BRING DR VERWOERD WEER TERUG IN ONS HARTE
Frikkie Strauss
Op Dinsdag 6 September 1966 om 14h15 het Dr H F Verwoerd, sesde Eerste Minister van Suid-Afrika in die Volksraad gesterf nadat 'n dolksteek van 'n sluipmoordenaar deur sy hart gegaan het.
Nou, 50 jaar later kan daar geen twyfel bestaan dat dit 'n waterskeidingsgebeurtenis in die lewe van die Afrikanervolk was nie. Dit het 'n einde gebring aan 'n tydvak van ongeëwenaarde, groeiende prestasies op militêre, politieke, geestelike, ekonomiese en ander terreine sedert ons volk in die laat agtiende eeu tot 'n bewuswording van sy afsonderlike identiteit as 'n volk gekom het. Terselfdertyd het dit 'n halwe eeu van abdikasie en kapitulasie ingelui wat in sy spoed en intensiteit waarskynlik ook ongekend in die geskiedenis van volkere is.
Daar kan ook geen twyfel wees dat, as dié proses toegelaat word om so voort te gaan, dit uiteindelik op die totale vernietiging van ons volk sal uitloop nie. As ons as 21ste eeuse Afrikaners die voortbestaan van ons volk wil verseker en 'n toekoms vir ons kinders wil skep, is dit dus van kritieke belang dat ons die ware feite van die geskiedenis bemagtig en die regte perspektief daarop vorm.
Winston Churchill, voormalige Britse Eerste Minister, het by geleentheid gesê: Hy wat die diepste in die verlede inkyk, kan die verste in die toekoms insien.
Die vyftigjarige herdenking van die sluipmoord op Dr Verwoerd bied aan ons die geleentheid daartoe.
Deur die kollig te laat val op die ware feite oor Dr Verwoerd se lewe en die tydvak waarin hy geleef het, kan ons die valse beeld omtrent hom, wat ons as volk in 'n valse staat van beskuldiging geplaas het ontbloot en vernietig.
Sedert Dr Verwoerd se dood het daar 'n hele nuwe geslag Afrikaners opgestaan wat in hulle lewe bykans niks goeds van hom gehoor het nie. Aan hulle is hy voorgehou as 'n verwerplike persoon wat geen agting of respek verdien nie.
Hierdie verwronge beeld van Dr Verwoerd moet nie alleen vernietig word nie; in die plek daarvan moet 'n ware, lewensgetroue beeld van hom geskep word waardeur hy sy verdiende plek in ons galery van volksleiers kan inneem. Daar moet ook 'n ware, feitegebaseerde geskiedenisbeeld geskep word waardeur ons volk weer sy selfrespek kan herwin, die wêreld as 'n volk in die oë kan kyk en sy verantwoordelikheid opneem om 'n toekoms vir sy nageslag te skep.
Dr Verwoerd se lewe is inderdaad 'n gedenkwaardige lewe. Ondanks die feit dat daar na sy dood begin is met 'n proses om sy nalatenskap af te breek, kan al die goeie dinge wat ons vandag nog in Suid-Afrika geniet toegeskryf word aan die ordelike samelewing wat deur hom en andere voor hom deur hulle visionêre en beginselvaste denke en dade in Suid-Afrika geskep is.
Ons het 'n spreekwoord wat lui:
Uit die oog uit die hart.
Dit beteken dat as jy vir 'n lang tyd niks van 'n ander persoon hoor of sien nie, jy mettertyd van hom/haar vergeet en later ook jou toegeneentheid teenoor hom/haar verloor. Vanweë die sluier wat daar oor die postiewe aspekte van Dr Verwoerd se lewe en werk getrek is, is dit presies wat met hom gebeur het.
Dit het egter nie daar geëindig nie. Deur die doelbewuste verkondiging van leuens oor hom is daar vyandigheid en selfs haat teenoor hom in die harte van ons volk opgewek.
Die verantwoordelikheid lê nou op ons, as verteenwoordigers van ‘n geslag wat hom geken het of oor inligting oor hom beskik, om Dr Verwoerd weer terug te bring in die harte van ons volk.
Daar is 'n bykans onuitputlike veelheid van maniere waarop ons die lewe van Dr Verwoerd kan herdenk. Ons noem enkeles daarvan.
