7 OKTOBER 1854: GENL CR DE WET

KULTUURDAGBOEK 7 OKTOBER

Gebore op hierdie dag in dieselfde jaar as die totstandkoming van die Vrystaatse Republiek op die plaas Leeuwkop, distrik Smithfield, sou Christiaan Rudolf de Wet as sesde van veertien kinders heel weining skoolonderrig ontvang. Toe sy moeder hom op 14jarige leeftyd ontval, moes hy vir sy vader op die plaas Nieuwjaarsfontein, digby Dewetsdorp, gaan help boer.

Op 19jarige ouderdom is hy met Cornelia Kruger, 'n karaktervaste dogter, getroud en uit hierdie huwelik is sestien kinders gebore van wie Kotie, Izak, Piet en Danie die bekendstes was.

'n Tyd lank lê Christiaan hom toe op transportry in Griekwaland-Wes, en hy vestig hom uiteindelik in Transvaal, in die distrik Heidelberg.

Hy neem aan die Transvaalse Vryheidsoorlog deel as waarnemende kommandant by Laingsnek maar onderskei hom veral as dapper vegter met die bestorming van Amajuba.

Ná die oorlog word hy tot veldkornet verkies en in 1885 tot lid van die Transvaalse Volksraad. Hy woon egter net een sitting by voordat hy hom weer op sy vader se ou plaas Nieuwjaarsfontein vestig.

Hoewel hy geen besondere trek vir die openbare lewe gehad het nie, het die Vystaters sy beginselvaste optrede en sterk persoonlikheid gou raakgesien en hom in 1889 vir die wyk Bo-Modderrivier verkies, wat hy tot in 1898 verteenwoordig het. Hoewel hy effens met sy tong gestoot het, het sy kernagtige uitdrukkinge en bondige toesprake hom 'n besonderse redenaar gemaak en was hy in die Volksraad 'n onverbete vegter vir die handhawing van die Hollandse taal en behoud van die Vrystaat se onafhanklikeheid.

Met die besef dat die oorlog onafwendbaar is, skaf hy vir hom sy beroemde ryperd Fleur aan. Hy was ook een van die eerste wat hom op 12 Oktober by die Heilbronse kommando aangemeld het – die distrik waarheen hy intussen as rustelose boer weer verhuis het. Weens die ongesteldheid van die kommandant daar, is Christiaan tot waarnemende kommandant verkies.

Aan die Natalse front by Nicholsonsnek sou hy toon wat in hom steek toe hy met 300 burgers 800 Britse troepe oorweldig en gevange neem. Hy trek die aandag van pres Steyn wat hom as veggeneraal aan die Wesfront aanstel. Daar vind hy 'n geesgenoot in genl Koos de la Rey wat hom vereenselwig met die gedagte om die Britse verbindingslinies in Kaapland te gaan aanval, maar hy word deur genl Piet Cronjé teengestaan.

Tevergeefs probeer hy Cronjé by Paardeberg ontset, maar na Cronjé se oorgawe aan die Britte, is De Wet se poging om Roberts se opmars na Bloemfontein te keer, tevergeefs. Ná die val van die hoofstad stuur hy sy burgers huistoe om daarna weer net die getroues te versamel en by Sannaspos, Mostertshoek en Rooiwal met guerrilla-taktiek een na die ander klinkende oorwinning oor die Britse magte te behaal. Dit bring nie net sy naam op die lippe van die ganse beskaafde wêreld nie maar gee aan die hele oorlog 'n nuwe dimensie, naamlik om dit so lank as moontlik uit te rek en op hierdie wyse die vyand tot 'n wapenstilstand te probeer dwing.

In die Vrystaat word die stryd uiteindelik 'n stryd om die persoon van De Wet, wat so te sê deurgaans van pres Steyn en later ook ds Kestell vergesel is. Een reusagtige "drive" na die ander is teen hom uitgevoer, maar telkens het hy dit meesterlik ontglip. Hy sou ook 'n epiese tog na Kaapland lei in 'n poging om die druk op die Vrystaat te verlig en steun onder die Kapenaars te werf.

Met 'n grenslose Godsvertroue, onwrikbare geloof in die regverdigheid van hulle saak, bomenslike inspanning en merkwaardige vindingrykheid het hy die Britse uitsoekgeneraals telkens op die neus laat kyk. Met die begrip 'trou tot die dood' as wagwoord van sy lewe, sou hy die grootste veragting vir alle hensoppers en verraaiers hê. Toe selfs sy vroer, Piet, na die vyand oorstap, het De Wet nooit weer in sy lewe sy hand na hom uitgereik nie.

Die oormag was egter te groot en die lyding van die vroue en kinders te veel om te verduur. Op 31 Mei 1902 moes hy as Waarnemende Staatspresident van die Oranje-Vrystaat teen wil en dank en met 'n innerlike verset die vredestraktaat onderteken omdat pres Steyn ernstig siek was.

Hierna vergesel hy genls Botha en De la Rey na Europa om fondse vir die weduwees en wese in te samel. Op die skip sluit hy hom af en skryf sy beroemde werk, De Strijd tusschen Boer en Brit, wat talle herdrukke beleef en in sewe of agt tale vertaal is.

By sy terugkoms lê hy hom toe op die voerdery op sy verwoeste plaas Rooipoort. Hy lewer 'n belangrike bydrae tot die stigting van die Orangia-unie, wat Milnerisme teenstaan, en met selfregering in 1907 die Unie tot stand bring.

Daarna tree hy uit die politiek maar met die Botha-Hertzog-krisis van 1912 skaar hy hom by Hertzog, lewer sy beroemde mishooptoespraak in Pretoria, en is uiteindelik een van die stigters van die Nasionale Party in 1914.

In dieselfde jaar neem hy as leier deel aan die Gewapende Protes teen die Botha-regering se besluit om Duits-Suidwes-Afrika aan te val, en word na etlike skermutselinge by Wagerbury gevange geneem nadat hy na Suidwes probeer vlug het.  Hy word verhoor, aan hoogverraad skuldig bevind, 'n boete van 2000 pond opgelê (wat Afrikaners in 'n ommesientjie ingesamel het) en vir ses jaar tronktoe gestuur. 'n Massa-optog van vroue by die Uniegebou dra egter daartoe by dat hy en ander na elf maande op parool vrygelaat is.

Hy vestig hom uiteindelik op die plaas Klipfontein digby Dewetsdorp, waar hy op 3 Februarie 1922 oorlede is.

Christiaan Rudolf de Wet, die Afrikanervolk se grootste krygsman ooit, rus vandag aan die voet van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein by die staatsman Steyn en die godsman Kestell.