IS DIE AFRIKANERVOLK “RIGTING- BEDUIWELD”?

Hannes Ollewagen

Is dit nie opvallend oor hoe die media, veral NASPERS, deesdae nie kan wag om berigte en artikels die lig te laat sien wat handel oor hoe “rigtingbeduiweld” die Afrikaner van vandag is nie?  Wanneer ek om my kyk, kan ek nie heeltemal met die joernaliste verskil oor hul bevindinge nie, maar wat vir my baie interessant is, is dat dit baie duidelik uit hul teenstrydige berriggewing blyk dat hulself maar nie te seker is waarheen hul oppad is nie, maar dit daar gelaat.

Myns insiens is ons volk nie net “rigtingbeduiweld” nie; NEE! Ons is blind.  Ons wonder nie net watter kant toe nie, ons het geen idéé van wat werklik om ons aan die gang is nie.

  Jes: 29:9-12: “Vertoef, en verwonder julle!  Wees blind en verblind!  Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie.  Want die Here het oor julle uitgegiet ‘n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë – die profete – toegesluit en julle hoofde – die sieners – toegebind.  So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van ‘n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde:  Lees dit tog!  Maar hy sê:  Ek kan nie, want dit is verseël.  Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde:  Lees dit tog! Maar hy sê:  Ek kan nie lees nie.”

Nou is die vrae op baie se lippe seker: Maar waarom sou ons liefderyke en genadige God sy volk dan hierdie groot smaadheid aandoen?  Waarom sou Hy ons met blindheid slaan en ons dan boonop verlaat?

Hoe dikwels hoor ons nie volksgenote wat sê dat God ons verlaat het nie?  Die antwoord hierop is eenvoudig:  Dit is nie God wat sy volk verlaat het nie, maar dat dit ons (sy volk) is wat Hom die rug gekeer het!!!  Jes: 1:4: “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel!  Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai.”  Ons behoort ons koppe in skaamte te laat sak oor ons groot onreg om die Heilige van Israel te verruil vir nietige afgode soos ook die geld- en sportgode!

Omdat ons weet dat God ‘n genadige en barmhartige God is, weet ons ook dat Hy dus ons nie altyd as blindes al soekende en verward sal laat rondtas na wanhopige redding nie.  Nee, Hy sal ons oë open sodat ons weer kan sien.  Namate Hy elkeen van ons se oë oopmaak, laat Hy ons onmiddellik soek na ons rigtingwyser om ons uit ons verdwaalde, onsekere huidige toestand uit te lei.  Daardie rigtingwyser is natuurlik die onfeilbare Woord van God, die Heilige van Israel.

Voordat ons nie die rigting bepaal waarin ons moet gaan nie, is dit doelloos om planne te beraam oor HOE om by ons bestemming uit te kom, nie waar nie?

Jes. 30:15: “Want so sê die Here, die Heilige van Israel:  In terugkeer en rus lê julle heil, is stil wees en vertroue bestaan julle krag..."