VEKOM KOM TOT STAND EN GENL GROENEWALD TREE NA VORE
Ons hou met Mike du Toit se toestemming nog ‘n uittreksel uit sy boek “Die strewe en stryd van ons volk 1902-1994” aan u voor en nooi u om by die skakel BOEKE TE KOOP die boekresensie te lees en dit by Bienedell-uitgewers te bestel.
Gedurende die verloop van 1990/91 het daar twee nuwe organisasies naamlik die Volkseenheidskomitee (VEKOM) en die Boerekrisisaksie (BKA) binne regse nasionalistiese Afrikanergeledere tot stand gekom wat vorentoe ‘n belangrike rol sou speel.
VEKOM het bestaan uit ‘n aantal akademici, teoloë en beroepslui wat na ‘n volkstaat buite en los van die Parlementêre politiek gestreef het. Genl Tienie Groenewald het by hulle ingeskakel en spoedig ‘n leidende rol begin speel.
Hy was voorheen betrokke by Militêre Inligting maar is later gesekondeer na ‘n burgerlike posisie as tweede in bevel by die Buro vir Inligting.
Tydens ‘n fondsinsamelingsdinee van die Pretoriase CVO-skool by die Monument-golfklub het Groenewald erken dat dit hy was wat De Klerk se toespraak van 2 Februarie 1990, wat tot die ontbanning van die ANC-SAKP gelei het, geskryf (of gehelp skryf) het. Daarna het hy weer in Januarie 1994 toe hy die Direktoraat Aksiekomitee (DAKOM) van die AVF toesgespreek het, die erkenning herhaal.
Terwyl Groenewald nog by Militêre Inligting werksaam was, het hy die SA Maritime Research (SAMRI), wat na bewering glo uit 49 regste nasionalistiese organisasies bestaan het, tot stand gebring.
Nadat Groenewald die regering se diens verlaat het, het hy die Instituut vir Strategiese Studies gestig. Hierdie instelling het een enkele oorsig oor die Suid-Afrikaanse situasie uitgegee waarna niemand ooit weer iets daarvan verneem het nie.
Groenewald het ook die maatskappy Multi-Media Services gestig wat in weelderige kantore gehuisves was wat na bewering aan die Weermag behoort het. Dié onderneming se hoofdoel was glo om die Ciskeise heerser, Oupa Gqozo, se beeld te bevorder. Hiervoor het Groenewald R800 000 van die Ciskeise regering ontvang, maar van die bevordering van Gqozo se beeld het nie veel gekom nie.
Na Groenewald as die Hoofuitvoerende beampte van VEKOM aangestel is, het hy feitlik beheer oor VEKOM gekry en ook gereeld met die leiers van die KP begin skakel. Onder sy leiding het VEKOM ‘n tweeledige strategie begin ontwikkel. Aan die een kant is verkondig dat ‘n volkstaat deur middel van onderhandelinge verkry moes word, terwyl daar aan die ander kant verkondig is dat daar gemobiliseer moes word vir die geweld wat gaan volg indien daar nie ‘n volkstaat tot stand kom nie. Groenewald was dan ook die persoon wat dit finansieel moontlik gemaak het om die begrip van ‘n volkstaat, op 14% van Suid-Afrikaanse grondgebied, te propageer...