Andrè van den Berg
Geskiedenis is die wetenskap van dinge wat nie tweemaal presies dieselfde gebeur nie. Daarom behoort ʼn volk se geskiedenis vir hom belangrik te wees omdat dit wat hy daaruit leer, sy toekoms grootliks beïnvloed. Hy kyk as’t ware met sy verlede na die toekoms. Dit word terugwaarts verstaan ten einde vorentoe te kan leef.
Oral waar ʼn regering nie daarin kon slaag om ʼn sinvolle toekoms vir sy burgers te skep nie, het huidjie en muidjie die geskiedenis afgetakel. Straatname is verander en standbeelde beskadig.
Die geskiedenis word egter nie deur minderwaardige optredes ongedaan gemaak nie. Die geskiedenis leer die mensdom om nie foute te herhaal nie en verantwoordelik met die toekoms om te gaan. Daarom bewaar die geskiedenis nie net die groot dade van die verlede nie, maar is dit ook ’n voorbeeld en leermeester van die hede sowel as ʼn waarskuwing vir die toekoms. Daarom verdien ʼn volk wat sy rug op sy geskiedenis draai, om onder te gaan. As hy nie uit die geskiedenis leer nie, word hy daardeur vernietig.
Ongelukkig stel baie van ons volksgenote nie in hul volksverlede belang nie. Geskiedenis is vir hulle niks anders as ’n register van die misdade, dwaashede en rampe nie - mislukte planne en teleurstellende verwagtings. Nee, die geskiedenis is lewendig. Dis ’n gesprek sonder einde.
Afrika se geskiedenis lyk egter anderst. Dit herhaal homself eers as ’n tragedie en daarna as ’n klug. Dis ʼn aanhoudende ontkenning van onomstootlike feite en geskiedkundige bewyse. En telkens as die geskiedenis hom hier herhaal, gaan die prys op. Afrika verstaan baie duidelik nie die helfte van die geskiedenis nie. Die ander helfte verwar hulle net!
Sonder kennis van sy herkoms, geskiedenis en kultuur het ʼn volk geen wortels nie. Laat ons as Boerevolk vorentoe beweeg sonder om ons verbintenis met ons trotse geskiedenis te verbreek. Kom ons hou opnuut aan die beproefde dinge van die verlede vas. Dit durf nooit vir die onsekerhede van die toekoms verpand word nie. Laat ons die onsekere toekoms binne-ry deur gereeld in ons truspieël te kyk.
Die ANC kan gerus een les leer – moenie die geskiedenis aanval as jy nie ʼn toekoms kan skep nie. Want dan gaan die geskiedenis dit wat jy nie geleer het nie, by wyse van flaters in die toekoms uitwys!