Op 15 Augustus 1989, die dag waarop Botha as president bedank het, het die kabinet vir FW de Klerk as waarnemende president van ons land aangestel.
Dit was net 3 weke voor die algemene verkiesing wat op 6 September moes plaasvind. De Klerk moes dus aanvanklik baie aandag daaraan wy om soveel as moontlik stemme vir die NP te werf. Tog het hy ook baie duidelik aangedui dat hy die linkse beleidsrigtings van Botha verder gaan voer deur allerhande politieke “hervormings” deur te voer.
Tydens die algemene verkiesing op 6 September 1989 het die NP 94 setels verower (48% van die stemme), die KP 39 setels (31% van die stemme) en die DP 33 setels (20% van die stemme). Die HNP het geen setels verower nie. Dit beteken dat die NP setels na regs en na links verloor het, 17 aan die KP en 12 aan die DP. In meeste setels het die NP-meerderhede dan ook betekenisvol afgeneem.
Die feit dat die NP setels na regs en na links verloor het, was aanduidend daarvan dat sommige mense De Klerk se “hervormings” onaanvaarbaar gevind het terwyl ander weer gemeen het dat hy sy “hervormings” vinniger moet deurvoer. De Klerk self het beweer dat die oorgrote meerderheid Blanke kiesers, 70%, hulle ten gunste van “vernuwing” en “hervorming” asook volle politieke regte aan “alle Suid-Afrikaners”, uitgespreek het.
‘n Paar dae na die verkiesing is De Klerk deur die Parlementêre Kieskollege as ons land se nuwe president aangestel. Die toe 53 jaar oue De Klerk is die seun van Jan de Klerk, ‘n minister in adv JG Strijdom se destydse kabinet. Hy het aan die Universiteit van Potchefstroom studeer waar hy ‘n BA- en LL.B.-graad verwerf het. Daarna het hy as prokureur in Vereeniging gepraktiseer waar hy op 36 jarige leeftyd tot Volksraadslid verkies is. In April 1978 het hy in Vorster se kabinet minister van Pos- en Telekommunikasie en Welsyn en Pensioene geword. Daarna het hy ook ander ministeriële poste beklee.
Toe dr AP Treurnicht en sy ondersteuners in Februarie 1982 met Botha gebots het, het De Klerk ‘n belangrike rol gespeel om te verseker dat die Hoofbestuur van die Transvaalse NP vir Botha bly steun. ‘n Paar dae later is hy dan ook gekies om dr Treurnicht as die Transvaalse leier van die NP te vervang. Tot op daardie stadium het De Klerk hom nie openlik met die regter- of linkervleuel van die NP geassosieer nie maar nadat hy ‘n leidende rol begin speel het, het hy al meer na links beweeg en linkse uitsprake begin maak.
Binne ‘n paar weke nadat hy as president ingesweer is het De Klerk agt politieke gevangenes vrygelaat, waarvan sewe lede van die ANC en een ‘n lid van die PAC was. Een van die ANC-lede was Walter Sisulu wat saam met Nelson Mandela in Mei 1964 lewenslange tronkstraf opgelê is.
In November 1989 het De Klerk die belangrike rol wat ons Weermag in die formulering en implementering van beleid gespeel het, baie ernstig afgeskaal en die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel afgeskaf. Die Staatsveiligheidsraad het weer ‘n gewone Kabinetskomitee geword wat verantwoordelik gemaak is aan die Kabinet. Die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel is vervang met ‘n stelsel waarin die offisiere van ons Weermag ‘n onbelangrike rol begin speel het. Daarmee is die basis vir De Klerk se implementering van die “Nuwe Suid-Afrika” gelê.