TAALPRAATJIES VIR DIE WAKKERES (1)

S.P.E. Boshoff

DIE ENKELING EN SY TAAL

Iedereen weet dat ons iemand aan sy stem herken. Dit beteken dat ons weet wie praat selfs as ons die spreker nie kan sien nie deurdat hy in 'n ander kamer, in die donker of op 'n afstand van ons af oor die telefoon of oor die radio praat. Sy stem hang van allerlei dinge af, onder andere van die grootte en van die vorm van sy spraakorgane en veral van die manier waarop hy hulle gebruik om taalklanke te maak. Die een praat sag, die ander hard; die een langsaam, die ander vinnig; die een met 'n lae stem, die ander met 'n hoë piepstemmetjie; die een bry, die ander stoot met die tong of lispel, en 'n volgende het 'n sterk neiging om sekere klinkers deur die neus uit te spreek of te nasaleer, soos die taalgeleerdes dit noem. So kry ons 'n eindelose verskeidenheid van stemme, feitlik net so baie as wat daar sprekers is, en tog kan ons gewoonlik die stemme van ons vriende en kennisse onderskei en herken. Ons onderskei byvoorbeeld tussen kinderstemme, meisiestemme, seunstemme, manstemme en vrouestemme; en 'n moeder onderskei die stem van een kind teenoor dié van die ander of van al haar kinders teenoor dié van hul speelmaats net so maklik as wat 'n ooi die blêr van haar lam uit die hele lammerlawaai uitken.

Dit is almal feite wat aan iedereen bekend is wat maar 'n klein bietjie oplet en nadink oor die pratery wat hy daagliks aanhoor, en al wat die taalgeleerdes eintlik doen, is om hierdie feite nader te ondersoek, te rangskik en te verduidelik. Wanneer hulle dit doen, dan vind hulle in die eerste plek by onderskeie persone verskille van uitspraak van dieselfde woorde.
Die een sal van sy 'kin' en die ander van sy 'ken' praat; die een van sop en die ander van soep. Die een maak 'n onderskeid tussen tabak en twak, en 'n ander weer nie; die een sal dage, nege en oge sê, die ander weer dae, neë en oë. Uit hierdie voorbeeld blyk dat 'n mens in sy uitspraak soms inkonsekwent is; en ook dit is 'n belangrike taalfeit wat 'n taalgeleerde moet leer waarneem. Hy moet eenvoudig leer om te luister, en dan sal hy merk dat die een van hoeders en kinders, van helder en kelder praat, terwyl 'n ander weer van hoeners, kinners, heller en keller praat.

Ek moet van verder verskille van uitspraak in Afrikaans afsien en in die tweede plek daarop wys dat daar net so 'n groot verskeidenheid in verskillende sprekers se woordkeuse is. Die een hou van kort woordjies en sal bv van 'n haan, 'n hen, 'n merrie en 'n sog praat, terwyl sy buurman voorkeur gee aan langer woordvorme soos hoenderhaan, hoenderhen, merrieperd en varksog. Soms is die langer woord 'n ietsie deftiger as die korter woord met min of meer dieselfde betekenis, soos behoeftige teenoor arm, kosbaar teenoor duur, liggaam teenoor lyf, ongesteld teenoor siek, beskonke teenoor dronk, ens. Dan is daar weer mense wat om die een of ander rede 'n voorliefde vir woorde van vreemde herkoms het en wat bv liewer van finansieel as van geldelik, van absoluut as van volkome, van profyt as van wins, van surplus as van oorskot, van periode as van tydperk, van konsensie as van gewete, van prinsipe as van beginsel sal praat. Ook op hierdie gebied van die taal is die moontlikhede van verskil legio en ook hierby is die mens wispelturig en verkies hy soms die verkorte vorm van 'n vreemde woord, soos wanneer hy praat van 'n foon ipv 'n telefoon, maar soms weier om van 'n teleskoop te praat maar dit 'n verkyker noem. So sal die een gemeentlid van sy leraar, die ander van sy predikant en 'n derde van sy dominee praat.

Mense kies nie alleen, bewus of onbewus, verskillende woorde nie maar waar hulle dieselfde woorde gebruik, heg hulle dikwels verskillende betekenisse daaraan.  Wanneer tant Sannie bv van 'n band praat, bedoel sy waarskynlik die 'band van 'n kledingstuk', terwyl oom Piet heel moontlik 'n 'motorband' of 'n 'waband' bedoel. Uit die woord se verband met ander woorde in die sin en uit die situasie blyk tog gewoonlik duidelik genoeg wat elkeen bedoel, en so kan hulle mekaar, ondanks alle verskil, nog betreklik maklik verstaan.

Daarby kom nog dat woorde vormverskille vertoon, dws dat hulle op verskillende maniere aan mekaar gelas word of verskillende uitgange of stertjies het. Die een praat bv van verjaarsdag en die ander van verjaardag; die een van ouderlings en die ander van ouderlinge; die een van skryf en die ander van skrywe, terwyl 'n derde nou die een en dan weer die ander vorm gebruik, al na gelang die een of ander vir hom die beste in die betrokke sin klink – moontlik selfs net as 'n gevolg van menslike wispelturigheid. Die een wil 'n verskil tussen betrekkings en betrekkinge maak, 'n verskil wat vir 'n ander eenvoudig nie bestaan nie. As die een sorg sê en die ander sôre, dan het ons nie alleen 'n vormverskil nie maar ook 'n uitspraakverskil en dan weet ons gewoonlik al so min of meer dat die betrokke sprekers waarskynlik uit verskillende dele van die land kom.

