Hans du Plessis
"Sonder Afrikaans is ek niks," het wyle Jan Rabie by geleentheid gesê. Sonder taal is ek heeltemal niks, wil ek bysê. Ek is wat ek praat en ek praat wat ek is. Dit is taal wat van my mens maak, 'n spesifieke mens. Ek is Afrikaans omdat ek Afrikaans praat en ek praat Afrikaans omdat ek Afrikaans is, en die keuse om dit te bly, is my eie.
Ja, ek ken die statistiek, ek ken die taalkundige argumente en ek hoor die politieke retoriek, ek dink ek verstaan selfs soms die mosie. Maar maak taal dood en jy maak mense dood, want taalmoord is wettig. Natuurlik kan 'n taal doodgaan, oorle Paulus het dit hoeka vir die Korintiërs gesê; die aarde wemel van dooie tale...
As daar een argument in die taaldebat is wat my op Engels laat lag, is dit dat Afrikaans sal bly lewe as daar mense is wat haar praat.
Natuurlik is dit nodig dat iemand 'n taal praat om haar lewendig te hou, maar 'n blote praattaal se oorlewingskans is maar skraal. Vat nou maar vir Koi. Jy moet haar skrywe, en jy moet haar hoër op in die kerk en in die hof ook gebruik. Kyk na ons Engelse sustertjie en ons swart broers.
Ek wil nie by die taalkorporaals of die politieke voetsoldate hoor hoe grondwetlik wonderlik my kanse is om oor vyftig jaar nog Afrikaans op 'n straathoek te mag fluister nie; ek wil die oorlewing daarvan lééf – mag leef om geen ander rede nie as dat ek mag wees wie ek is.
Los my net dat ek met oorgawe taaltrappers op Afrikaans kan vloek, en op Afrikaans mag bid dat my kinders en my kindskinders dit ook só kan doen.
Waarom? Oor dit is wat ek is, en omdat ander kies om Engels of Frans of Sepedi te wees.
Maar dié Afrikaans is nie dit waarvoor die meeste staan en skree nie: Afrikaans is groot en sy loop wyd, sy is die reënboog van al haar tonge. Moet haar net nie weer loop verkruppel met goeters wat met die wonder van hierdie klein reënboog niks uit te waaie het nie!
Sy lewe as daar mense is wat haar laat lewe, wat haar praat, sing, skrywe, in haar die rekenaar bewaar en met haar die bokke oppas. Maar dan: dit moet goed wees en dit moet mooi wees, want dit moet onmisbaar wees.
Sonder Afrikaans is Afrika nie Afrika nie.