DIE WARE VERWOERD

Leer hom ken by www.hfverwoerd.net.

Frikkie Strauss

Gedurende die leeftyd van Dr Verwoerd, maar veral na sy dood, is daar baie oor hom geskryf. Dit het bestaan uit toesprake van hom soos opgeteken in die notules van die Volksraad, ander toesprake wat opgeteken is in boeke, tydskrifte en koerante en uit baie boeke en artikels oor hom wat na sy dood verskyn het. Dit is te betwyfel of daar oor enige Suid-Afrikaanse staatsman soveel literatuur beskikbaar is. Alles lê ongelukkig in biblioteke, argiewe, museums en ander plekke van bewaring waar dit baie moeilik toeganklik is. Sover ons kennis strek, is daar tans net een boek oor Dr Verwoerd in die handel beskikbaar.

Ten einde inligting oor Dr Verwoerd vir die breë publiek toeganklik te maak, is ‘n webtuiste oor hom geopen. Soos die titel Die ware Verwoerd aandui, wil ons graag daarmee die ware Dr Verwoerd aan sy nageslag bekendstel. Op die webtuiste sal u inligting vind oor die lewe, werk en dood van Dr Verwoerd, inligting waaroor die meeste 21ste eeuse Afrikaners óf nog nooit beskik het nie óf vergeet het.

Daar is ook ‘n bepaalde perspektiewe oor die lewe van Dr Verwoerd. Daar word verduidelik waarom die herdenking van sy lewe nodig en van waarde is vir hedendaagste Afrikaners en vir die skepping van ‘n toekoms vir ons kinders. Die ware feite oor hom word gestel teenoor die leuens wat oor hom versprei is en daar word gefokus op die herontdekking van die era van Verwoerd in die geskiedenis in ons land. Ten slotte vind u inligting oor aksies ter herdenking van sy lewe wat reeds aan die gang is en wat in die vooruitsig gestel word.

Neem asseblief die tyd om hierdie webtuiste te besoek. Dit sal vir u ‘n waardeskeppende en positiewe ervaring wees. U sal kennis maak met ‘n merkwaardige man, van die soort waarvan daar net een elke paar eeue op die wêreldtoneel verskyn. U kan die webtuiste vind by www.hfverwoerd.net.

Behalwe geskrifte oor Dr Verwoerd is daar twee kort Engelse films oor hom gemaak. Die een handel oor sy staatsbeleid (May we never forget) en die ander oor sy dood (The Assassination of Verwoerd). Daar kan na hierdie twee films op ons webtuiste gekyk word. May we never forget verskyn onder Die Werk van Verwoerd en The Assassination of Verwoerd onder Die Dood van Verwoerd. Daar mag lesers wees wat verskil van sommige van die sieninge wat in laasgenoemde film uitgespreek word. Die basiese feite oor die moord op Dr Verwoerd is egter grootliks korrek.