KULTUURDAGBOEK 18 OKTOBER
Op 5 Oktober 1960 het die volkstemming oor republiekwording plaasgevind. Die persentasie stemme uitgebring was 90,5.
Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika 'n Republiek geword – buite die Statebond. In Junie 1961 het die eerste Republikeinse Parlement geopen maar die lede is reeds in April 1958 onder premier Strijdom verkies. Die eed van trou deur Parlementslede uitgespreek is nietemin voortaan teenoor die RSA en sy Staatspresident uitgespreek.
In politieke kringe het verdere afskeidings en hergroeperings en grondwetlike voorstelle bekend geword. Die Senaat is in 1960 drasties verklein. Die gevolg was dat dr Verwoerd as premier die nuwe politieke gesteldheid wou toets. Daarom het hy tot 'n algemene verkiesing besluit – 18 maande voor die eintlike datum.
Hy wou veral die rassefederasieplan van die Verenigde Party verwerp sien omdat hierdie politieke samewerking tussen die volksgroepe op politieke magsdeling neergekom het. Die getroue Afrikaner het dit as gevaarlik vir die republikeinse blanke toekoms beskou.
Die eerste algemene verkiesing in 'n republikeinse bedeling het toe op 18 Oktober plaasgevind. Die Nasionale Party het 105 van die 160 setels verower. Vir die eerste keer sedert 1948 is twee Engelstaliges by name AE Trollip en F Waring, in die Kabinet opgeneem. Dr HF Verwoerd, premier van die RSA, het dit beskou as 'n simbool van die einde van die politieke verdeling volgens taalgrense wat deur die republiekwording – ''n Afrikanerdroom – meegebring is.