ONDER DIE OU KAMEELDORING

Dr JP Botha

(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)

BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES

Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies

Ligvoets trippel die steenbokkie in die dowwe voetpaadjie langs tussen die wag-'n-bietjiebome deur na die braklaagte daaronder.  Die son is nog maar pas uit en die geur van lentedou op die soetdoringblomme ruik soet en fris in die koel môre.  Tog het sy dit reeds raadsaam geag om nie langer daar oorkant tussen die jong, sappige mielies te vertoef nie.  Daardie lekkernye is bedoel vir die stil ure van die nag.

Sy begin rustig wei aan die soetgrassies tussen die biesiepolle langs die kuil in die laagte.   Eers toe die son heelwat hoër geklim het, draf sy teen die oorkantse bultjie uit, tussen die hoë stinkgras in.

Sy is op pad na die ou kameeldoringboom op die bult wat soos 'n reusewagter sy takke oor die vlakte verhef.  Hier is haar skuilplek gedurende die dag.

'n Paar tree van die ou boom af  kom sy uitgetrippel op 'n taamlike groot kaalte.  Naastenby in die middel daarvan steek die groot tuit van 'n ou verlate miernes in die lug.  Hierin het 'n geruime tyd gelede reeds 'n stokstertpaar hulle intrek geneem.  Die mannetjie was juis net 'n paar tree van die tuit af aan die wegdraf oor die kaalte om die dag se jag te begin, toe sy fyn oortjies die dowwe geluid van klappende kloutjies teen die grond verneem.  In 'n oogwenk het hy teruggeswaai en teen die tuit uit laat nael tot binne in die gat.  Toe die steenbokkie 'n oomblik later oor die kaalte draf, loer die klein meerkatkoppie al weer nuuskierig oor die rand en hy bespeur tot sy gerusstelling dat dit maar net een van hul makkers is wat ook al lankal haar intrek by die ou kameeldoringboom geneem het.

Skuins onder die kameel staan 'n welige blinkblaarbos, met sy hoogste takke oral tussen die skurwe spruite van die ou boomreus ingevleg en net so welig het die gras tussen die blinkblaar se doringagtigheid opgeskiet en vorm dus 'n digte boskasie.  Die oog merk dadelik dat die steenbokkie goed gekies het toe sy haar lêplek teen die stam van die blinkblaar tussen die gras gemaak het.

Vanwaar sy nou lê, geheel en al bedek tussen die groen lower, kan sy deur die grassprietjies heen op die kaalte lê en uitkyk.  Sy sien hoe die twee stoksterte teen die tuitmiershoop afseil en koers kies tussen die gras in.  Sy weet dat die klein meerkatjies al sterk word en dit vereis baie werk van die twee oues om die magies vol te hou.  Een van die dae sal hulle die kleinspan seker op die jag meeneem...

So lê die steenbokkie rustig-peinsend en herkou totdat sy naderhand deur die eentonige eendeuntjiegesang van sysies en die aanhoudende ge-loe-loe-loe van 'n reënroepertjie in die bos, insluimer.  Maar kort-kort verraai 'n oortjie wat luisterend in die een of ander rigting draai, dat die slapertjie se aangebore waaksaamheid nog werksaam is.

Die steenbokkie het meteens haar oortjies gespits.  Uit die rigting van die bos kom duidelik hoorbaar die geselsende ge-kok-kok van boskraaie.  Na 'n rukkie verneem sy die lompe vlerkgefladder reg bokant haar in die takke en loer nuuskierig opwaarts.  Die twee ou sekelbekke is ou bekendes en hulle is na lang afwesighed weer terug om hul nes in die holte van die ou afgesaagde kameeltak, hoog teen die skurwe stam van die ou boom, te bou.

Die wyfie het dadelik nadergewip na die uitgeholde knoets om te ondersoek of die ou broeiplek nog veilig en doeltreffend is, terwyl die mannetjie rusteloos tussen die takke rond kok-kok, asof  hy daarmee aan die omgewing wil verkondig dat die boskraaipaar weer terug is en groot planne vir hierdie seisoen koester.

Die steenbokkie lê hulle belangstellend en dophou.  Sy weet uit ondervinding dat die lang, stil ure van die dag nou nie meer so traag sal verbysleep nie, want buiten die stoksterte wat interessante makkers hier onder die ou kameeldoring uitmaak, is ook die sekelbekke nou weer hier om die eentonigheid te help verdryf.

