DIE GRONDSLAG VIR VOLKSEENHEID

ONS   GEMEENSKAPLIKE   HISTORIESE   ERFENIS

In ons tyd is die versugting na volkseenheid ‘n intense verlange onder baie Afrikaners.  Te midde van die meedoënlose aanslag op ons voortbestaan word die feit dat ons in soveel kampe verdeel is wyd betreur en dit veroorsaak wanhoop en ‘n insinking in ons moraal.  Ons voortbestaansuitdaging vereis gesamentlike en eendragtige optrede.  Daarvoor is ‘n saambindende krag nodig en dit kan gevind word in ons gemeenskaplike historiese erfenis.  Ons het een geskiedenis waaraan ons almal deel het, waarmee ons onsself met trots en vrymoedigheid kan vereenselwig en wat vir ons almal iets kosbaars is.  Dit lê ‘n onsigbare liefdesband en ‘n samehorigheidsgevoel tussen ons.

Ons gemeenskaplike geskiedenis bied die enigste ware grondslag vir blywende volkseenheid. Daarvoor moet daar egter deeglike, wydverspreide kennis van ons geskiedenis onder ons volk wees.  Daar is baie bronne waaruit die geskiedenis geken kan word.  Oor die jare is dit egter vasgelê op films en klankbande en Suidland Media het hierdie materiaal nou in DVD- en CD-formaat beskikbaar gemaak.  Hierdie tegnologie kan ons in staat stel om ‘n gemeenskaplike historiese kennisbasis teen die laags-moontlike koste oor ‘n wye front te vestig.

GLOEIENDE TROTS

Die kinders van ons volk is op hierdie stadium die hoofteiken van ‘n berekende aanslag om ons geskiedenis te verdraai en te bekonkel ten einde hulle van hulle voorgeslagte te vervreem.  Deur die ware feite van ons geskiedenis aan hulle te gee, kan ons hulle help om hulle unieke identiteit as Afrikaners te ontdek.  Dit sal onvermydelik lei tot volkstrots, wat aan hulle ‘n nuwe hoop en visie op die toekoms kan gee.  

Dink byvoorbeeld net watter gloeiende trots daar in ‘n kind se oë sal verskyn as hy hoor dat Genl Koos de la Rey allerweë as een van die grootste militêre genieë van die 19de eeu beskou word.  En sal dit nie sy Boerehart warm laat klop as hy die volgende lees wat die Britse skrywer Sir Arthur Conan-Doyle sê oor die klein groepie Boerevegters wat die magtige Britse Ryk op die slagveld verslaan het nie?  “They were the most formidable antagonists ever to cross the path of Imperial Britain.”   En dit sal hom baie help om ontslae te raak van die valse en misplaaste skuldkompleks oor sy voorouers wat ander mense sou verontreg en onderdruk het as hy hoor wat Winston Churchill oor hulle gesê het:  “The Boers were the most humane people, the most good-hearted enemy I have ever fought against in die four continents in which it has been my good fortune to see active service.”

BEWAAR ‘N ERFENIS EN BOU ‘N TOEKOMS

Bogenoemde is die titel van ‘n video-opname wat gemaak is tydens die 110-jarige herdenking van die teregstelling van Gideon Scheepers op Graaff-Reinet en wat in DVD-formaat beskikbaar is.  Dit is Suidland Media se eerste eie produksie en bestaan uit twee DVD’s met ‘n totale speeltyd van ongeveer 5 ure.  Benewens voordragte en beeldmateriaal oor Gideon Scheepers en die rol wat Graaff-Reinet in die vorming van ons geskiedenis gespeel het, bevat dit ook uittreksels uit die DVD’s wat Suidland Media te koop aanbied.  Ingeslote is ‘n mediavrystelling met meer besonderhede daaroor.

Die produksie is gedoen om belangstelling in ons geskiedenis aan te wakker en om die historiese erfenisprojek van Suidland Media bekend te stel.  Daarom wil ons dit graag so wyd as moontlik versprei.  Lesers van hierdie brief kan vir ons daarmee help deur die volgende te doen:

Laai die DVD’s van Suidland Media se webtuiste af (www.suidland.com), of koop dit teen die baie spesiale prys van R50 (vir beide), kyk daarna, dupliseer dit (ons hou geen verspreidingsregte daarop nie) en versprei dit asb so wyd moontlik.

ONTSLUIT DIE KRAG VAN DIE GESKIEDENIS

Die totale reeks van Suidland Media se DVD’s en CD’s bestaan nou uit 54 DVD’s en 7 CD’s.  Die volledige lys is hierby aangeheg.

Ons wil ‘n beroep op die ouers van ons volk doen om hierdie materiaal aan te skaf en saam met hulle kinders daarna te kyk en te luister.  Op dié wyse kan hulle ure se kwaliteit-tyd saam   deurbring, aan hulle kinders die erfenis oordra wat hulle geboortereg is en die verlangde volkseenheid reeds op gesinsvlak begin vestig.

Ons wil ook graag alle lesers van hierdie brief vra om dit so wyd moontlik te versprei.  Die uitvoering van ‘n testament is eers afgehandel wanneer die erfgename die erfgoedere in besit geneem het.  Laat ons dus die kinders van ons volk in kennis stel van die erfgoedere wat aan hulle behoort en so die latente kragte, wat in die geskiedenis opgesluit lê, ontsluit.

Afrikanergroete

FRIKKIE STRAUSS