HERDENKINGSBYEENKOMSTE
Daar behoort op elke plek in Suid-Afrika waar Afrikaners woon 'n herdenkingsbyeenkoms gehou te word. Daarvoor moet herdenkingskomitees gestig word. 'n Kransleggingsgeleentheid by sy graf in die heldeakker in Pretoria is so 'n geleentheid – daar is reeds jaarliks so 'n byeenkoms wat met die 50e hierdie jaar net uitgebrei kan word. Dink net watter saambindende krag dit kan hê op al die Afrikanerorganisasies in Pretoria en omgewing wat kan saamwerk om 'n paar duisend mense by dié geleentheid saam te trek. Daardeur sal ons ook 'n duidelike boodskap uitstuur dat ons as 21ste eeuse Afrikaners ons nie skaam vir 'n geliefde en geëerde volksleier nie.
Dit sal ook aan ons die geleentheid bied om die God van ons vaders te dank dat Hy ons begenadig het om so 'n leier aan ons te skenk.
By die herdenkingsbyeenkomste kan daar op verskeie fasette van Dr Verwoerd se lewe gefokus word en dit sal bepaal word deur die fokusareas van die organisasies wat die herdenkings inisiëer.
Politieke partye sal byvoorbeeld tipies fokus op sy politieke prestasies, soos sy aandeel in die 1948-verkiesingsoorwinning in sy hoedanigheid as redakteur van Die Transvaler, sy rol in republiekwording en in die vestiging van die beleid van afsonderlike ontwikkeling in Suid-Afrika.
Welsynsorganisasies kan fokus op sy bydrae tot die verligting van die armblankevraagstuk van die dertigerjare.
Dan is daar nog sy betrokkenheid by die Groot Trek herdenking van 1938 en Dr Verwoerd as Christen en gesinsman, om enkele voorbeelde te noem.
GEDRUKTE MEDIA
Daar bestaan 'n hele aantal nuusblaaie wat deur volksgerigte Afrikaner-organisasies versprei word. Deur in die volgende paar maande gereeld artikels oor Dr Verwoerd te plaas kan hulle 'n groot bydrae tot die herdenking lewer.
Ons moet egter ook verwag dat daar in die aanloop tot 6 September 'n ekstra salvo vanVerwoerd-afbrekende artikels en briewe in die Afrikaner-vyandige koerante en tydskrifte afgevuur sal word. Ons kan seker wees dat dit leuens en verdraaiings van die waarheid sal wees, want dis die enigste manier om Dr Verwoerd aan te val. Dis onmoontlik om hom aan te val deur die waarheid oor hom te skryf. Na elke sodanige verskyning behoort daar 'n vloedgolf van briewe te wees waardeur die waarheid oor hom verskaf word.
ELEKTRONIESE MEDIA
In die hedendaagse samelewing is die elektroniese media 'n magtige instrument waardeur honderde duisende mense teen baie lae koste bereik kan word. Voorbeelde hiervan is die internet, e-posse en sosiale media soos Facebook, Twitter en Whatsapp.
Ons wonder of daar nie mense is wat inisiatiewe in hierdie verband wil begin nie.
DIGITALE MEDIA
Die digitale media soos CD‟s en DVD‟s bied ook baie geleenthede. Daar is ongelukkig baie min oor Dr Verwoerd beskikbaar. Lees meer hieroor onder die opskrif Suidland Media herdenk Verwoerd.
RADIOGOLWE
Daar bestaan tans 'n groot aantal onafhanklike radiostasies in Suid-Afrika, sommige waarvan die Afrikanersaak goedgesind is. Hulle kan óf deur redaksionele dekking óf deur advertensies benut word om die Verwoerdboodskap uit te dra.
SELFBEMAGTIGING
Salomo sê in Spreuke 24:4 “‟n Wyse man is sterk en 'n man van kennis ontwikkel krag.”
Vir enige persoon om 'n sinvolle bydrae te lewer tot die voorgestelde aksies hierbo, moet hy/sy die nodige kennis van Dr Verwoerd en die geskiedenis van sy tyd hê. Dit kan onder andere van die internet af gekry word. Daar is egter ook baie boeke oor Dr Verwoerd geskryf wat in biblioteke beskikbaar is. Sommige van hulle is nog in die handel beskikbaar.
Vir inligting daaroor kan die volgende boekwinkels gekontak word:
Bienedell Uitgewers (012 –329 4083) Hutten Buchdienst (012 –8070434)Protea Boekwinkel (012 –362 5663)