ou Wolf lyk nie baie lus daarvoor nie.

“Nie net besmeer nie, man!  Jy moet in die modder rol.  Wag, ek sal jou help.”

Voor ou Wolf mooi weet wat aangaan, stamp ou Jakkals hom agteroor in die moddergat in.  Ou Wolf se bek was van verbasing wydoop en toe hy op sy rug in die papperelsel beland, sluk hy nog ‘n paar groot happe daarvan in.  Onderwyl hy spartel om weer uit te kom, kruip ou Jakkals op die wal rond soos hy lag en gooi ou Wolf met nog meer handevol modder vir die pret.

Uiteindelik is ou Wolf uit die gemors.  Hy probeer die modder uit sy oë krap, sodat hy vir Jakkals beter kan sien.  Ou Vos staan hand in die broeksak vir ou Wolf en kyk, asof hy ‘n perd is wat hy wil koop.  “So ja, nou’s jy reg.  Die boer  sal  glo dat jy die varke wou red en hy sal jou beloon.  Jy lyk nou soos die aakligste ding op vier pote in die veld, maar jy is die nuttigste maatjie was ek ooit gehad het.”

“Ag so, né?” kreun ou Wolf.  Hy weet nie of hy met die tong of met die vuis moet baklei nie.  Maar hy voel so naar van al die modder wat hy ingesluk het, dat hy dit nie met een van die twee kan doen nie.  Al wat hy uitkry is:  “En wat gaan jy nou doen?”

“O, onderwyl jy na die boer toe gaan, jaag ek die varke na die kraal daar by jou huis.  Wanneer jy terugkom, sal ons genoeg vleis hê om ‘n jaar lank piekniek te hou.  Dan sal jy gesond word van jou kwaal.  Dink nou net, man!”

Ou Wolf probeer dink en sê toe, “Ja goed” en hy sleep aan na die boer se huis toe, want hy was te dik aangepak met modder om te kon draf.  Hy vertel vir hom Jakkals se wolhaarstorie en die boer stap saam na die vlei.  Hy bekyk die moddergat en hy bekyk die krulstertjies wat so uit die modder steek en hy bekyk ou Wolf.

“Is jy seker dat die varke daarin versmoor het?”

“Kan jy nie hulle krom stertjies daar sien nie?  Hulle is almal daar met hul koppe na onder.”
“Wel,” sê die boer, “dis baie snaaks.  Ek het gister hier deurgery en die modder was nie eers kniediep nie.”  Hy trek een van die stertjies uit die modder uit.  Toe weet ou Wolf hy moet nou vinnig padgee, maar voor hy kon wegkom, het die boer hom beet.

“Net hulle stertjies steek uit die modder uit, né?” en hy gee hom een in die ribbe.  “Die wildehonde het hulle in die modder gejaag, né?” en hy slaan die wind uit hom.  “Hulle is versmoor, né?” en hy swaai ou Wolf in die lug en slaan die grond en vee die veld met hom.  Toe gooi hy wat van hom oorbly op die grond en loop huis toe.

Naderhand lig ou Wolf hom op en kruip stadig aan na sy huis.  Hy voel ellendig, maar hy troos homself met die gedagte dat hy hom nou lekker met daardie varkvleis gaan dokter.  Hy kom by sy kraal, maar daar is geen vark nie en ook geen Jakkals nie.

“Dit is darem snaaks,” dink ou Wolf en hy wag en hy wag.  “As hy darem nie nou kom nie …” maar hy het glad nie gekom nie.

En die varke?  Van daardie dag af het Jakkals altyd genoeg vet in sy huis om sy neus blink te hou en arme ou Wolf kan nie sonder vleis weer gesond word nie.