Tusssen die stinkgraspolle aan die oorkant van die kaalte, kom die meerkatwyfie versigtig uitgesluip.  Sy steek vas toe sy die nuwe aankomelinge merk en bly 'n rukkie verras op die agterpootjies sit om die sekelbekke se gewerskaf  te aanskou.  Dan word sy meteens haastig, want dofweg, dog duidelik hoorbaar, kom die dringende geroep van haar mannetjie, "piep, piep, pieu!" as 'n gewisse teken dat hy 'n ryk buit op die lyf geloop het; miskien 'n klomp oopgeskropte rysmiere of  'n span jong sprinkaantjies, meen sy en roep met 'n fluit die vier kleintjies uit die nes.  Hulle gly sku een vir een oor die rand van die tuit en snel opgewonde op hul moeder toe.  Sy laat egter geen tyd verlore gaan nie, maar koers onmiddellik terug deur die graspolle met die kleinspan op 'n streep agterna.

Intussen het die twee sekelbekke ernstig begin werk aan hul nes.  Hier en daar word 'n paar veertjies bymekaar geskraap, blaartjies, grassies en ander goed en ywerig in die hol ruimte ingewerk.  'n Geruime tyd bly hulle besig en die steenbokkie lê hulle belangstellend en beskou.  Een van die dae sal die wyfie natuurlik pal op die nes begin sit en sal die ou mannetjie sy sekelsnawel vol hê met modder aangedra vanaf die braklaagte, om die opening van die nes toe te pleister.

Al aan die kant van die gebroke wag-'n-bietjieveld onder langs die braklaagte, beweeg die stappende figuur van 'n man met 'n geweer in die hand.  Toe hy duskant op die bultjie uitkom, is dit duidelik dat hy stadigaan in die rigting van die ou kameeldoring aankom.  Die son sit nog effens hoog in die weste, maar dit is tog al moontlik om weiende bokkies op die lyf  te loop.  Dis jammer dat die stinkgrasveld vanjaar so hoog gegroei het; voordat 'n mens die wild gewaar, het hulle jou lankal hoor aankom en op die vlug geslaan...  Hy stap oor die kaalte kortby die ou boom en plaas 'n paar oomblikke later die geweer regop teen die stam.  Dan begin hy om met moeisame gewerskaf  teen die stam op te klouter.  Eindelik steek die jagter sy kop bokant die plat kruin van die ou kameelreus uit.  Nou kan hy vér sien.  Hy plaas sy hand bokant sy oë en tuur ondersoekend oor die uitgestrekte veld, om te sien of hy nie miskien al 'n bokkie êrens gewaar nie.

Skielik hoor hy 'n geritsel in die gras reg onderkant hom en toe hy vinnig afkyk, spring die steenbokkie vanuit haar bedekking te voorskyn en draf  'n paar tree oor die kaalte aan voordat sy nuuskierig vassteek en met verbaasde oë die vreemde verskynsel in die boom starend betrag.  Met die onmiddellike besef dat hy hopeloos getroef  is, dink die jagter aan sy geweer onder teen die stam.  'n Paar sekondes gaan verby en nog staan die steenbokkie hom met gespitste ore en dophou.  Dan begin hy om suutjies terug te klim, onderwyl hy die bokkie gretig in die oog hou.  Sy draf nog 'n paar tree verder en steek dan weer vas, maar toe sy sien hoe die gedaante teen die stam afgly en met 'n dowwe plof die grond raak, maak 'n instinktiewe vrees hom van haar meester en gly sy voort oor die grassade met sierlike en vaartige spronge.  Vér agter haar staan die teleurgestelde jagter met geweer in die hand homself en verwens...

'n Kwartiertjie later keer die stokstertfamilie van hul jagtog terug.  Toe hulle oor die kaaltetjie aangestreep kom,  kry die oues meteens die vreemde geur in die neus.  Die wyfie gebied die kleinspan om onmiddellik in die gat skuiling te soek, terwyl sy self nuuskierig oor die rand van die bek loer.  Die mannetjie het intussen die omgewing versigtig besnuffel.  Hy merk ook dat die steenbokkie reeds haar skuilplek verlaat het.  Dis eienaardig, dink hy, want gewoonlik gaan sy eers heelwat later op die wei uit.  Nadat nog 'n paar minute verstryk het, lê die stoksterte weer almal lomerig in die laat middagson en bak.

Die ou kameeldoring se skaduwee het langsaam langer gerek.  Die meerkatte lê en luister hoe die tortels oral in die bos die suisende stilte begin verbreek met hul weemoedige geroe-koe-koe.  'n Luggie begin trek en dan kom 'n dwarrelwindjie tergend oor die kaalte aangedans en draai lustig onder die kameelboom deur.  'n Paar peule raak bo tussen die blaartjies los en klater hard op die grond neer.  Die meerkatte nies die lastige stof  uit hul neusgate uit.

