"Laat ons hier die hande ineenslaan om gesamentlik ons kragte in te span om daardie deel van die Volk wat aan die sink is, van verval te red. Dit baat ons nie om monumente vir die dooies op te rig as ons die lewendes laat verlore gaan nie. Dit baat ons nie om die deugde van die dooies te verkondig as ons toelaat dat die lewendes in sonde en ellende versink nie. Het ons nie in die afgelope tyd verskynsels gesien wat ons waarsku dat die vinger reeds aan die muur is om die "Mene, Mene", oor ons volk neer te skryf nie? Mag dit genadiglik verhoed word!"
Daar word vandag landswyd groot ophef gemaak van die vrou in die Nuwe Suid-Afrika. Hierdie ANC-dag nie gaan om die verering van die vroue in ons Afrikanervolk nie maar om die oorwinning in die ANC se jarelange sataniese "struggle" van bomme, landmyne en moorde op die burgers van Suid-Afrika, en die uitfasering van elke Afrikanergedenkdag waarop al hul Nuwe Suid-Afrika-vakansiedae geskoei is. Die stryd teen die witman is nog nie op 'n einde nie want die blanke is nog sigbaar hier aan die suidpunt van Afrika. Daarom sal die moderne vrou eersdaags nog 'n keer soos in die Tweede Vryheidsoorlog getoets word om te sien of haar staal sterk genoeg is om ons volksvoortbestaan te help verseker. En daarom is dit gepas om op hierdie dag aandag te gee aan die werklike vrouehelde van ons volk en daaruit te leer en te put wat ons kan.
Terwyl pres. Steyn nog in Europa was om sy gesondheid te herwin, het hy dikwels gesê dat indien die Here hom spaar en hy na sy vaderland kan terugkeer, hy hom sal beywer vir die oprigting van 'n monument ter ere van die duisende vrouens en kinders wat in die konsentrasiekampe hulle lewe vir volk en vaderland gelaat het.
Onmiddellik na sy terugkeer het hy dan ook die taak aangepak. 'n Komitee is in die lewe geroep, geld is ingesamel en op 16 Desember 1913 kon die onthulling van die Nasionale Vrouemonument plaasvind.
Emily Hobhouse het spesiaal uit Europa gekom om die onthulling waar te neem, maar tot groot teleurstelling van almal, het haar gesondheid haar nie toegelaat om verder as Beaufort-Wes te reis nie. Mev. Steyn moes dus haar plek inneem. President Steyn sou die hoofrede hou. Ook sy gesondheidstoestand was so ellendig dat hy alleen gesteun aan beide arms en met groot pyn die plegtigheid kon bywoon. Self kon hy sy toespraak nie lewer nie, maar hy het dit noukeurig uitgeskryf en dit is deur Rocco de Villiers, 'n oud-sekretaris en lid van die President se oorlogspersoneel gelees:
ONTHULLING VAN DIE NASIONALE VROUEMONUMENT, 1913.
Alvorens ek oorgaan om mevrou Steyn te versoek om die monument te onthul, wil ek, namens die ganse volk, ons diepe, teleurstelling uitspreek dat mejuffrou Hobhouse, nadat sy duisende myle gereis het, deur haar swak gesondheid verhinder is om verder voort te gaan en gedwing is, nadat sy Bloemfontein byna bereik het, om terug te keer na die kus en so verhinder is om vandag hier teenwoordig te wees en hierdie monument te onthul.
Ons weet dat sy van die begin af, as 't ware, haar lewe in haar hand geneem het, om die laaste eer aan die vrouens en kinders van ons volk, vir wie sy in die verlede soveel gedoen en gely het, te bewys. Die moeite en selfopoffering wat sy haar vir ons volk getroos het, het by ons 'n gevoel van diepe en innige dankbaarheid opgewek. Ons bede is dat sy nog lank gespaar mag bly.
Die naam van Emily Hobhouse is een van die geliefde name in Suid-Afrika en uit menige moederhart gaan nog gedurig die gebede op "God seën haar".
Aan die voet van hierdie monument wil ek haar, namens daardie Volk, dank vir wat sy in die verlede vir ons vrouens en kinders gedoen het. Ook dank ek, nie alleen haar en haar medewerksters nie, maar ook al die goeie Samaritane in Nederland en elders in Europa, Amerika en Suid-Afrika, wat in die donkere dae hulle harte en beurse vir ons dierbares geopen het. Die dade van Christelike liefde is diep in ons harte geplant en sal van geslag tot geslag gedooi.
Hierdie monument staan nie hier om enigiemand te pynig nie of om as 'n ewigdurende verwyt te wees nie; maar dit is hier geplaas uit reine piëteit. Dit is opgerig nie alleen uit die rykdom van rykes nie, maar veral uit die armoede van die armes. Dit is 'n Volkshulde aan die nagedagtenis van ons dierbares.
Wie herinner hom nie die dae toe die doodsengel moeg en mat geword het van sy treurige werk in hierdie land nie? Toe hy byna geen enkele Boere-woning gevind het waar die syposte en drempel van die deur die bloedtekens van vryskelding gehad het nie? Toe in baie gevalle, nie alleen die eersgeborene geëis is nie, maar dikwels die hele kroos met die moeder daarby? Toe was dit dat die Afrikaanse vrou, wat reeds 'n eervolle rol in die geskiedenis van Suid-Afrika gespeel het, 'n heldemoed en 'n vaderlandsliefde geopenbaar het wat die agting en die bewondering van die vreemdeling afgepers het en die trots en die liefde van haar eie volk in 'n nog grotere mate haar deel gemaak het.
