Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woord 'salig' beteken om in 'n oortreffende staat van geluk te wees. Daar is net een ware 'saligheid', en dit is om te weet dat jou sondes vergewe is en jy die ewige lewe van God ontvang het. Niemand kan dit wegneem nie. Hierdie wete bring volkome blydskap en vrede in mens se gemoed.
'N NUWE TREK: TERUG NA GOD
BOEK TE KOOP
‘n Nuwe Trek: Terug na u God
Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte
J L du Toit & dr L du Toit
('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180
Gustav Preller (1938b) verduidelik dat die Gelofte by die Slag van Bloedrivier na ons afgekom het in die vorm van drie oorkondes. Hierdie drie oorkondes is in die twintigste eeu saamgevoeg tot die gangbare weergawe algemeen in gebruik by herdenkingsfeeste:
Eerstens (Oerteks 1), Andries Pretorius se Kommandantsverslag (waarvan die eerste deel amper 'n week na die slag neergepen is). Die volledige Kommandantsverslag is in die tweetalige Kaapse koerant, De Zuid-Afrikaan, 'n paar maande na die oorwinning gepubliseer.
Tweedens (Oerteks 2), die inskrywing 'n week voor die slag in die Kommandojoernaal (deur Jan Bantjes, Pretorius se Sekretaris), soos in De Zuid-Afrikaan afgedruk in die volgende jaar. (Terwyl die Gelofte-inskrywing in die Kommandojoernaal bykans twee weke voor die eerste gedeelte van die Kommandantsverslag geskryf is, was laasgenoemde eerste gepubliseer.)
Ongeveer dertig jaar na die Slag van Bloedrivier, vind die geestelike leier van die Strafveldtog, Sarel Cilliers, hom op sy sterfbed, waaruit hy sy herinnerings dikteer oor onder andere die Bloedrivier-Slag. Hierdie derde oorkonde (Oerteks 3b) van die Gelofte is deur H J Hofstede (1876) in Geschiedenis van den Oranje-Vrijstaat 'n paar jaar na Cilliers se dood opgeneem. ‘n Verdere Gelofte-bron hieraan verwant is Sarel Cilliers se brief aan ds H van Broekhuizen (Oerteks 3a), vyf jaar voor sy sterfbeddiktasie neergepen. Die laaste deel van die brief het nie behoue gebly nie.
In hierdie bundel sal u ‘n noukeurige transkripsie vind van beide die volledige Kommandantsverslag en die volledige Kommandojoernaal, sowel as van al die redaksionele kommentaar wat daaromheen verskyn het in De Zuid-Afrikaan (Nederlands, sowel as Engels).
Na elkeen van die transkripsies word ‘n skandering uit die vroegste-behoue uitgawes van die oorkondes gegee, naamlik van daardie paragrawe wat die Gelofte-bewoording (in Nederlands) bevat.
Die Oerteks-bundel sluit af met aantekeninge waarin die Gelofte-bronne met mekaar en met die gangbare weergawe vergelyk word.
Hieronder volg 'n paar kommentare op die projek:
Ds MC Adendorff, Emeritus-Predikant, voormalig van die Afrikaanse Protestantse Kerk, Germiston: "Die werk raak belangrike sake aan en dit in 'n tyd waarin herbesinning oor die Gelofte dringend nodig is. Die kwessie van vakansiedae in Suid-Afrika geniet weer aandag van staatsweë met aandrang dat ander godsdienste ook van hulle groot godsdienstige dae tot openbare vakansiedae verklaar moet kry. Die poging tot transformasie deur van 16 Desember 'n versoeningsdag te maak, het ook bygedra tot verdere vervlakking van die betekenis van Geloftedag. Teen dié agtergrond beveel ek graag die publikasie aan. Die bundel daag uit tot herbesinning oor die dieper betekenis van die Gelofte. Mag dit ons volk prikkel om weer te dink oor ons verantwoordelikheid ten opsigte van die Gelofte."
Dr PW Möller, politikus, geskiedkundige, voormalig verbonde aan die Buro vir Onderwysnavorsing, destydse Transvaalse Onderwysdepartement, Pretoria: "Slegs iemand wat al historiese navorsing gedoen het, sal weet hoe 'n groot taak die outeurs aangepak het en met welke tyd en energie dit gepaard gegaan het. Ofskoon die bundel die Gelofte van 1838 raak, sny dit veel dieper. Ek wens die samestellers geluk dat hulle so 'n belangrike saak op so 'n bekwame wyse aangepak het."
Me A Bailey, geskiedkundige, Adjunk Uitvoerende Hoof van AfriForum, Direksie-lid van die Voortrekkermonument, Pretoria: "Dit is inderdaad 'n baie nuttige samevatting van die brondokumente. Ek hou ook baie van die idee dat die oorspronklike bronne ingeskandeer is. Ek weet nie van 'n ander publikasie wat dit doen nie – dis 'n unieke bydrae. Die Gelofte bly aktueel en mense lees graag daaroor. Daar is ook heelwat vergissings oor die Gelofte en die geredelike bekikbaarstelling van die oorspronklike tekste is daarom 'n goeie idee."
Dr J Botha, geskiedkundige, medeskrywer Gelofteland-webwerf: "Dit is 'n groot en omvattende taak wat voltooi is; as historikus lees ek dit met groot waardering. As Christen dring dit my weer tot die erns van ons volk se huidige ellende onder 'n ateïstiese en kommunistiese regime met direkte oorsaak die verbreking van ons volks-Geloftes. Daarom is hierdie werk van onskatbare waarde en behoort dit wyd bestudeer te word."