Toe die son sy koppie agter die lap brosdorings oorkant die braklaagte wegtrek, kom die twee boskraaie weer by die ou kameeldoringboom aangevlieg.  Spoedig het elk 'n geskikte slaaptakkie uitgesoek en posisie ingeneem vir die nag.  Oor die rand van die tuit het ook die laaste meerkat nou verdwyn, want slapenstyd het aangebreek...

Onder in die braklaagte lig die steenbokkie haar koppie op waar sy besig is om sappige uintjies uit die grond te krap, en tuur deur die skemer in die rigting van die plaat wag-'n-bietjies, waaragter die mielieland lê.  Eindelik is dit donker genoeg na haar sin en koers sy versigtig voort deur die bome.  Spoedig trippel sy aan die bopunt van die lap jong mielies die land in, waar 'n genoeglike nag op haar wag.

Eindelik het die son weer oor die brosdoringveld geloer en die klein-dierelewe van die bos is besig om te ontwaak.  Die opgeruimde tortelgesang weerklink deur die bome.  By die ou kameeldoring is die sekelbekke ook al op die vlerk.  Meer as een niksvermoedende akkedissie wat op 'n miershoop lê en blaker, word verras voordat hy tussen die gras kan verdwyn.  Met behulp van hul gekromde snawels skeur hulle die buit aan stukke voordat dit haastig na binne gewurg word.  Toe die steenbokkie weer onder die beskutting van die blinkblaarbos indraf, begin die stokstertfamilie weer aanstaltes maak om op 'n kossoektog te vertrek.  Daarna begin die ure om traag en langsaam verby te gly.

Intussen het die sekelbekke teruggekeer en die wyfie het in die holte van die nes verdwyn.  'n Bietjie later vlieg die mannetjie weg in die rigting van die kuil onder in die laagte.  Toe hy terugkeer, merk die steenbokkie dat hy ywerig begin om die die bek van die nes toe te pleister met modder.  Na 'n rukkie sit hy weer af laagte toe en so hou die gewerskaf  'n tyd lank aan.  Eindelik is die wyfie nou 'n gevangene in haar eie nes, met 'n klein openinkie waardeur die mannetjie haar moet voed.  Dit skyn asof die ou sy verantwoordelikheid terdeë besef, want nadat hy sy sekelbek teen 'n kameeltak skoongevee het, fladder hy weg tussen die haak-en-steek-boompies in om te sien wat hy op die lyf  kan loop.

Die voormiddagson begin reeds fel braai oor die soetdoringveld.  Die verenigde gesang van sysies in die nabyheid sus die gemoed van die steenbokkie tot 'n ligte sluimering.  Skielik word sy weer tot die werklikheid teruggeroep deur die harde gevlerkflap en gekok-kok van die sekelbekmannetjie.  Halfpad teen die ou kameelstam sit 'n bloukopkoggelmander wat van plan was om ook sy intrek hier te kom neem.  Dat die boskraai daarteen protesteer is duidelik, want toe die koggelmander hom nie laat afskrik nie, word hy deur 'n venynige vlerkslag grond toe gestuur en nog voordat hy die veiligheid van die graspolle kon haal, het die groot, gekromde snawel hom beetgepak en die lewe uit sy skurwe lyf gepers.

Die steenbokkie rek haar behaaglik uit, onderwyl sy genotvol lê en herkou.  Sy sien die meerkatte luierig oor die kaalte aankom en lêplek inneem aan die sonkant van hul tuitmiershoop.  Twee van die kleinspan voel egter nog nie lus om stil in die son te lê en bak nie en verdryf die tyd deur mekaar op die kaalte rond te jaag.  Ná 'n rukkie voeg hulle hul ook by die ander, te moeg om voort te gaan met die spel.

Meteens verneem die meerkatte die steurende gekok-kok van die boskraaimannetjie en toe hulle nuuskierig omkyk, wip die voël uit die takke en begin skuins agter die tuitmiershoop laag teen die grond sirkel.  Nuuskierig om die oorsaak van sy konsternasie te bespeur, draf  die meerkatmannetjie om die tuit.  Oombliklik is hy die opgewondenheid self, want skaars vyf  tree voor hom rys die voorlyf van 'n bakkop in die lug, terwyl die boskraai tergend bokant die slang draai.  Ons stokstert het meteens alle aandag van die slang op homself gevestig toe hy vlak onder die bereik van die sissende bakgetrekte kop vassteek om die slang te tart.  Dié laat ook nie op hom wag nie en sy opgehewe voorlyf sak vinnig grond toe, maar die volgende oomblik pik hy in die stof, terwyl die katjie hom alweer vanuit 'n ander rigting bedreig.