Ten slotte kom daar ook verskille te voorskyn in die manier waarop mense hulle woorde in die sin inspan, maw in die woordorde. Die een sal bv sê: "Hy weet nie of die goed gelewer kan word nie", en die ander: "Hy weet nie of die goed kan gelewer word nie." 'n Wisseling in die woordorde kan vir die een verskil van betekenis inhou, vir 'n ander nie. "Die weer is mooi" en "dis mooi weer" beteken vir sommige mense dieselfde, terwyl dit vir ander die teenoorgestelde betekenis het, in die eerste geval dat dit lyk of dit wil gaan reën en in die tweede geval dat daar geen teken van reën is nie. Selfs by onveranderlike woordorde kan daar teenoorgestelde betekenisse aan 'n sin geheg word. So beteken 'ysterklou in die grond slaan' bv vir sommige 'vlug' of 'weghardloop', en vir ander weer 'vastrap'.

So is daar op elke gebied van die taal persoonlike verskille wat kragtens hulle kombinasiemoontlikhede 'n eindelose verskeidenheid meebring. Daarby kom dat dit nie alleen 'n groot verskil maak na gelang van wie aan die woord is nie maar ook tot wie hy hom rig. Veronderstel bv dat Janse van Rensburg 'n ontwikkelde en 'n baie bedrywige man is. Hy staan in die môre op, praat met sy vrou en kinders en gebruik daarby allerlei woorde en uitdrukkings wat alleen in sy huislike kring bekend is of daar besondere betekenisse het. Hy gee daarna bevele aan sy werksmense en praat met hulle 'n eenvoudige taal wat egter met 'n swarttaal se woorde deurkruie is. Op kantoor dikteer hy vir sy tikster 'n aantal briewe waarin sy taalgebruik verskil al na gelang van die persone aan wie hy sy briewe rig. Studente kom sy kantoor binne met bussies om vir 'n jool te kollekteer en uitdrukkings soos 'aan die brand' en ' vir die vale' word rondgeslinger. Later spreek Janse van Rensburg 'n aantal vakgenote oor 'n beroepsaangeleentheid toe en gebruik hy allerlei vakterme wat hy en sy kollegas volkome begryp, maar wat vir ander mense grotendeels onverstaanbaar is. In die namiddag moet hy 'n heildronk by 'n troue instel of 'n politieke toespraak vir 'n gemengde gehoor afsteek, en kom daar weer die een en ander in sy taal te voorskyn wat by die ander geleenthede onvanpas sou wees. By sy huisgodsdiens lees hy uit die Afrikaanse Bybel en doen hy 'n gebed waarin weer allerlei woorde, woordvorme en uitdrukkings te voorskyn tree wat in sy gewone omgangstaal selde voorkom. Hy sluit die dag af met 'n verwelkomingsrede vir 'n aantal immigrante uit Holland, en sy taal kry so effens 'n Hollandse tintjie. In die loop van die dag het hy in 'n sekere sin 'n halfdosyn soorte taal gepraat en moontlik net soveel aangehoor.

Janse van Rensburg se denkbeeldige ervarig is in 'n mindere of meerdere mate iedereen van ons se werklike, daaglikse ondervinding. Elke mense het nie alleen 'n eie taal nie, hy beskik selfs oor 'n aantal tale en kan vanuit hierdie oogpunt as twee- of meertalig beskou word. Wat ons gewoonlik onder tweetaligheid verstaan, verskil hiervan hoofsaaklik in graad. Wat in elke geval die aard van die enkeling se taal is, hang van sy leeftyd af, van sy ervaring en ontwikkeling, van sy bedryf en sy bedrywigheid, van sy oortuigings en opvattings, van die maatskaplike en beroepskringe waarin en waarmee hy verkeer, ens. Elkeen leef in 'n eie wêreld en hoef ten opsigte van sy taalgebruik hoegenaamd geen toneelspeler te wees as hy in die loop van die dag telkens sy taal by allerlei mense en omstandighede moet aanpas nie. Hy kan natuurlik so 'n toneelspeler wees, maar dan merk ons dit al dadelik en sê ons gewoonlik dat hy 'n onnatuurlike of "gemaakte" taal praat.

Wat ek hier op 'n eenvoudige en verstaanbare wyse wou laat uitkom is dat dit die natuurlikste ding ter wêreld is vir elke mens om 'n eie taal te praat en dat die lewe hom selfs dwing om elke oomblik daardie taal 'n bietjie anders te praat, om as't ware 'n ander soort taal te praat. Die feite wat ek hier genoem het kan moeilik ontken word, want wie ore het om te hoor, sal hulle deur eie ervaring en waarneming bevestig vind. Tog is dit juis hierdie eenvoudige feite waarmee in die gewone omgang, in die letterkunde, by die onderwys en selfs in die taalwetenskap dikwels nie rekening gehou word nie, met die gevolg dat allerlei meningsverskille oor taalkwessies ontstaan waaroor die strydende partye self nog nie tot helderheid gekom het nie.

Uit wat ek beweer het, ontstaan dan die vraag hoe ons, ondanks al die genoemde taalverskille, ons medemense tog nog betreklik goed kan verstaan. Hierop sal ek in 'n volgende aflewering antwoorde probeer gee. Intussen kan dit sy nut hê as uself 'n antwoord op hierdie vraag soek en dit dan vergelyk met wat u later daaroor te hoor sal kry want eers dan raak ons gedagtes goed bymekaar ingeskakel. Ek wil hê dat u die inhoud van hierdie aflewerings nie bloot passief moet inneem nie maar saam daaroor moet nadink en dan u eie gevolgtrekkings daaruit moet maak.