Wie van ons wat in die dae van kommer en sorg die leiding van sake in hande gehad het, herinner hom nie hoe die vrouekampe en die vrouelaers buite in die veld die kommando's keer op keer met nuwe moed besiel het nie. Is dit dan 'n wonder dat daar 'n begeerte by die mans ontstaan het om 'n gedenkteken op te rig vir die Heldinne, met hulle kinders, wat hulle lewe gelaat het?
Is dit dan 'n wonder dat ons verlang om vir die nageslag 'n herinneringsteken op te rig waardeur hulle herinner sal word aan die geduldige lyding, die selfopofferende vaderlandsliefde en die vertroue op die Almagtige, in die kampe aan die dag gelê?
Die lyding is met moed en geduld gedra. Weggeskeur van hulle wonings waarvan hulle hul die brandende puinhope herinner as 'n laaste aandenking, opgesluit in kampe, soms afgeskei van 'n deel van hulle kinders, onbekend waar hulle hul mag bevind, nie wetende of hul vaders en broers of eggenote nog in die lewe is nie, moes hulle, dikwels baie fynbeskaafd, hul in ongerieflike tente behelp, met karige voedsel en 'n paar stukke kleding en beddegoed, wat inderhaas aan die vlamme ontruk is.
Hierdie eentonigheid, ja selfs van die dood, was dodend. Die onsekerheid van wat daar buite gebeur, moes verlammend gewees het, want selde het daar juiste of bemoedigende berigte gekom om hulle op te beur.
Die onwaarheid wat dit ten doel gehad het om die moed en vertroue te breek, het dag na dag in die kampe rondgegaan.
Dit is iets skoons om daar op die veld, in die vrye, staande te bly, strydende, en indien geëis, sterwende vir die Vaderland, maar veel skoner was dit vir die swakke vrou om onder daardie siele- en liggaamlike lyding, haar las te dra.
As dit soet is vir die held om vir die Vaderland te stry, en, met roem belaai, hom op te offer vir Vryheid, Volk en Vaderland, wat 'n eerbied dwing die vrou nie af nie, wat reeds self in die kloue van die dood, liefling na liefling in die graf sien daal, en tog!! met fierheid die hoof omhoog hou, en haar eggenoot en seuns op die slagveld aanspoor om hulle oor haar nie te bekommer nie, maar in die stryd te volhard!
So was daar duisende!!!
Wat was die krag wat van die swakke vrouens sulke heldinne gemaak het? Dit was daardie vaste vertroue in die Almagtige, wat die lot van die volkere bestier, en wat gesê het: "Ik zal u niet begeven, Ik zal u niet verlaten". Dit was geen bygeloof of verrukking van sinne nie. Dit was hulle sielsoortuiging dat daardie geloof hulle nie sal beskaam nie.
Gelukkig 'n volk wat sulke vrouens het; en 'n volk wat uit sulke vrouens gespruit het, het vir sy toekoms niks te vrees nie.
Hierdie monument staan dus hier, nie om haat aan te wakker nie, maar om die liefde te bewonder; want ek voorsien die dag dat elke deel van die Suid-Afrikaanse volk — van watter oorsprong dit ook mag wees — indien met die ware Suid-Afrikaanse gees besiel, die deugde, deur hierdie monument verewig, as sy maatskaplike erfdeel sal beskou.
Ons beveel dus hierdie monument aan die sorg van die bestuur en die inwoners van Bloemfontein, in die besonder, en aan die Afrikaanse volk, in die algemeen.
Mag dit hier staan om inspirerend op die volk te werk. Laat elkeen wat byna ondraaglike laste het, hierheen kom en op die monument starende, nuwe moed skep om voort te wandel, totdat Gods wil volbring is.
As daar iemand is van wie die Volk en Vaderland groot en sware eise vorder, laat hierdie monument hom leer tot watter offers vaderlandsliefde bereid is. Maar veral, as daar iemand is in wie die materialistiese eeu waarin ons lewe, die swarte vertwyfeling in die hart geplaas het, laat hom hier kom en sien wat 'n waaragtige geloof kan doen.
Laat ons by hierdie monument opnuut ons lewe wy aan die diens van ons Land en Volk.
Laat ons hier die hande ineenslaan om gesamentlik ons kragte in te span om daardie deel van die Volk wat aan die sink is, van verval te red.
Dit baat ons nie om monumente vir die dodes op te rig nie, as ons die lewendes laat verlore gaan.
Dit baat ons nie om die deugde van die dodes te verkondig nie, as ons toelaat dat die lewendes in sonde en ellende versink.
Sien ons nie dat andere gereed staan om diegene wat ons verwaarloos, op te neem, en hulle van hulle Volk en dié se geloof en tradisies te verwyder nie?
Een ding staan vas! — dat ons as 'n Volk sal ophou om te bestaan, indien ons volhard om voort te wandel met die Kaïns-vraag op die lippe: "Is ek my broer se wagter?"
Het ons nie in die afgelope tyd verskynsels gesien wat ons waarsku dat die vinger reeds aan die muur is om die "Mene, Mene", oor ons volk neer te skryf nie? Mag dit genadiglik verhoed word.
Laat ons hier by die monument die teenswoordige, met al sy stryd en bitterheid, vergeet en ons terugplaas in die verlede. En as ons die sorg en kommer, die leed en lye van daardie verlede herinner, mag ons dan genade kry om, sonder enige verwyt, wrewel of haat in die hart — daar ons die diepe wysheid van die Almagtige nie kan peil nie — ons hoofde nederig te buig en ootmoediglik te sê: "Vader! U wil geschiede."