Die stilte onder die ou kameeldoring is weer tydelik versteur.  Die boskraai het, toe hy sien dat die slang nou in veilige hande is, in die naaste tak van die boom gaan sit om die verloop van die speletjie dop te hou, onderwyl hy die meerkatjie met behulp van sy luidrugtige, skor stem aanmoedig.

Intussen het die stokstertwyfie haar by haar maat kom voeg, nadat sy die kleinspan in die tuitmiershoop versorg het.  Die wêreld word nou te warm vir die bakkop en kort-kort probeer hy die beskutting van die stinkgraspolle haal, dog moet telkens woedend omswaai om een van die lastige aanvallers van sy lyf af te weer.  Hou vir hou pik hy elke keer op die plek waar een van die katte pas 'n oomblik tevore was en sy mislukte aanvalle maak hom nog venyniger.

Toe die stoksterte sien dat die slang tekens van uitputting begin toon, gaan hulle tot die werklike aanval oor.  Veglustig wip hulle heen en weer, om en oor die slang, dat hul stoksterte soos waaiers in die lug wapper.  Die slang kom nou nie meer so blitssnel regop na 'n mislukte pikpoging nie en af en toe gebeur dit dat 'n meerkatjie in die kort oomblik sy kans waarneem om hom aan die lyf te byt.  Dit word nou duidelik dat die bakkop dit nie meer lank kan maak nie.  Meteens, op die geskikste oomblik, het die stokstertmannetjie blitsvinnig vorentoe gewip en die slang agter die kop gepak, terwyl die wyfie aan die stertkant byspring.  Toe die meerkatpaar hom los, kan die reptiel se voos lyf net nog 'n paar kragtelose kronkelinge gee. Hy het vandag sy moses teengekom hier onder die ou kameeldoringboom waar hy die wêreld wou kom verken met die oog op 'n verblyfplek in die tuitmiershoop.

Nadat die stoksterte 'n rukkie gevreet het, word die kleintjies uit die gat geroep en die familie val weer saam weg aan die heerlike buit.  Die ou boskraai het die gewerskaf geduldig sit en dophou totdat die katte, versadig en selfvoldaan, hulle weer aan die sonkant van die tuitmiershoop gaan neervly.  Dan begin hy die oorblyfseltjies nes toe te piekel, waar sy wyfie deur die klein openinkie daarvan geniet.

Eindelik het die steenbokkie dit laat genoeg geag om te gaan wei.  Die meerkatte wat nog kort voor sononder die laaste hitte van die kwynende sonnetjie soek, sien haar lenige gestaltetjie versigtig oor die kaalte beweeg voordat sy tussen die stinkgras verdwyn.  'n Rukkie daarna gly die meerkatte een vir een oor die rand van die tuit, want die nag is aan die kom.  Ook die ou sekelmannetjie het reeds sy sitplek vir die nag ingeneem op 'n dwarstak skuins bokant die nes.

Onder in die laagte is die steenbokkie nog besig met wei.  Die skemer het egter vinnig begin toesak en spoedig word die doringveld in donkerte gehul.  Nou vertoef sy nie meer langer nie en laat vat op 'n vinnige stapgangetjie in die rigting van die mielieland teen die bult.  Aan die kant van die land het sy met gespitste oortjies versigtig vasgesteek en die koel naglug opgesnuif, voordat sy wei-wei aan die soet mieliestengels begin knaag.  Dog telkens hou sy op met vreet om die oortjies luisterend te spit wanneer sy die geringste verdagte geluidjie hoor.

Aan die onderpunt van die land verskyn daar meteens die straal van 'n helderskynende lig wat langsaam oor die lap mielies draai.  Die bokkie staar met groot oë na hierdie vreemde verskynsel en weet nie hoe om daarop te reageer nie.  Sy begin weer vreet.  Stadig begin die ligstraal beweeg en naderende voetstappe wat die wonderlike affêre vergesel, dwing haar weer om daaraan aandag te gee.  Meteens word sy bewus van 'n drang om te vlug en begin skuins oor die land hardloop.  'n Endjie verder steek sy vas, want haar nuuskierigheid het weer die oorhand gekry.  Verblindend val die strale nou vol op haar en sy staan asof gehipnotiseerd en toekyk...  Oorverdowend knal daar skielik 'n slag en die steenbokkie verneem meteens die gesang van miljoene sysies, soos op 'n warm somerdag, terwyl die nag om haar vir ewig verdonker.

Môre, by die wakkerword van 'n nuwe dag, wanneer die ou boskraai weer soos altyd in die takke van die ou boom sal rond kok-kok en die meerkatfamilie aan die sonkant van die tuitmiershoop lê en bak, sal hulle haar mis onder die ou kameeldoring, want haar lêplekkie sal voortaan leeg wees teen die blinkblaarboom se stam.