ALLE REGGEAARDE AFRIKANERS VERAFSKU BINCKES SE WRAAK-'ROMAN'

Binckes se boek alles behalwe die waarheid

Die Herstigte Nasionale Party het met weersin kennis geneem van die boek van Robin Binckes, Canvas under the Sky, waarvan ’n artikel in Beeld op 21 Januarie 2012 verskyn het. In 'n tyd waarin dit mode geword het om die Afrikaner/Boer en sy geskiedenis deur onwaarhede en lasterlikhede te probeer aftakel, span hierdie hygroman die kroon.

Dit is glo "an epic historical blockbuster", maar enige ingeligte oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis sal besef dat dit alles behalwe 'n epos of helde-verhaal of geskiedenis is, maar loutere snert, waarin seks, dwelms en sogenaamde volkspele (wat hy nie eers reg spel nie) aan die orde van die dag is. Op misdadige wyse skryf  hy ook dat die Voortrekkermans Hottentothouvroue gehad het en 'n groot kroos by hulle verwek het. Twee Voortrekkervrouens word selfs as lesbies uitgebeeld.

Wat hy met "blockbuster" bedoel, sal ook net Binckes weet. Dit is so dat ons voorouers ook net mense was, maar hy maak karikature van hulle wat hulle met sekseskapades en dagga besig gehou het. As hy 'n historiese roman oor die Voortrekkergeskiedenis wou skryf, moes hy gaan kers opsteek het by FA Venter. Sy boeke oor die Groot Trek is historiese romans.

Binckes is 'n tipiese Johannesburgse Engelsman. Eers het hy 'n gemors van sy sakebedrywighede gemaak en nou misluk hy weer eens op 'n terrein waarvan hy niks weet nie. Hy erken self dat hy die seksuele vergrype oordryf het en dat dit sy eie afleiding is dat die Voortrekkers dagga gerook het, maar voeg terselfdertyd daaraan toe dat die geskiedenis in sy fiksie-roman akkuraat is, wat dit natuurlik nie is nie. Hy verklaar dat van sy voorouers Britse Setlaars van 1820 was, maar uit die gemors wat hy letterkunde noem, blyk dit dat hy nie eers sy eie voorouers se geskiedenis ken nie. As hy dit geken het, sou hy geweet het dat hulle baie groot waardering vir die Afrikanerboere op die Oosgrens gehad het. So byvoorbeeld het die patriarg, Thomas Philips, aan die vader van Piet Uys, Jacobus Uys, voor die vertrek van die Uystrek 'n Bybel namens die Setlaars oorhandig.

Daar is talle Engelssprekendes, onder wie goewerneur Benjamin D’Úrban, wat hulle baie positief oor die Voortrekkers uitgelaat het en hierdie onbekende, liggewig Engelsman moet gerus daarvan kennis neem. Dit is dus ook duidelik dat sy sogenaamde navorsing baie eensydig was. Ewe duidelik is dit dat hierdie anti-Afrikaner beter sal vaar as hy hom liewer by motorsport en krieket bly bemoei het of liewer gaan navorsing doen oor Engelse gruweldade waarvan daar talle voorbeelde is! Die Afrikanervolk neem kennis van sy heiligskennis en waarsku hom om hierdie tipe beswaddering onmiddellik te staak.

Dit gaan ook alle verstand te bowe dat so iemand as toergids by die Voortrekkermonument moet optree. Dit dui ook maar net weer die verval aan wat op alle terreine van die samelewing onder die ANC/SAKP regime ingetree het.

Dr Pieter Möller

HNP Woordvoerder oor Geskiedenissake                                              23 Januarie 2012