Hierdie briefie is aan ons gestuur en ons plaas dit tot kennisname in die lig van die omstrede pad wat die Nederduits Hervormde Kerk die afgelope tyd gestap het:
Aan die redakteur,
Die artikel "Ramadan in Augustus" deur dr Jaco Beyers (Hervormer, Augustus 2011) verwys.
Ek moet my op die sterkste moontlike wyse uitspreek teen bovermelde artikel. Die artikel, wat handel oor 'n heidense geloofstydperk van die Muslim geloof (Ramadan) waartydens daar op groot skaal diere as offergawes vir dié geloof se gode geslag word, hoort geensins op die blaaie van 'n Christelike publikasie van die NHK nie. Dat die skrywer die waagmoed gehad het om die artikel vir 'n Christen lesersmark te skryf, en die redakteur van 'n Christen kerkblad dit gepubliseer het, gaan my verstand te bowe.
Hierdie is weer eens bewys van die felle aanslag teen die Christendom en die Christelike kerk op alle terreine en vanuit vele hoeke, 'n aanslag wat dikwels op die sluste en slinkste wyse gevoer word.
Tans dra die kerk en sy behoudende lidmate swaar aan die onlangse uitspraak teen Apartheid wat deur die Algemene Kerkvergadering geneem is, sonder die toets van die werklike mening van sy lidmate. Met die artikel word 'n heidense geloof en sy praktyke op Christen lesers van Die Hervormer afgedwing.Die Woord van die Here is duidelik dat Hy 'n jaloerse God is en geen ander gode sal duld nie, tog wil dit voorkom asof daar ampsdraers in die NHK is wat die duidelike stelling nie verstaan nie, óf daarop geen ag slaan nie. God laat hom nie bespot nie en sal nie duld dat heidense gelowe tot in die binneportaal van Sy kerk gebring word nie, op watter manier ookal.
Ek, as behoudende lid van die Christen NHK, eis 'n terugtrekking van die artikel sowel as 'n verskoning aan Die Hervormer se lesers.
Die uwe
Johan Steyn
Patriot Boerbok Stoet 1240 - trots Afrikaans