Kriewelkop
As gelowige Boerevolk het ons vandag die versekering dat God 'n deel van ons volk nie die knieë voor Baäl laat buig het nie, net soos Hy aan Elia gesê het toe dié gekla het dat die hele volk ten gronde is: dat Hy vir Hom 7 000 man uitgehou het en dat Hy dit in "teenswoordige tyd" weer sal doen – uit suiwer genade, nie uit ons verdienste nie. Daarom mag ons daarop staatmaak!
Maar ons sal veral in die nuwe jaar wat om die draai op ons wag nodig hê om baie goed toegerus te wees om staande te bly in die stryd wat op ons wag. In Josua 1 vers 9 het die Here vir sy geroepe dienskneg gesê: “Wees sterk en vol moed. Wees nie bevrees of verskrik nie, want die Here is met jou, oral waar jy heengaan.” Die dapper Josua het dit geglo en met bomenslike krag met die hulp van die Here, Israel se vyande verslaan en die beloofde land weer in besit geneem. In die krag van die Here sal ons weer 'n Christenregering kry en dié land word waarheen kinders van God in 'n tyd van wêreldwoelinge 'n heenkome sal vind.
Ook die geskiedenis van die onverskrokke Gideon wat met net 300 man en die hulp van die Here die duisende Midianiete verslaan het, is daar om ons tot bemoediging te strek. So was daar ook in die geskiedenis van ons klein dapper volkie manne soos Christiaan Rudolf de Wet en Jacobus Herculas de la Rey wat ook met die hulp van die Here die demoniese Britse magte drie jaar lank weerstaan en teruggeslaan het. Ons moet dalk weer die woorde van genl De Wet in herinnering roep:
" Alhoewel ons vandag onder 'n vreemde vlag verkeer wat ons nie kan liefkry nie, moet ons altyd daaraan dink hoeveel jare Israel 'n verdrukte volk was. God het vir hulle 'n Rooi See gehad, en dit was hulle redding. Ons volk is vandag ook opweg na 'n Rooi See... wat ook in twee sal oopgaan om ons in staat te stel om daardie vryheid tegemoet te gaan." - Christiaan Rudolph de Wet, 7 Oktober 1919, op sy verjaarsdag. "Ek doen 'n kragtige oproep tot elke Afrikaner om die vryheidsgees nie te laat uitsterf nie. Al is ons vandag nog in bande en al rus die verdrukking nog op ons, tog moet ons altyd dink aan wat Israel moes deurgaan... Daar moet 'n einde kom aan alle verdeeldheid onder ons: die tyd het aangebreek dat die Afrikanervolk vreedsaam bymekaar moet kom in een kraal..."
Daar het nou weer ‘n tydperk in ons geskiedenis aangebreek waar die Here self vir ons ‘n leier moet aanwys om ons te verlos van die demoniese vyand wat ons tans onderdruk. Sal ons volksgenote nie ernstig saam op die knieë gaan en bid dat God vir ons weer so ‘n man sal voorsien nie? So ‘n leier vir wie die Here sê: “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie, want Ek is met jou, oral waar jy gaan!” , sal met die hulp van Bo in staat wees om ons te verlos en te bevry van hierdie helse magte wat ons vermoor en teen ons oorlog voer.
As u nie meer die vrymoedigheid het om met God in gesprek te tree nie, dink asseblief aan u kinders en kleinkinders in hierdie land waar daar net 'n toekoms vir hulle kan wees indien ons na Hom terugkeer en voor Hom verootmoedig. Net Hy kan ons uit hierdie moordende juk verlos. Gaan dan op u knieë en maak in hierdie tyd wat voor ons lê daarmee erns. Bid vir u familie, u volk, u land en boweal vir 'n Godsvresende leier wat ons verdwaalde volk weer rigting sal gee.